Categories: Artikels, GewasproduksiePublished On: 21st August 2026

Voersorghum: Die regte kultivar vir die regte doeleindes

By 8 min read
1583 words

sorghum_seedtop

Wanneer reën oneweredig in die somer val en warm, droë tydperke langer voortduur, raak voervloeibeplanning al belangriker. Die uitdaging is nie net om genoeg voer te produseer nie, maar om die regte tipe voer op die regte tyd beskikbaar te hê.

Voersorghum is ’n warmseisoengewas wat goed by hoë temperature aangepas is en, afhangend van die tipe en kultivar, vir beweiding, groenvoer, kuilvoer, hooi of staande wintervoer benut kan word. Die verskillende tipes verskil egter in groeivorm, hergroeivermoë, suikerinhoud, voedingswaarde en die manier waarop dit die beste benut word. Die belangrikste vraag by kultivarkeuse is daarom nie bloot hoeveel voer die gewas kan produseer nie, maar watter rol dit in die boer se voervloei moet vervul.

Kies die tipe volgens die voerbehoefte

Sorghum-soedangrasbasters pas goed waar vinnige vegetatiewe groei, beweiding en goeie hergroeivermoë belangrik is. Hulle kan gedurende die groeiseisoen meer as een keer benut word, mits voldoende grondvog en voedingstowwe vir hergroei beskikbaar is. Sorghum-soedangrasbasters word ook algemeen vir beweiding, groenvoer en kuilvoer gebruik. Soetsorghums word deur ’n hoë suikerinhoud in die stingels gekenmerk. Afhangend van die kultivar kan dit vir beweiding, groenvoer of kuilvoer benut word, terwyl sekere tipes ook geskik is om langer te staan vir latere benutting. Brown Midrib (BMR)-soetsorghums voeg ’n verdere eienskap by. BMR hou verband met ’n laer lignienvlakke, wat die potensiaal vir beter veselverteerbaarheid bied.

Hierdie verskille maak dit moontlik om ’n kultivar volgens ’n spesifieke voerbehoefte te kies, eerder as om te verwag dat een sorghumtipe elke rol moet vervul. AgroFors se voersorghumreeks bied verskeie kultivars vir verskillende benuttingsdoeleindes van herhaalde somer-beweiding tot groenvoer, kuilvoer en staande wintervoer.

Agrograze: Vir beweiding en hergroei

AgroGraze is ’n sorghum-soedangrasbaster wat veral pas waar beweiding en herhaalde benutting die hoofdoel is. Die gewas is blaarryk, groei vinnig en het goeie hergroeivermoë wanneer voldoende grondvog en voedingstowwe beskikbaar is. Dit kan gedurende die somer bewei of gesny word en daarna weer hergroei. Tydige benutting is belangrik. Namate die gewas ontwikkel, neem die hoeveelheid stingelmateriaal toe en kan die voedingswaarde afneem. Waar hergroei belangrik is, moet die gewas ook nie te laag afgewei of gesny word nie. Voldoende blaarmateriaal moet agterbly om vinnige herstel en hergroei te ondersteun. Hierdie beginsel geld algemeen vir sorghum-soedangrasbasters wat herhaaldelik benut word. AgroGraze pas dus goed waar gehaltesomerweiding oor meer as een benutting benodig word.

Seedtop: Vir beweiding en kuilvoer

SeedTop is ’n sorghum-soedangrasbaster met vinnige groei en goeie hergroeivermoë. Die kultivar pas goed waar die boer ’n somervoergewas benodig wat direk bewei kan word, maar ook vir kuilvoer geoes kan word wanneer voldoende voer beskikbaar is. Dit bied meer ruimte om die benutting gedurende die seisoen volgens die voerbehoefte en groeitoestande aan te pas. SeedTop bied dus ’n veelsydige keuse waar beweiding én kuilvoer deel van die voervloeibeplanning vorm.

Fatboy: Vir herhaalde benutting en bewaring van ’n voersurplus

FatBoy is ook ’n sorghum-soedangrasbaster met vinnige groei en goeie hergroeivermoë. Die kultivar pas veral waar die gewas meer as een keer gedurende die aktiewe groeiseisoen benut moet word. Dit kan bewei of gesny word en, wanneer voldoende grondvog en plantvoeding
beskikbaar is, weer hergroei. Waar die gewas vinniger groei as wat die vee dit kan benut, kan die voersurplus vir kuilvoer geoes word. FatBoy pas daarom goed waar herhaalde benutting gedurende die somer belangrik is, met die verdere voordeel dat ’n voersurplus bewaar kan word eerder as om dit te lank te laat staan.

Sweet Spot: Vir groenvoer en kuilvoer

Sweet Spot is ’n soetsorghumbaster met ’n hoë suikerinhoud. Die kultivar kan ook vir beweiding benut word, maar is veral geskik vir groenvoer en kuilvoer. Die oplosbare koolhidrate in soetsorghum dien tydens inkuiling as substraat vir melksuurbakterieë en kan goeie fermentasie ondersteun. Suikerinhoud alleen verseker egter nie goeie kuilvoer nie. Die gewas moet op die geskikte ontwikkelingstadium en teen ’n toepaslike droëmateriaalinhoud geoes word. Goeie kompaksie en lugdigte verseëling is daarna belangrik om suurstof uit te sluit en die fermentasieproses te bevorder. Sweet Spot pas dus waar groenvoer en kuilvoer die hoofdoel is, met beweiding as ’n verdere benuttingsmoontlikheid.

Sweet Amber BMR: Fokus op veselverteerbaarheid

Sweet Amber BMR is ’n BMR-soetsorghum waar veselverteerbaarheid ’n belangrike oorweging by kultivarkeuse is. Die lignien in BMR dra by tot die sterkte en struktuur van die plantselwand, maar kan veselverteerbaarheid beperk. Die laer lignienvlakke van BMR-sorghums kan daarom die verteerbaarheid van die veselkom ponent verbeter. Sweet Amber BMR kombineer hierdie BMR-eienskap met die eienskappe van ’n soet-sorghum en is veral geskik vir groenvoer en kuilvoer.

Die waarde van die BMR-eienskap lê dus nie noodwendig in ’n hoër droëmateriaalopbrengs nie, maar in die potensiaal vir beter veselverteerbaarheid. Die ontwikkelingstadium bly steeds belangrik, aangesien die voedingswaarde van die gewas verander namate dit ontwikkel.

Sugargraze: Van somerbenutting tot staande wintervoer

Sugargraze bied ’n ander vorm van buigsaamheid. Dit is ’n soetsorghumbaster met ’n lang benuttingsperiode. Die gewas kan gedurende die somer bewei, vir kuilvoer geoes of langer laat staan word vir benutting in die herfs en winter. Die stingels behou ’n hoë suiker-inhoud
en goeie smaaklikheid oor ’n lang benuttingsperiode. Dit bied die boer meer keuses oor wanneer en hoe die voer benut word.

Waar voer gedurende die somer benodig word, kan die gewas bewei word. Waar ’n voersurplus ontstaan kan dit ingekuil word. Waar die voer eers later benodig word, kan ’n gedeelte as staande wintervoer behou word. Hier lê Sugargraze se besondere rol in die AgroFors-reeks: dit verbind somervoerproduksie met voer wat later in die jaar benut kan word.

Plant op die regte tyd en teen die regte saaidigtheid

Voersorghum benodig warm grond vir vinnige ontkieming en egalige saailingontwikkeling. As praktiese riglyn behoort plant plaas te vind wanneer die grondtemperatuur 16 °C of hoër is en verder styg.

Algemene saaidigtheid volgens tipe

In die meeste Suid-Afrikaanse somerreënvalgebiede strek die planttyd van Oktober tot Januarie. Die geskikte plantdatum word egter deur grondtemperatuur, beskikbare grondvog, streek en die lengte van die oorblywende groeiseisoen bepaal. In koeler gebiede of waar vroeë ryp ’n risiko is, moet laat aanplantings vermy word. Die geskikte saaidigtheid verskil tussen sorghumsoedangrasbasters en soetsorghums. Dit moet volgens die kultivar, plantmetode, grondtipe, beskikbare grondvog, verwagte reënval en beoogde benutting bepaal word.

Onder droëlandtoestande is beskikbare grondvog en verwagte reënval veral belangrik, terwyl hoër produksiepotensiaal onder besproeiing ’n ander saaidigtheid kan regverdig. Egalige saadplasing en goeie kontak tussen die saad en die grond is belangrik vir eenvormige opkoms. Saad moet op ’n diepte geplant word waar voldoende grondvog beskikbaar is, maar nie so diep dat opkoms vertraag of benadeel word nie.
Goeie vestiging lê die grondslag vir die gewas se produksiepotensiaal. Swak opkoms en ’n ongelyke plantestand beperk die gewas reeds vroeg in kan nie altyd later deur plantvoeding of ander bestuurspraktyke reggestel word nie.

Benut die groei betyds

Wanneer temperatuur, grondvog en plantvoeding gunstig is, kan voersorghum vinnig groei. Dit maak gereelde beoordeling van die aanplanting belangrik. Namate die gewas ontwikkel, neem die hoeveelheid stingelmateriaal toe en kan die voedingswaarde afneem. Die doel is dus om die gewas te benut terwyl daar ’n goeie balans tussen voeropbrengs en voedingswaarde is. By sorghum-soedangrasbasters beïnvloed die stadium en intensiteit van beweiding ook die vermoë van die gewas om daarna te hergroei. Waar meer voer beskikbaar raak as wat die vee betyds kan benut, kan die oorskot ingekuil word. Dit voorkom dat ’n voersurplus te lank staan en sy voedingswaarde verloor.

Waar die groeiseisoen lank genoeg is en voldoende grondvog beskikbaar bly, kan aanplantings op verskillende datums gevestig word. Dit help om voerbeskikbaarheid oor ’n langer tydperk te versprei en voorkom dat groot hoeveelhede voer gelyktydig benut moet word.

Hou blousuur en nitrate in gedagte

Blousuurvergiftiging is ’n belangrike bestuursrisiko by voersorghum. Jong plante en vars hergroei kan ’n groter risiko inhou, veral wanneer normale groei deur droogte, ryp of ander ongunstige toestande onderbreek is. Die risiko verskil ook tussen sorghumtipes en kultivars. Nitraatophoping is ’n afsonderlike risiko en kan voorkom wanneer hoë stikstofbeskikbaarheid saamval met ongunstige groeitoestande. Moet daarom nie honger vee op jong sorghum of vars hergroei laat wei nie. Wees veral versigtig ná droogte, ryp of ander ongunstige toestande wat die normale groei van die gewas onder onderbreek het, aangesien die risiko van blousuur- en nitraatvergiftiging onder sulke toestande kan toeneem.

Kies eers die doel, dan die kultivar

Die waarde van AgroFors se voer-sorghumreeks lê in die verskillende rolle wat die kultivars in die voervloei kan vervul.

• AgroGraze pas waar beweiding en hergroei die hoofdoel is.
• SeedTop bied ’n veelsydige opsie waar beweiding én kuilvoer deel van die beplanning vorm.
• FatBoy pas waar herhaalde benutting gedurende die somer belangrik is en ’n voersurplus vir latere gebruik bewaar kan word.
• Sweet Spot pas waar groenvoer en kuilvoer die belangrikste benuttingsvorme is.
• Sweet Amber BMR bied ’n opsie waar veselverteerbaarheid ’n belangrike oorweging is.
• Sugargraze verleng die benuttingsmoontlikhede van somerbeweiding en kuilvoer tot staande wintervoer.

Geen enkele voersorghumkultivar hoef elke voerbehoefte te vervul nie. Die beter benadering is om eers die voerbehoefte te bepaal en daarna die kultivar, planttyd, saaidigtheid en bestuur daarby te laat aansluit. Met die regte kultivar op die regte plek kan goeie somergroei doelgerig benut word – as weiding wanneer dit nodig is, as kuilvoer vir ’n volgende voergaping of as staande wintervoer vir later in die jaar. AgroFors werk saam met boere om voer- en weidingstelsels te ontwikkel wat by hul boerderydoelwitte en produksieomstandighede pas.

Gesels met ons oor die regte oplossing vir jou boerderystelsel by (+27)44-203-5295, stuur ’n e-pos na agrofors@kleinkaroo.com of besoek www.agrofors.co.za vir meer inligting.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0