Categories: Dieregesondheid, WildPublished On: 9th September 2024

Oos-Kaap wildboere hou bek-en-klouseer fyn dop

By 6 min read

buffel

Daar word aangeneem dat die buffels in die Oos-Kaap ‘skoon’ is van bek-en-klouseer en dit is ‘n prioriteit om dit so te hou.

Wildboere in die Oos-Kaap hou die uitbreking van bek-en-klouseer in die provinsie fyn  dop.

“Ons hou die bek-en-klouseer-situasie in die Oos-Kaap fyn dop,” sê John Hurter, voorsitter van Wildbedryf SA in die  provinsie. Die grootste bekommernis is die onwettige beweging van vee en of wild wat met die siekte besmet is omdat dit feitlik onmoontlik is om hierdie euwel te monitor. Volgens is dieselfde beheermaatreëls wat vir die beweging van vee geld ook van toepassing op wild.

“Ons doen ‘n ernstige beroep op ons lede om ons in te lig as hulle onseker is oor biosekerheidsmaatreëls of enige onwettige aktiwiteite vermoed,” sê hy.

Volgens John word aanvaar dat al die buffels in privaat- en staatsbesit in die Oos-Kaap tans vry van bek-en-klouseer is. “Dit is ons belangrikste prioriteit om hierdie status te handhaaf; die volgende prioriteit is om te voorkom dat die siekte na ander wildspesies op privaat plase en reservate versprei.”

Tot dusver is wildveilings nie ernstig geraak nie, buiten dat wild uit die siektebeheergebiede nie op veilings aangebied mag word nie omdat die diere nie verskuif mag word nie. By lewende veilings waar wild in bomas gehou word, word die hele proses onderwerp aan streng biosekerheidsmaatreëls. “Solank aan hierdie maatreëls voldoen word, is wildveilings en die algemene handel in wild nie ‘n risiko nie.”

Volgens John word alle beweging van wilde diere, ongeag protokolle vir siektebestuur, streng beheer met vervoerpermitte van die Oos-Kaapse Departement van Ekonomiese Ontwikkeling, Omgewingsake en Toerisme.

Die beweging van buffels is ook onderhewig aan streng maatreëls volgens die Veeartsenykundige Prosedurele Kennisgewing  (VPN) van 2017. Slegs buffels wat onder die toesig van veeartse getoets is en vry van bek-en-klouseer verklaar is, mag ter eniger tyd na enige plek in die land verskuif word

‘n Tweede prioriteit is om te voorkom dat ander wild met gesplete hoewe nie met bek-en-klouseer besmet raak nie.

Dieresiektebeheergebiede blyk te werk

Die Departement van Landbou het intussen aangedui dat die siektebeheergebied (SBG) wat op 26 Julie afgekondig is om die verspreiding van bek-en-klouseer aan bande te lê, klaarblyklik vrugte afwerp. Geen verdere uitbrekings in die SBG in dele van die Kouga en Kou-Kamma munisipaliteite het voorgekom nie. Die departement bedank boere en die gemeenskappe vir hulle samewerking in die verband.

Tans is daar bevestigde gevalle van bek-en-klouseer op 33 plase by Humansdorp en nog een by Oos-Londen. Vee op hierdie plase en op nog ‘n plaas waar die kliniese simptome voorgekom het, is teen bek-en-klouseer ingeënt. Nog 36 plase is voorkomend ingeënt ten einde  kliniese simptome te verlig indien die siekte daar sou uitbreek. Altesaam 96 906 beeste en 635 skape is sedert die uitbreking in Mei vanjaar in die Oos-Kaap ingeënt.

‘n Tweede rondte inenting is ook van stapel gestuur op vyf plase waar kliniese simptome waargeneem is. Die simptome het veral voorgekom by verse onder druk na eerste kalwing, wat sowat twee weke na inenting plaasgevind het en waar die kalwers van melk na voerpille oorgeskakel het.

Dertien plase waar simptome voorgekom het, is identifiseer as prioriteit vir inenting. Altesaam 11 949 diere is op die eerste ses plase ingeënt en die res  van die plase het kort daarna gevolg.

Tog heers daar kommer oor kliniese simptome wat steeds voorkom op sekere plase wat binne die SBG val en wat voorheen besmet en of ingeënt is. Dit dui daarop dat die virus steeds in omloop is en dat die risiko dat die siekte van hier af kan versprei steeds hoog is.

Jong verse wat vir die eerste keer na inenting teen bek-en-klouseer gekalf het, het simptome van bek-en-klouseer getoon.

Biosekerheidsmaatreëls

Volgens die Departement kan die erns van biosekerheidsmaatreëls nie genoeg beklemtoon word nie en boere word gemaan om alle moontlike maatreëls te tref om die verspreiding van die virus vanaf hulle eiendom te voorkom.

Boere wie se plase nie besmet is nie moet ook streng biosekerheidsmaatreëls toepas om besmetting te voorkom. Dit kan gedoen word deur veral die beweging van lewende hawe, mense, voertuie en toerusting na en van die plase te beperk. Indien beweging onvermydelik is, moet klere, skoene, toerusting en voertuie deeglik skoongemaak en ontsmet word voordat plase verlaat of betree word.

Die biosekerheidsmaatreëls geld landwyd en nie net in die Oos-Kaap nie. Wanneer diere met gesplete hoewe beweeg word moet die besending vergesel word van ‘n verklaring deur die eienaar van die diere se gesondheidstatus ten tyde van die beweging.

Beeste, skape en bokke wat vir die eerste keer na ‘n plaas gebring word moet vir ten minste 28 dae afsonderlike van bestaande kuddes gehou word – die maatreël geld sedert 2022, maar die belangrikheid daarvan word opnuut beklemtoon.

Die Departement van Landbou beveel ten sterkste aan dat boere die beweging  van vee (en wild) sover moontlik vermy sodat enige eiendom waar besmetting voorkom, geïdentifiseer en onder kwarantyn geplaas kan word om die verspreiding van die virus te voorkom. Die belangrikheid van die inkubasieperiode kan nie oorbeklemtoon word nie, want gedurende die tydperk kan die diere gesond voorkom, maar reeds die virus versprei.

Boere oral in die land moet biosekerheidsmaatreëls streng toepas om hulle kuddes teen besmetting te beskerm.

Volgens die Wet op Dieresiektes is dit die eienaar van vee/wild se wetlike plig om stappe te doen om te voorkom dat hulle diere besmet raak en die siekte vanaf hulle plaas na ander plase versprei.

Noodsaaklike biosekerheidsmaatreëls sluit in:

  • Beeste, skape en bokke wat na ‘n ander plaas verskuif word, moet ten minste 28 dae in afsondering van die bestaande kudde gehou word.
  • Bring slegs diere na jou plaas wat gesond gesertifiseer is vanaf ‘n onbesmette plaas.
  • Voorkom dat jou diere met ander diere buite die plaasgrense deur die draad in aanraking kom.
  • Maak seker jou heinings is heel.
  • Beperk sover moontlike toegang vir voertuie en mense.
  • Maak seker dat plaaswerkers nie kontak met ander diere buite die plaasgrense het nie.
  • Verskaf skoon klere en wasgeriewe vir alle besoekers en personeel, asook voorsiening vir die deeglike was en ontsmetting van voertuie en plaastoerusting wat na die plaas gebring word of dit verlaat.
  • Biosekerheid is almal se verantwoordelikheid.

Enige verdagte kliniese simptome soos blase in ‘n kwylende bek, ‘n dier wat mank loop en of sere op die hoewe het, moet onverwyld by ‘n private of staatsveearts aangemeld word. Hierdie diere moet onder geen omstandighede verskuif word nie.

Enige verdagte kliniese simptome soos blase in ‘n kwylende bek, ‘n dier wat mank loop en of sere op die hoewe het, moet onverwyld by ‘n private of staatsveearts aangemeld word.

Kontakbesonderhede

Vir meer inligting, kontak die Departement van Landbou se skakelpersoon Sara-Lea van Eeden by 083-446-6109

Bronverwysing

Steyn, T. (2022) FMD could wipe out game ranches

https://proagri.co.za/fmd-could-wipe-out-game-ranches/

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0