Noord-Kaap loop deur onder verskeie siektes

skaapbrandsiek
Skaapbrandsiek is op verskeie plase in die Noord-Kaap aangemeld. (Bron: RPO)
Ses verskillende vee- en pluimveesiektes het sedert 1 April tot 15 Augustus in die Noord-Kaap voorgekom. Die volgende siektes word in die September 2024-nuusbrief van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) genoem.
Bek-en-klouseer
Die kommerwekkende hiervan is bek-en-klouseer, wat in Mei vanjaar vir die eerste keer in die Oos-Kaap uitgebreek het. Voor die uitbreking was die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Noord-Kaap die enigste van die nege provinsies wat sonder inenting vry van die hoogs aansteeklike, aanmeldbare en staatsbeheerde siekte is. Die afkondiging en handhawing van dieresiektebeheergebiede (SBG) in die Kouga- en Kou-Kamma munisipaliteite het volgens die Departement van Landbou die siekte in ‘n mate gestuit, maar die uitbreking is steeds nie opgelos nie.
In die Noord-Kaap is een saak van verdagte diere in Mei in die Prieska-omgewing ondersoek, Weens goeie samewerking tussen boere, die departement en die laboratorium om geaffekteerde diere op te spoor, te toets en binne 24 uur resultate te kry, is die saak in rekordtyd opgelos.
Terugsporing van diere wat vanuit die Noord-Kaap na die Oos-Kaap gelewer is vir uitvoer na Mauritius het geen verdagte diere gevind nie. Nog ‘n besending, ook bestem vir Mauritius, wat tans in kwarantyn staan, word ook getoets.
Brusellose
Brusellose het op ‘n aantal plase in die provinsie voorgekom, maar geen nuwe voorvalle is in die laaste kwartaal aangeteken nie. Die prosedure van slag en toetsing word in verskillende streke voortgesit.
Skaapbrandsiek
Skape op veertien plase in die Brandvlei-streek is positief vir skaapbrandsiek getoets. Altesaam 14 plase in die Calvinia-, Springbok- en De Aar-streke is positief gediagnoseer. In die De Aar-streek is twee aardwolwe ook positief daarvoor getoets.
Kommer heers oor die feit dat sommige boere weens swak veldtoestande veral in die Boesmanlandstreek hulle vee na die Wes-Kaap wil verskuif agter beter weiding aan. Die Wes-Kaapse owerheid het toestemming verleen dat sommige diere wat behandeling ontvang het, verskuif mag word.
‘n Uitbreking van skaapbrandsiek in die Marydale-streek is vermoedelik vererger omdat die eienaars dit verkeerdelik as ringwurm diagnoseer is en daarvoor behandel het. Die probleem het onder die aandag van staatsveearts dr Lizaan Cilliers van die Prieska-distrik gekom, wat bevind het dat die eienaars nie die nodige entstowwe en dip teen skaapbrandsiek kan bekostig nie. Die RPO Noord-Kaap het na ‘n verspreider van die benodigde bestanddele uitgereik, maar is meegedeel dat “voorrade uiters beperk” is.
Afrika-varkpes
Twee uitbrekings van Afrika-varkpes, waarby mak varke en Europese bosvarke betrokke was, het in Junie en Julie in Kimberley en Griekwastad voorgekom. Die siekte, wat deur vlakvarke na die meeste gebiede versprei word, is klaarblyklik nou endemies in die Noord-Kaap. Tampans wat op die vlakvarke voorkom is getoets en het positief vir die siekte getoets.
Voëlgriep
Twee plase in die Fraserburg-omgewing, wat positief getoets het vir die H5N6- en H5N8-voelgriepvirus, is onder kwarantyn geplaas. Pluimvee op die een plaas sal uitgeslag word sodra die voëls slaggereed is, terwyl die meeste van die pluimvee op die ander plaas weens koue gevrek het; die oorblywende voëls is op 23 Julie van kant gemaak.
Voëltifus
Voëltifus (Salmonella gallinarum) is op ‘n plaas in die Jan Kempdorp-omgewing aangemeld. Die siekte word veroorsaak deur Salmonella enterica serotipe Gallinarumbiovar Gallinarum. Die sterftesyfer onder jong voels is soortgelyk aan dié van Salmonella enterica serotipe Gallinarum biovar Pullorum, hoewel die vrektesyfer weens eersgenoemde meer maai onder ouer voëls.
By jonger voëls is die simptome anoreksie, die voëls is swak en depressief en wit mis sit vas rondom anus. Die voëls kan ook respiratoriese siektes, blindheid of geswelde gewrigte hê. ‘n Nadoodse ondersoek sal ‘n galkleurige lewer, en moontlik ‘n vergrote milt en niere toon. Die diagnose is gebaseer op isolasie en identifikasie van die organisme; behandeling word nie aanbeveel nie.
Bronverwysing
Dieresiektes in die Noord-Kaap. (2024) Rooivleisprodusente-organisasie
https://rpo.co.za/dieresiektes-in-die-noord-kaap-animal-diseases-in-the-northern-cape/
RPO Noord-Kaap poog om druk op staatsveeartse te verlig (2024) RPO