AgriSA doen ‘n beroep op dringende, gekoördineerde implementering na die verklaring van die BEK-ramp

Cyril-Ramaphosa
AgriSA verwelkom die aankondiging deur president Cyril Ramaphosa tydens die 2026-Staatsrede (SONA) waarin die voortgesette bek-en-klouseer (BEK)-uitbraak tot ‘n nasionale ramp verklaar word.
Hierdie verklaring weerspieël die erns van die huidige biosekuriteitsbedreiging wat Suid-Afrika se veesektor in die gesig staar en erken die diepgaande ekonomiese, voedselsekerheids- en handelsimplikasies van die uitbraak.
Die veebedryf is ‘n hoeksteen van die Suid-Afrikaanse landbou en dra by tot voedselsekerheid, uitvoerverdienste en waardeketting-aktiwiteit op plase, voerkrale, slagpale, verwerkers, vervoerders en kleinhandelaars.
“AgriSA se verwagting is dat hierdie stap die bevorderlike regulatoriese omgewing skep wat nodig is vir ’n beter gegekoördineerde nasionale reaksie,” sê Johann Kotzé, uitvoerende hoof van AgriSA.
Produsente in geaffekteerde streke ervaar reeds aansienlike finansiële druk, wat veroorsaak word deur bewegingsbeperkings, vertraagde marktoegang, verhoogde biosekuriteitskoste en die onvermoë om vee op optimale tye te verkoop. Die uitwerking daarvan strek veel verder as die plaashek.
“AgriSA is diep bekommerd oor die kumulatiewe ekonomiese impak as die uitbreking nie vinnig onder beheer gebring gaan word nie, veral vir klein dorpies en gemeenskappe wat grootliks afhanklik is van veeverwante aktiwiteite,” sê Kotzé.
AgriSA neem ook kennis van die breër hervormingsverbintenisse wat tydens SONA uiteengesit is, insluitend hervormings aan spoor- en padinfrastruktuur, verskerpte optrede teen georganiseerde misdaad, voortgesette herstrukturering van die elektrisiteitsektor, die verhoging van watersekerheid tot nasionale krisisvlak, en die eksplisiete posisionering van landbou as ‘n prioriteitsgroei- en werkskeppingssektor naas mynbou, dienste en die groen ekonomie.
“Hierdie intervensies is van kritieke belang vir landbou,” sê Kotzé. “Betroubare vervoerkorridors is noodsaaklik vir die vervoer van vee en landbouprodukte, energiestabiliteit is krities vir produksie en verwerking, en die bekamping van georganiseerde misdaad is fundamenteel vir die herstel van vertroue in landelike ekonomieë en waardekettings.”
AgriSA bevestig dat dit ‘n lid is van die nasionale Nywerheidskoördineringsraad, en het die Nasionale Rampbestuursentrum, die Departement van Landbou en die Presidentskap van Suid Afrika die afgelope paar weke aktief betrek om die omvang van die bek-en-klouseerkrisis en die dringende behoefte aan ‘n gekoördineerde nasionale reaksie te beklemtoon. AgriSA neem ook deel aan die nasionale taakspan wat bestaan uit boere-organisasies en tegniese kundiges wat deur die President ingestel is om die bek-en-klouseer-uitbraak te bestuur.
Terselfdertyd sal AgriSA gestruktureerde weeklikse konsultasies met kommoditeitsorganisasies en provinsiale affiliasies voortsit om te verseker dat intydse terugvoer van geaffekteerde streke nasionale reaksiemaatreëls beïnvloed.
Terwyl regeringsleierskap noodsaaklik is, is siektebeheer op plaasvlak en regoor die waardeketting net so belangrik.
AgriSA sal voortgaan om met die regering, provinsiale affiliasies en kommoditeitsorganisasies te skakel om te verseker dat die reaksie bewysgegrond, proporsioneel en in ooreenstemming is met globale dieregesondheidstandaarde.
AgriSA sal saam met sy lede die regulasies, soos gepubliseer in die Staatskoerant, noukeurig hersien om die praktiese implikasies op plase en regoor die waardeketting te bepaal.
Navrae
Johann Kotzé, AgriSA Hoof- uitvoerende beampte
+27 79 523 5767
info@agrisa.org.za