Categories: Artikels, WielePublished On: 25th August 2026

2026 GAC GS3 Emzoom Nova

1090 words

2026 GAC GS3 Emzoom1.5T Nova Front side image supplied

Die GAC GS3 Emzoom, wat in een van die mees mededingende segmente meeding, het aanvanklik maar ‘n opdraende pad geklim, grootliks te wyte aan onmededingende pryse. Die byvoeging nou van ‘n aansienlik meer bekostigbare intreevlakweergawe bekend as die Nova, behoort die vooruitsigte vir groter verkoopsyfers te verbeter.

Agtergrond

GAC Motor is in 2024 in Suid-Afrika bekendgestel met die toetrede van die Salvador Caetano Groep, wat die verspreiding, verkope en naverkoopdiens plaaslik hanteer. Die GS3 Emzoom, ‘n klein, voorwielaangedrewe turbopetrol kompakte SUV is destyds ook bekendgestel met hul toetrede, en is geposisioneer as ‘n alternatief vir die Haval Jolion Pro, Omoda C5, Chery Tiggo Cross en Toyota Corolla Cross wat toe die segment gedomineer het.

Terwyl die Emzoom as ‘n goed ontwerpte motor die oog getref het, was die bekendstellingsprys net te hoog vir die kopers om ‘n onbekende nuweling dadelik te omhels. Die prys is derhalwe in Januarie 2025 verlaag.

Onlangsin 2026 het die GS3 Emzoom egter ‘n intreevlak 1.5T Nova by die modelreeks gevoeg wat hopelik tot groter sukses met verkope sal lei.

Met laer spesifikasievlakke en ‘n aantreklike prys van R359 900 kompeteer die Emzoom GS3 Nova nou teen dieselfde prys as die Chery Tiggo Cross 1.5T Million Edition en is boonop nou slegs R20 000 duurder  as die intreevlak Omoda C5 1.5T 230T Street+, twee van die Nova se direkte teenstanders in hierdie hoogs mededingende segment.

Voorkoms en ontwerp

Ons toetsmotor was afgewerk in ‘n treffende metaalrooi wat die GS3 Emzoom se treffend ontwerp en sportiewe voorkoms beklemtoon en het gevolglik ook onmiddelik aandag trek. Die2026 GAC GS3 Emzoom is sekerlik  tans een van die mooier kompakte SUV’s (dalk meer bekend as ‘n Crossover”) in Suid-Afrika.

Die nuweling se ontwerp bied ‘n dapper, sportiewe voorkoms met sterk aksentlyne en ‘n treffende vooraansig.

Die Nova se lengte van 4 410 mm, ‘n breedte van 1 850 mm en ‘n hoogte van 1 600 mm op ‘n asafstand van 2 650 mm, bied die regte afmetings en grootte om in hierdie segment sy-aan-sy met sy meeste mededingers mee te ding. Met 17” allooiwiele staan die Nova 190mm bo die grond vir gemaklik ry op ‘n tweespoorpad.  Aërodinamiese deurhandvatsels wat in die deure invou is meer te wagte op veel duurder voertuie en dra by om die Nova se algehele voorkoms te komplimenteer.

Kajuit en toerusting

Die Nova se kajuit is pragtig modern en uitstekend sportief uitgelê soos ook te vinde by die ander Emzoom modelle en is na ons mening klasleidend in hierdie segment.

In die middel op die voorpaneel is ‘n 10,25-duim-aanraakskerm wat gemaklike en intuïtiewe toegang bied tot voertuig-, rit-, klank-en kommunikasie stelsels danksy die beskikbaarheid ondermeer van  koorddlose Apple CarPlay en Android Auto.

Sleutellose toegang met afstandbeheer, ‘n elektroniese parkeerrem, heuwelwegtrekhulp en ‘n multifunksiestuurwiel asook, spoedbeheer om maar net enkeles te noem, bied ‘n redelik goed toegeruste kajuit aan insittendes.

Die harde plastiek oppervlaktes in die kajuit tekenend van hierdie segment is egter goed verbloem, terwyl die sitplekke afgewerk is met ‘n sintetiese leer-en-materiaal-kombinasie, wat vir die prysklas geregverdig is.

Die Nova bied genoeg kajuitruimte met redelik kop-, skouer- en beenspasie vir 5 insittendes ook danksy die Nova se opmerklik wyer kajuit. Amptelik bied die Nova bagasieruimte van 341 liter met die agterste sitplekke regop geplaas. Platgeslaan vergroot dit na 1 271 liter volgens die vervaardiger se syfers.

Wat veiligheid betref skiet die Nova egter effe tekort in sy segment. Agterste parkeersensors is standaard, maar die afwesigheid van ‘n trukamera is betreuenswaardig en ongewoon in hierdie  segment. Verder bied die Nova slegs 2 lugsakke voor, maar kom standaard met elektroniese stabiliteitsbeheer en vastrapbeheer. Volgens GAC het die Emzoom reeks ‘n 5-ster ASEAN NCAP-gradering ontvang.

Enjin en verrigting

Die GAC GS3 Enzoom Nova  is toegerus met ‘n 1.5-liter, turbo-aangejaagde 4-silinder-enjin wat maksimum 130 kW en 270 Nm se piekkragte lewer. Hierdie klasleidende kragte sorg vir lewendige verrigting en maak ook die Nova een van die kragtigste motors in sy segment. Aandrywing na die voorwiele is danksy ‘n 7-gang dubbelkoppelaar-ratkas (DCT).

Amptelik word die 0-100 km/h aangegee as 8,0 sekondes, ‘n syfer wat die Nova boonop een van die vinnigste voertuie op papier in sy segment en teen sy prys maak. Die 130kW/270Nm van die Nova het gesorg vir uitstekende verbysteek versnelling selfs teen stywe opdraendes.

Brandstofverbruik in ‘n gemengde siklus word amptelik aangegee as 6,2 L/100 km vir die Nova. Tydens ons toetstyd het ons meer as ‘n 1000 km afgelê en het 7,6l/100km in ‘n gemengde gebruik van ooppadry en stadskruip behaal wat die Nova veel meer ekonomies maak as enige van die ander 1,5 liter turboaangejaagde viersilinder petrolenjins in enige van die ander Chinese vervaardigerde motors wat ons tot dese onder hande gehad het.

Die 47 liter kapasiteit van die brandstoftenk is egter na ons mening ontoereikend en bied ‘n reikafstand van minder as 600km.

Ritgehalte en paddinamika

Die GAC GS3 Emzoom Nova het ons verras met bogemiddelde ritgehalte, selfs op grondpad en het uitstekend hanteer op die ooppad met goeie greep, balans en stabiliteit en selfs wanneer daar effe gas gegee was deur uitdagende draaie en swiepe was bakrol merkbaar min. Stuurgevoel was ook relatief goed, waar die gewig en terugvoer aangenaam verras het in vergeleke met ander Chinese motors wat ons al bestuur het. Dit moet grootliks te danke wees aan die veerstelsel wat met gewone MacPherson-stutte voor en wringstawe agter werk en goed opgestel is.

Opsomming

Die GAC GS3 Emzoom Nova-model bied bogemiddelde waarde ten spyte van ‘n paar ongewenste

tekortkominge. Die Nova is byvoorbeeld kragtiger as meeste van sy segment teenstanders, bied goeie bestuurdersgerigte dinamika en hantering met boonop goeie ritgehalte.

Verder is die voorkoms en stilering modern en sportief en is eintlik goed gebou en afgewerk. Vir gemoedsrus is daar ‘n lewenslange enjinwaarborg vir die eerste eienaar en redelike goeie brandstofverbruik.

Aan die negatiewe kant is daar geen trukamera, slegs 2 lugsakke en ’n relatief klein reikafstand te wyte aan die 47liter brandstoftenkkapasiteit om maar net ‘n paar te noem. Dan is die 2-jaar/30 000 km diensplan die swakste tussen sy meedingers.

Tog bied die 2026 GAC GS3 Emzoom 1.5T Nova meer positiewe as negatiewe teen ‘n baie billike R359 900-00 wat vir baie kopers die deurslag sal gee in ‘n strawwe ekonomie.

KERNFEITE

Model                                   2026 GAC GS3 Emzoom 1.5T Nova

Enjin                                       1.5-liter, 4-silinder turbopetrol

Ratkas                                    7-gang DCT

Krag/Wringkrag                130 kW/270 Nm

Brandstofverbruik            6.2 L/100km Amptelik

0-100 km/h                         8.0 sekondes Amptelik

Bagasiekapasiteit             341/1 271 Liter

Prys                                        R359 900

Ingesluit by die prys bied die GAC GS3 Emzoom 1.5T Nova ‘n 5-jaar/150 000 km voertuigwaarborg en ‘n lewenslange enjinwaarborg vir die eerste eienaar wat na 5 jaar/150 000 km verander wanneer dit herverkoop word. Ook ingesluit is ‘n 2-jaar/30 000 km diensplan. Dienste moet met intervalle van 15 000 km of 12 maande gedoen word.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1