Irrigation Unlimited laat elke druppel tel met hulle Ocmis- en Rotrix-spuite

IMG_3869
Henco Cilliers van Irrigation Unlimited het by NAMPO 2024 meer vir boere vertel oor hulle verskuifbare spuite.
Water is beslis lewe, want ‘n boer het water nodig om sy gewasse te laat groei en die regte hoeveelheid op die regte tyd en plek is net so belangrik vir ‘n goeie oes. Irrigation Unlimited was weer eens ‘n bekende gesig by NAMPO met hulle verskuifbare spuite wat dit maklik vir boere maak om hulle gewasse te besproei.
Henco Cilliers van Irrigation Unlimited het ProagriMedia meer oor hulle produkte by hulle standplaas vertel.
“Ons Ocmis verskuifbare selfaangedrewe spuite moet slegs aan water soos vanuit ‘n boorgat of dam gekoppel word om te kan werk en so word enige gewas besproei. Daar is geen elektrisiteit nodig om die masjien te laat werk nie wat ‘n groot pluspunt is,” sê Henco.

Die kleiner Ocmis-spuit is ook by NAMPO uitgestal om vir boere te wys hoe maklik hy werk en hanteer.
Hoe so ‘n spuit werk:
’n Sleepwa met ’n pypkatrol word aan die een kant of in die middel van die land by ’n watertoevoerpunt staangemaak. Die punt van die pyp is aan ’n karretjie met ’n kanonspuit of balkspuit gekoppel. Hierdie karretjie word na die oorkant van die land gesleep, die water word oopgedraai en dit dryf ’n ratkas in die katrol aan, wat die pyp oprol. Soos die pyp oprol, sleep hy die karretjie nader, wat natuurlik al die pad water spuit.
Die uitrolpyp word van hoë gehalte poliëtileen gemaak wat bestand is teen sleepskade en die raamwerk word van stewige staal vervaardig.
“Die spoed waarteen die spuit ingesleep word, kan verstel word om meer of minder water per lopie toe te dien. Hy kan so ver soos 30 tot 60 meter wyd besproei. Die verskillende spuite wat Ocmis het begin by ‘n 40-130. Dit beteken ‘n 40-mm pyp wat 130 m lank is. Die grootste een is ‘n 100-300,” sê Henco.
“Die masjien vernietig nie die land waar hy loop nie. Hy kan ook laer of hoër gestel word om byvoorbeeld bo-oor mielies te gaan,” voeg Henco by.
Irrigation Unlimited se Rotrix selfaangedrewe kruipspuit werk baie dieselfde as die Ocmis-spuit, maar dit word plaaslik vervaardig en is baie robuust, volversink en gewild regoor Afrika. “Boere kan 4 tot 15 hektaar weekliks besproei. Hy kan ook lekker vinnig geskuif word en het nie kragkabels nodig nie,” sê Henco.
Irrigation Unlimited is verder baie opgewonde om hulle nuwe reeks bekend te stel. Hulle is nou ook verspreiders van Afriq Water se toerusting soos hulle drupbesproeiing, kunsmistenk, waterfiltrering en verskuifbare plastiekpype.
“Drupbesproeiing word plaaslik vervaardig. Dit is iets waarna ons al jare kyk want boere het dit nodig met die beurtkragsituasie. Enige spasiëring vir die drupbesproeiing kan gebied word volgens die boer se behoeftes. Daar is ‘n twee tot vier weke wagperiode as jy dit bestel,” sê Henco.

Drupbesproeiing is ‘n betroubare, waterbesparende manier om te sorg dat jou gewasse die nodige water kry.
Met drupbesproeiing is jou watertoediening, jou spanning en self jou onkruid minder! Drupbesproeiing bied ‘n meer standvastige, volhoubare toediening van water om gewasse te help om vinnig te groei, want dis meer gereelde, kleiner dosisse water wat gegee word. Amper alle soorte gewasse kan so besproei word.
Hulle kunsmistenks se groottes is 60, 100 en 200 liter. “Die kunmistenk maak die toediening van vloeibare kunsmis op jou gewasse makliker. Die vloeibare kunsmis gaan reguit na die plant se wortels toe en absorbeer vinnig,” sê Henco.
Afriq Water se besproeiingsfilters kan ‘n langer leeftyd aan jou besproeingstelsels bied en die onderhoud verlaag. Henco sê: “Filters verwyder vaste stowwe, sand, alge, slym en vuilgoed.”
Verskuifbare pypstelsels met volversinkte staalpype verskaf Irrigation Unlimited nou al jare. Nou is Afriq Water se ligter en makliker hanteerbare plastiekpype ook by. Die pype kan alle temperature hanteer, is duursaam en minder aanloklik vir diewe.
Vind uit waar jou naaste verspreider van Irrigation Unlimited se toerusting is deur hulle webtuiste te besoek by https://iunlimited.co.za/ of kontak hulle by (+27)12-736-2121.