Carlien Swanepoel: Vrystaatse vroueboer gee haar droom vlerke

WhatsApp Image 2026-08-17 at 15.25.54
Carlien saam met haar skape.
Boer is nie maklik nie, dit verg harde werk, deursettingsvermoë, hoop en baie aande op jou knieë. Hiervan kan elke boer getuig. Dit is egter nog moeiliker as jy nie op die plaas grootgeword het nie, omdat jy dan nie iemand gehad het om jou te leer en op te lei nie.
Dit het egter nie vir Carlien Swanepoel, ’n jong vroueboer van die Vrystaat afgeskrik nie.
“As iemand ’n jaar gelede vir my gesê het dat my dae binnekort gevul sou wees met ooie, lammers, voerprogramme, dieregesondheid, rekordhouding en planne vir die genetiese verbetering van ’n skaapkudde, sou ek waarskynlik net gelag het,” vertel sy.
Carlien en Pieter le Roux, haar verloofde, het in September 2025 besluit om hul droom te volg en het ’n plaas gekoop. Dit was die begin van Novara-boerdery. Met geen agtergrond in landbou, ’n gevestigde kudde of ’n boerderystelsel in plek nie, het Carlien en Pieter die enorme taak aangepak om hul eie skaapkudde op die been te bring.
“Ek het ’n droom gehad. Ek het besef ek het baie om te leer en het toe ’n besluit geneem om dit ’n werklikheid te maak,” sê sy.
Nou, amper ’n jaar later, het die paartjie ongeveer 70 skape en Carlien het onlangs haar heel eerste twee stoetooie aangeskaf.
Carlien gaan ‘terug skool toe’
Vroeg in hul boerdery se bestaan het Carlien besef dat sy nie net op instink wil of kan boer nie.
“Diere is ’n verantwoordelikheid. Elke besluit oor voeding, behandeling, reproduksie en bestuur het ’n invloed op die dier en op die uiteindelike volhoubaarheid van die boerdery,” vertel sy.
Omdat sy geen landbou-agtergrond gehad het nie, wou sy haarself met kennis toerus en het sy veeproduksie gaan studeer.
“Dit was vir my belangrik om nie net te weet wat ’n mens op ’n plaas doen nie, maar om ook te verstaan waarom jy dit doen,” sê sy.
Gedurende haar studies is sy blootgestel aan voeding, dieregesondheid, reproduksie, rekordhouding, bestuur, bemarking, naspeurbaarheid en die volledige waardeketting in veeproduksie. Dit wat sy geleer het bly egter nie net op papier nie. Alles wat sy leer pas sy ook op haar kudde op die plaas toe.
- Carlien Swanepoel se droom is nou haar werklikheid.
- Die eerste lam wat op Novara-boerdery gebore is.
Toe die eerste lam val
Die studies en die boerdery was vir Carlien reeds opwindend maar sy vertel toe die eerste lam op die plaas gebore is, het sy dadelik geweet dit is waarvoor sy gemaak is.
“Van die oomblik wat die eerste lam geval het, kon ek nie wag vir die volgende een nie. En toe die volgende een kom, wou ek weer by die volgende lamtyd wees. Ek wou kyk. Ek wou leer,” sê sy.
Sy vertel dat lamtyd haar baie dinge geleer het, goed en sleg. Die werklikheid is nie altyd die mooi foto van ’n gesonde ooi met twee lammers langs haar nie. Daar is swak lammers, ooie wat sukkel, bottellammers, siekte, bekommernis, min slaap en soms ook verliese.
“Daar is tye wanneer jy langs ’n dier sit en wens sy kon vir jou presies sê wat verkeerd is. Dit is in hierdie oomblikke waar ek een van my grootste lesse oor veeproduksie geleer het: jy moet jou diere ken.”
Sy vertel dat die waarde van waarneming nie verlore kan gaan nie en dat jy elke dag tussen jou skape moet beweeg en kyk hoe hulle optree om werklik te weet wat met hulle aangaan.
Van bloot getalle tot gehalte
Soos wat de kudde gegroei het, het Carlien besef dat ’n goeie kudde nie net oor die aantal diere gaan nie, maar ook die gehalte van die dier waarmee jy vorentoe bou.
“Een van my grootste persoonlike mylpale die afgelope jaar was die aankoop van my eerste twee stoetooie. Vir ander is dit dalk net twee skape, maar vir my verteenwoordig hulle iets groter. Hulle is die volgende fase van wat ek wil bou.”
Sy beplan om meer oor genetika, seleksie en reproduksie te leer sodat sy ’n kudde kan ontwikkel waarop sy kan trots wees.
“Goeie teelwerk vra geduld, rekordhouding, kennis en langtermynbeplanning. Maar dit is juis dié deel wat vir my opwindend is. Ek wil weet waar elke dier vandaan kom,” vertel sy.
Rekordhouding en naspeurbaarheid is waar die geheim lê. Carlien vertel dat goeie rekordhouding ’n mens help om meer ingeligte besluite te maak. Sy wil ook graag die waardeketting verstaan nadat die skaap die plaas verlaat.
- Carlien is opgewonde om haar skaapkudde uit te brei.
- Carlien Swanepoel, Pieter le Roux, haar verloofde, en hul ram, Boesman.
’n Vrou se plek op die plaas
Carlien vertel dat Vrouemaand haar laat dink het oor wat dit beteken om ’n vrou in die landbou te wees. Vir haar beteken dit nie dat sy moet probeer wys dat sy alles alleen kan doen nie.
“Ek en my verloofde bou hierdie lewe saam. Ons het saam die besluit geneem om ’n plaas te koop en saam die onbekende ingestap. Maar binne daardie vennootskap het ek my eie liefde vir veeproduksie ontdek.
“Ek glo dit is presies hoe moderne landbou lyk, daar is nie net een rol vir ’n vrou op ’n plaas nie. Sy kan ’n versorger, student, bestuurder, bemarker, rekordhouer, entrepreneur en boer wees,” meen Carlien.
Sy vertel dat die eerste jaar op hul plaas vir haar onbekend was, maar wanneer sy terugkyk kan sy nie glo hoe ver hulle gekom het nie.
“Ons het nog ’n baie lang pad om te stap, ek sal ook nooit sê dat ek nou alles weet nie. Inteendeel, hoe meer ek leer, hoe groter raak my respek vir boerdery en vir mense wat dit al jare lank doen.”
Haar raad vir ander vroue wat hierdie beroep wil volg, is eenvoudig; “Jou begin hoef nie dieselfde as iemand anders se begin te lyk nie. Jy hoef nie op ’n plaas groot te word om ’n liefde vir landbou te ontwikkel nie. Jy hoef nie op dag een al die antwoorde te hê nie. Jy moet net bereid wees om te leer.”



