Limagrain se nuutste kultivars bied ‘n volle mieliepakket

20250513_131134
Fanie Yssel, tegniese bestuurder van Limagrain, vertel meer oor hulle kultivars.
Limagrain is ‘n saadmaatskappy wat deur boere besit en bestuur word, vir boere. In hulle bestaan van sestig jaar het hulle hulself reeds geposisioneer as ‘n wêreldklas rolspeler en nou beoog hulle om hulself ook as ‘n prominente Suid-Afrikaanse saadmaatskappy te vestig.
By NAMPO 2025 het hulle hul wêreldklas-mieliekultivars aan boere ten toon gestel.
Fanie Yssel, tegniese bestuurder van Limagrain, vertel dat hulle ‘n volle pakket wit- en geelmieliekultivars het wat spesifiek vir Suid-Afrikaanse boere ontwikkel is. Drie van hulle top witmieliekultivars is hulle LG31.747BR, sy opvolger die LG31.753BR en LG31.755BR.
Die kultivars is baie goeie droëland- en watertafelmielies wat sterk meerkoppig is met ‘n baie goeie graangehalte.
Die LG31.747BR bevat Roundup Ready 2 en YieldGard 2. Dit is ‘n nuwe kultivar met medium volwassenheid en uitsonderlike opbrengspotensiaal, uitstekende staanvermoë en goeie siekteverdraagsaamheid.
Die LG31.753BR is ‘n splinternuwe medium volwasse wit baster wat aangepas is vir alle groeistreke met uitstekende agronomiese eienskappe.
LG31.755BR is ook ‘n splinternuwe, laat volwassenheid kultivar, met uitsonderlike prestasie in die Westelike watertafel en droër areas, met goeie meerkoppigheid. Die graankwaliteit op hierdie kultivar is uitsonderlik.
Aan die geel kant het Limagrain hulle staatmaker KKS8410-platform wat volgens Fanie in die stadium nog die voorste mielie onder besproeiing vir kuilvoer is. KKS8410 het ‘n baie goeie plant-tot-graanverhouding wat goeie kuilvoergehalte lewer.
Hulle het ook onlangs hulle nuwe, vinniger geelmielie, LG 31.664BR wat vir die Oostelike en Westelike produksiestreke bedoel is, bekendgestel. Die kultivar lewer uitstekende opbrengs en staanvermoë en droog ook vinnig af.
Limagrain se staatmakergeelmielie is die LG31.752BR wat die afgelope jaar die top mielie was in die GraanSA-proewe.
Jacques Breytenbach, operasionele bestuurder van Limagrain Suid-Afrika, vertel dat Limagrain reeds sestig jaar goeie opbrengste vir boere lewer. Die maatskappy is in 1965 in Frankryk gestig. Vandag word die maatskappy deur 1 300 boere besit in ‘n koöperasie.
“Limagrain is hier om te bly. Ons het klaar sestig jaar agter die blad en beplan om boere nog sestig jaar te dien. Limagrain groei elke jaar deur nuwe variëteite bekend te stel, veral vir mielies en sojabone. Ons is klaar ‘n groot speler in die internasionale mark en sterk op pad om ‘n groot speler in die Suid-Afrikaanse mark te word,” sê Jacques trots.


