Categories: Artikels, SA294-vrouemaand, VroueboerPublished On: 4th August 2024

Formidabele vroue in landbou: Beatrice Conradie

By 8 min read
1570 words

beatrice 1

Dr Beatrice Conradie van die Universiteit van Kaapstad was gasspreker by die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWGA) se algemene jaarvergadering in Gqeberha op 2 Junie 2022. (Bron: NWGA)

Dr Beatrice Conradie is ՚n professor in Ekonomie aan die Universiteit van Kaapstad. “Vir baie jare die enigste landbou-ekonoom en een van min Afrikaanses op die personeel,” sê die formidabele vrou wat al diep spore in landbou getrap het.

Beatrice het op ՚n plaas met ՚n klein gemengde vrugteboerdery langs die Breërivier op Robertson in die WesKaap grootgeword. Haar twee broers boer steeds in die distrik en sy woon sedert 2009 weer op die dorp. Vir die eerste semester van die akademiese jaar pendel sy weekliks Kaapstad toe om klas te gee. Die res van die jaar pendel sy Karoo toe vir navorsing en om boeregemeenskappe toe te spreek.

“Tussendeur doen ek so ongemerk ՚n bietjie voorligting ook!” sê sy.

Haar pad met landbou

Nadat Beatrice in 1984 aan Hoërskool Robertson gematrikuleer het, is sy Stellenbosch toe om Onderwys te gaan studeer. “Nadat ek 50% vir Wiskunde 1 gekry het, het ek besluit BSc is nie vir my nie,” vertel sy. “Ek gaan kyk toe in die landboufakulteit rond en daar kry ek BSc Landbou met Hortologie en Plantteel. Na baie jare in die Landsdiens het ek nogal belang gestel in fynbosteling en -kommersialisasie. In die eerste Genetika-prakties kyk ons na voorbeelde van menslike genetiese afwykings – en toe vlug ek landbouekonomie toe!”

In 1988 verwerf sy haar BSc Landbougraad met Hortologie en Landbou-ekonomie as hoofvakke, en in 1989 ՚n honneursgraad in Landbouekonomie. “Ek was die enigste meisie in my jaargroep in Landbou-ekonomie en dit het aanvanklik gevoel of ek afgeknou word. Gelukkig het ek ՚n bietjie verstand en ek altyd goeie aantekeninge gehad, en mettertyd het die respek meer geraak. Dit het effens langer gevat om die dosente te oortuig!”

Langkloof

՚n Week nadat sy by Elsenburg begin het om ՚n beurs terug te werk, het sy besef haar heil lê elders. “In dié week is ek saam met ՚n afvaardiging Langkloof toe gestuur om ՚n verslag oor die droogte te gaan skryf. Daar het die Langkloof Koöperasie, Lanko, my afgevry en vier jaar lank daar gehou.” Beatrice se Langkloof-ervaring het haar gehelp om haar voete te vind.

“Ek het as jong meisie die vryheid gehad om al die foute in die wêreld te kon maak. Die direksie van die koöperasie het baie mooi na my gekyk – ek voel oor die algemeen veilig in ՚n klein gemeenskap.”

Kort voor die 1994-verkiesing is sy terug Stellenbosch toe om ՚n MSc in Landbou-ekonomie oor die haalbaarheid van grondverdeling in die appelbedryf te doen. Die resultate het duidelik gewys dat dit ՚n stap agteruit sal wees om ՚n plaas van 80 ha in twintig stukkies op te snipper. In 1996 is sy genooi om ՚n jaar lank aan die Katolieke Universiteit van Leuven in België deur te bring. Daarna is sy vir twee-en-՚n-half jaar Colorado toe vir ՚n PhD aan die Colorado State University in Fort Collins.

“Die tesis het gehandel oor die herverdeling van water uit die Oranje-VisrivierWaterskema in die Oos-Kaap – en vir die projek moes ek bitter vinnig leer hoe skape werk! Hierdie keer is bevind dat landbou eintlik min waarde aan skaars waterbronne toevoeg, en dit is steeds waar.”

՚n Jong rooijakkals in die Anysberg Natuurreservaat. Navorsing op roofdiere en veral jakkalse is deur dr Beatrice Conradie en kollegas onderneem om vas te stel watter invloed die roofdiere op winsgewende skaapboerdery in die Karoo het. (Bron: https://www.semanticscholar.org/paper/Understanding-the-black-backedjackal-Nattrass-Conradie/7c3c961c37a523367643aebe77f1332b6a0a6ce6)

Universiteit van Kaapstad

In Januarie 1999 kry sy ՚n telefoonoproep van UCT wat haar nooi om by die universiteit aan te sluit: “Hulle was op soek na ՚n landbouekonoom, en die res is geskiedenis …” Haar navorsing as landbouekonoom het wye draaie gegooi en die uitkomste speel steeds ՚n rol in landboubesluitneming.

Die navorsing sluit onder meer in:

Minimumloon

Die uitwerking van die instelling van die minimumloon in 2003 op indiensneming. Sewe jaar lank besoek sy jaarliks 120 boerderye in die Breëriviervallei om hulle indiensnemingspraktyke dop te hou. Destyds het die wynbedryf ernstig meganiseer en die bedryf het uitgebrei sonder dat werksgeleenthede tred gehou het.

“Dit is ՚n tipiese voorbeeld van die unintended consequences van ՚n misplaaste beleid. Dié debat duur voort, maar niemand samel tans inligting by werkgewers in nie,” sê sy.

Tegniese vooruitgang

Die Suid-Afrikaanse landbou het vanweë tegniese vooruitgang teen ongeveer 1,26% per jaar verbeter, veral na 1965 en al hoe beter in die 1980’s. Die WesKaap het heelwat beter as die res van die land gevaar; en binne die Wes-Kaap is die beste groeikoerse in die besproeiingsdistrikte van die Breërivier en Olifantsriver aangeteken. Water is duidelik goud werd.

Oos-Kaap

Beatrice se fokus is op produktiwiteitswerk. In die OosKaap word daar na die suiwelbedryf gekyk. Haar student, Craig Galloway, vra of daar ՚n konflik tussen omgewingsoogmerke en winsbejag op melkplase is en bevind winsbejag is goed vir die omgewing solank boere van weidings af melk. Andrea Renner het gekyk na die invloed van studiegroepdeelname op plaasprestasie en bevind dat almal, maar veral boere naby die voorligtingskantoor, baat vind by private voorligting. Die navorsing in die Oos-Kaap duur voort.

“Tans vra Gary Pitt vrae oor dierewelsyn en doeltreffendheid. Die melkbedryf is myle voor enige ander bedryf in die land as dit kom by hoe om doeltreffendheid op plaasvlak te verbeter,” sê Beatrice.

“Ek het eers nou die dag besef die minimumloonprojek was my derde groot projek oor hervorming in die landboulandskap. Eers grond, toe water, en toe arbeid. Daarna sou ek nog by bewaring en ongediertebeheer ook gaan draai, om van klimaatsverandering nie te praat nie!” sê sy.

“Ek is nou maar eenmaal nie ՚n sonskyn-ekonoom nie, maar dit is vir my belangrik om die waarheid te praat en boere te help om die moeilike omstandighede op die tafel in die oë te kyk.”

Afrika

Beatrice se studente uit die res van Afrika fokus ook op produktiwiteit. David Kapya van Zambië kyk na die doeltreffendheid van maatskappye wat landbouprodukte verwerk. Daar is ՚n massiewe verskil tussen groot, moderne fabrieke en primitiewe graanmeulens of visdroogbedrywe. Cathy Namome se PhD-studie handel oor alternatiewe vir tabakproduksie in Uganda, waar boere ten spyte van tabak se gesondheidsgevare aanhou tabak produseer.

“As die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) dit wil stop sal aan banke, voorligting, opleiding en waardekettings aandag geskenk moet word.” Elijah Mumba het bevind dieselfde faktore wat in Zambië kleinskaalse mielieproduksie strem ook in Uganda geld. Sankwa Chikumbe doen navorsing oor die makro-ekonomiese en klimaatsfaktore wat mielieproduksie in Zambië beperk.

“Zambië maak my opgewonde,” sê Beatrice. “Hulle het goeie data, en dit is meer as wat SuidAfrika tans kan sê.”

Karoo Die Karoo lê haar die naaste aan die hart. “Die Karoomense dink mos ek behoort aan die Karoo,” sê sy. “Dit is reg met my. Mense soos Piet en Maryke Gouws en Lukas Botes van die Koup het vir my ՚n vastrapplek in die Karoo gegee. Joseph Steyn van Prins Albert het gesê as ek op enige plek in die Karoo ՚n pap wiel kry, sal hy my kom help. Dit was voor selfoonontvangs, maar dit geld steeds.” Sy meen dit is in baie opsigte vir ՚n vrou makliker om voorligtingswerk te doen as vir ՚n man.

“My ondervinding is dat die mans makliker oopmaak as wat hulle teenoor ՚n ander man sou doen. En die grysheid help baie – ek is bly ek is nie meer twintig nie!” Miskien is dit omdat sy instinktief aanvoel wat die onderliggende probleem is, en dan iets daaromtrent doen.

Tomlinson-medalje

Haar werk in landbou is in 2019 met die Tomlinson-medalje bekroon vir ՚n lewenslange bydrae tot die bedryf. “Dit is ՚n eenmalige toekenning en my aanvaardingstoespraak het gehandel oor hoe goedkoop en maklik dit sal wees om 30% van die landbougrond in die Laingsburgdistrik vir grondhervorming te bekom.”

Inspirasie

Sy word begeester deur boere se wil, moed en dankbaarheid. “Daar is ՚n onwrikbare hoop wat in baie boere se harte lewe dat die natuur en die liewe Here vanjaar – of dalk volgende jaar – weer sal sorg. “Die liefde en sorg waarmee die meeste boere hulle plase vertroetel en die gelatenheid van boervroue ՚n honderd myl tussen niks en nêrens is ook vir my ՚n inspirasie: Hoe hulle opstaan, hoe hulle teen die onmoontlikhede van klimaatsverandering, droogte baklei.”

՚n Boer se kwelvraag bly haar by: “Het die reën al ooit oorgeslaan?” ՚n Honderd jaar se reënval-inligting maak haar opgewonde. Trouens, enige data maak haar opgewonde.

“Ek wens bedrywe waar dit goed gaan wil oper wees met hulle inligting, sodat ons meer studente in produktiwiteitsontledings kan oplei.” Maar haar inspirasie is ook die sonsopkoms en sonsondergange op ՚n kaal stuk teerpad uit die 1950’s wat haar siel sus. “En hekknippe wat werk, hekke wat nie sleep nie, behendig geskraapte grondpaaie, ՚n werf met bome, dorpies met skoon en heel strate. Die Karoo hou my nederig.”

Haar droom vir landbou

“Ek droom ook oor sterk en dinamiese opleidingsinstansies in elke streek en veral dat professore as akademiese leiers meer tyd sal maak vir boere. Universiteite het genoeg mannekrag om ՚n groter verskil in die boerdery te maak,” meen sy. Die wil ontbreek dalk soms. Nog ՚n droom is goeie samewerking op plaaslike en distriksvlak.

“Ons kort ouens wat nie te besig is om aan ՚n studiegroep te behoort nie, al weet hy dat hy meer gaan insit as wat hy daar gaan uitkry. “Bowenal hoop ek dat mense wat voel hulle is op hulle plase vasgevang sal besef hoe wonderlik hulle lewe eintlik is.”

Kontak Beatrice by beatrice.conradie@uct.ac.za 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0