Categories: Artikels, Vee en Wild, VeilingsPublished On: 22nd September 2026

Meningsartikel: Pryse van diere op veilings: Is dit goed vir die ras?

By 5 min read
977 words

farmer with pen and paper

By ProagriMedia verwelkom ons altyd ons lesers se opinies en insette. Dit is immers ons lesers wat die toekoms van landbou bepaal.

Nicole Viljoen het onlangs haar opinie gelug oor die pryse van diere op veilings. Hier is wat sy te sê het:

Daar was ’n tyd toe ’n goeie ram gekoop is omdat hy ’n kudde kon verbeter. ’n Bul is gekoop omdat hy kilogramme op kalwers kon sit, vrugbaarheid kon verbeter en uiteindelik meer geld in die boer se sak kon sit.

Deesdae kan ’n mens soms vergewe word as jy wonder of hy nie ook met ’n rooi tapyt, ’n sjampanjeborg en sy eie Instagram-rekening moet kom nie.

Suid-Afrikaanse veeveilings het goeie teater geword. Die hamer val: R100 000, R500 000, 1 miljoen, en uiteindelik 2 miljoen.

Die hande klap, die foto’s word geneem en Facebook weet van die NUWE REKORDPRYS! nog voordat die eerste bakkie die veilingsgronde verlaat het.

Maar dalk moet iemand heel agter in die saal sy hand opsteek en die ongemaklike vraag vra: “Is dit werklik goed vir die ras?”

Want daar is ’n verskil tussen iets wat goed is vir ’n teler en iets wat goed is vir ’n ras.

Die Boran Beestelersgenootskap se gepubliseerde 2026-veilingsuitslae wys hoe buitengewoon die boonste punt van die mark kan raak. By een produksieveiling het bulle gemiddeld meer as R550 000 behaal, met die hoogste prys R2 miljoen. By ’n ander veiling het ’n koei-en-kalf-kombinasie R1 787 miljoen gehaal en ’n dragtige vers R1 551 miljoen.

Haal diere sonder ‘onbeskryflike eienskappe’ dan nie die paal nie?

Ook by kleinvee sien ons gereeld indrukwekkende kooppryse. Maar hier is die belangrike onderskeid. Die rekordprys is nie die markprys nie. Dit is net die rekordprys wat die plakkaat haal. Niemand plaas op Facebook: “Baie funksionele ram vandag vir ’n heel sinvolle R18 000 verkoop” nie.

Dit het seker maar net nie dieselfde je ne sais quoi nie.

Daar is natuurlik niks verkeerd daarmee dat uitsonderlike genetika uitsonderlike geld behaal nie. ’n Topvaar kan honderde, selfs duisende, nasate beïnvloed. Vrugbaarheid, groei, voerdoeltreffendheid, maternale eienskappe, karkasgehalte en bewese genetika het werklike ekonomiese waarde.

Maar wanneer hou die prys op om bloot produktiewe genetiese waarde te weerspieël en begin dit ook die prestige van eienaarskap weerspieël?

Want dit is twee verskillende markte. Die een is landbou, die ander een begin gevaarlik baie na versamelaarsgedrag lyk. En waar is die kommersiële boer? Hy het nie noodwendig die beroemde bul nodig nie. Hy het kalwers nodig. Hy het lammers nodig.

Hy soek vrugbaarheid, aanpasbaarheid, goeie moedereienskappe, langlewendheid, sterk pote, goeie bekke en genetika wat sy winsgewendheid verbeter. En bowenal, hy moet dit kan bekostig.

Diere as statussimbole steek kop uit …

Daarom behoort ons dalk ’n vraag te vra wat ’n paar mense ongemaklik gaan maak. Teel ons diere waarmee kommersiële boere bitter graag wil boer of diere wat ander stoettelers bitter graag wil besit?

Want wanneer Stoet A ’n duur dier aan Stoet B verkoop, Stoet B die nageslag nog duurder aan Stoet C verkoop, en Stoet C weer ’n rekord opstel deur terug in die stoetmark te verkoop, moet iemand uiteindelik vra wie is die eindgebruiker?

Onthou ons nog die wildbedryf? Daar was ’n tyd toe skaars wild, uitsonderlike horinglengtes en kleurvariante teen astronomiese bedrae verkoop is.

Die wildbedryf het ’n harde les geleer. ’n Dier kan nie vir altyd toeneem in waarde nie bloot omdat die volgende teler bereid is om nóg meer te betaal nie.

Nou is wild en kommersiële vee natuurlik nie dieselfde mark nie. Beeste en skape het ’n groot, werklike voedselproduksiemark onder hulle. Maar die beginsel bly ongemaklik relevant.

Iewers aan die einde van die ketting moet iemand iets produseer, soos vleis, wol, lammers, kalwers, kilogramme, wins.

Wat doen rekordpryse aan ’n ras se beeld? Boere sien net BUL – R2 MILJOEN en op ’n stadium kan hy begin dink, “Hierdie ras is nie meer vir ’n boer soos ek nie.”

Dan het ’n rekordprys dalk groot waarde vir die verkoper geskep, maar terselfdertyd ’n persepsieprobleem vir die ras tot gevolg gehad.

’n Ras wat fenomenale diere produseer wat die gewone kommersiële boer voel hy nie kan bekostig nie, het dalk eksklusiewe status bereik.

’n Ras se sukses behoort tog nie net gemeet te word aan hoe duur sy beste dier van die hand gesit kan word nie. Dit behoort ook gemeet te word aan hoeveel kommersiële kuddes daardie genetika verbeter.

Dalk vier ons die verkeerde rekord. Stel jou eerder ’n ander opskrif voor:“Kommersiële kuddes toon meetbare verbetering in vrugbaarheid.”

Nou dít is ’n rekord wat ’n mens behoort te vier, want prys alleen is nie ’n bewys van genetiese meerderwaardigheid nie.

Hou perspektief in gedagte

En daarom wil ek graag een vraag by ’n toekomstige veiling toets. As niemand geweet het wie die teler is nie, niemand die dier se foto gesien het nie, en elke dier anoniem aangebied is met slegs sy geverifieerde prestasie- en genetiese data wat aan voornemende kopers bekend is, sou dieselfde dier steeds dieselfde prys behaal het?

Nou dít is ’n veiling wat ek graag sal wil bywoon.

Goeie telers verdien goeie geld. Goeie genetika kos geld om te ontwikkel. Prestasiemeting, rekordhouding, seleksie en voortplantingstegnologie is nie verniet nie. Hierdie is dus nie ’n argument téén duur diere nie. Dit is ’n argument ten gunste van perspektief.

Daar moet plek wees vir die elitebul van R500 000, maar daar moet ook ’n pad wees waar sy genetika deur bekostigbare seuns uiteindelik in kommersiële kuddes kan beland.

’n Ras behoort iets te wees waarmee ’n boer wil én kan boer, nie iets wat hy net van die kantlyn af kan bekostig om applous te ontvang nie.

Maar wat weet ek? Ek is maar net ’n boer se vrou.

Hierdie is n meningsartikel. Die skrywer se sienings weerspieël nie noodwendig dié van ProAgri nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0