Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 28th June 2023

Fendt se Ideal 8-stroper stroop doeltreffend tot by die wenstreep

By 2 min read

DSC_0025-1-1536×1024

Fendt se gewilde Ideal 8-stroper was weer ՚n gunstelling in dié jaar se stroperresies wat jaarliks deur die Grootpan-studiegroep aangebied word. Dit het deelgeneem in die klas 8-kategorie met die Geringhoff Mais Star 12- ry mielietafel.

“Ons is baie opgewonde om hier te wees,” glimlag Frans Cronjé, gebiedsverkoopbestuurder van Fendt. Sy opgewondendheid was nie verniet nie, want dié stroper het die derde plek in die klas behaal. Lees meer oor die resies in die artikel 2023-stoperresies op Grootpan: Groot, gulsige masjiene wys hulle staal.

“Die stroper wat ons vir vandag se resies ingeskryf het, is ons klas 8 Ideal. Hierdie spesifieke model het dubbelvoorwiele, maar dit is ook beskikbaar met rusperbande,” verduidelik Frans.

“Die rusperbande is beskikbaar in breedtes van 762 mm (30 duim) of 914 mm (36 duim).”

Die Geringhoff 12-ry mielietafel lyk of dit gemaak is vir die Ideal 8. Saam was dit ՚n gedugte span by die onlangse stroperresies.

Die Ideal 8 stroop doeltreffend van voor na agter

“Aan die voorkant het die sluk 220 kW aandrywing. Die voerdrom pas proporsioneel aan volgens die rotorspoed. Hierdie is ՚n unieke gepatenteerde kenmerk van die Fendt-stropers waar die voerdrom altyd teen 70% van die rotorspoed materiaal invoer,” vertel hy.

Die rotor is steeds die langste op die mark met 4,8 m. Dit verseker verbeterde skeiding en meer doeltreffende dorsaksie omdat dit ՚n enorme dorsoppervlakte skep. Die Ideal se rotors het hidrouliese omkeervermoë in die geval van ‘n blokkasie. Die Ideal 8 het ՚n dubbelhelix-rotorstelsel wat beteken daar is twee identiese rotors aan weerskante van die masjien. Hierdie kenmerk maak dat die stroper se dorsopppervlakte 1,66 m2 beslaan. Die skeidingsoppervlakte is 2,88 m2. Die dubbelhelix-rotorstelsel is beskikbaar in die Ideal 8, 9 en 10. Die stroper se tafelaandrywing is ontwerp om hidroulies terug te draai indien iets binne-in vasteek.

Die Ideal 8-stroper in sy kenmerkende swart gewaad.

Verdere kenmerke van die Ideal 8 stroper

Die Ideal 8 is ՚n 401 kW stroper. Hierdie bielie het ՚n 17 100-liter graantenk. Onder die kap sit ՚n kragtige 12,4-liter MAN-enjin wat hoë krag lewer teen laer omwentelings. Om te sorg dat die enjin optimaal funksioneer, is daar ՚n AirSense®-verkoelingseenheid wat bestaan uit ՚n 950 mm omkeerbare waaier en ՚n verkoelingsoppervlakte van 2,7 m².

Afhangende van die tyd en temperatuur, keer die waaier om om ook die verkoelingseenheid skoon te hou.

Frans Cronjè, gebiedsverkoopbestuurder van Fendt, het nie net die stroper se werking verduidelik nie, maar ook die stroper tydens die wedloop bestuur.

Vir meer inligting oor Fendt Ideal-stropers, kontak gerus vir to Frans Cronjè by 066-581-7505 of Frans.Cronje@agcocorp.com, of gaan kyk self by jou naaste vriendelike, behulpsame handelaar. Besoek hul webwerf by https://www.fendt.com/za/

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment