Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 6th February 2026

Ermelo Hooidag bewys waarde van moderne hooimaak

By 7 min read
1334 words

DSC_0181

In ’n boerdery-omgewing waar weerstoestande al hoe meer onvoorspelbaar raak, bly hooi een van ie belangrikste skakels in volhoubare veeproduksie. Vir boere is hooimaak nie bloot ’n seisoenale aktiwiteit nie, maar ’n strategiese besluit wat ’n direkte invloed het op voergehalte, kostebestuur en uiteindelik die winsgewendheid van die boerdery.

Elke sny, elke draai en elke baal tel, en daarom is die keuse van die regte hooimaak-toerusting net so belangrik as die toestand van jou lande en jou gras. Wanneer die hooimaak-venster oopgaan, is daar min ruimte vir foute.

Betroubare, doeltreffende toerusting wat presies doen wat dit moet, maak die verskil tussen voer van uitnemende gehalte en verliese wat lank ná die seisoen nog gevoel word. Dit is juis hier waar praktiese demonstrasies, tegniese kennis en eerstehandse ervaring onontbeerlik raak en presies waarom geleenthede soos die Ermelo Hooidag so ’n belangrike rol in die landboulandskap speel.

’n Dag van trots en mooi hooi

Ná afloop van die dag het dit duidelik geword dat die Ermelo Oos Boerevereniging se tweede Hooidag nie net aan verwagtinge voldoen het nie, maar dit in baie opsigte oortref het. Volgens Gerhard Grobler, lid van die Ermelo Oos Boerevereniging en gasheer op wie se plaas die dag gehou is, kyk die groep met groot dankbaarheid terug op ’n besonder geslaagde geleentheid.

“Ons kyk as groep met dankbare harte terug na ons tweede Hooidag wat hier op my plaas Smitsfield op die Lothair-pad buite Ermelo aangebied is,” sê Gerhard.

“Die uitstallers is baie positief om deel te wees van die dag en om betrokke te raak. Die Hooidag het vanjaar met 15 nuwe uitstallers gegroei in vergelyking met verlede jaar, TWK was weereens vanjaar ons hoofborg van die geleentheid.”

Volgens Gerhard het verskeie faktore bygedra tot die sukses van die dag. “Ons het ’n baie suksesvolle dag gehad. Die weer het saamgespeel, daar was baie gras, en ons is werklik geseënd hierdie jaar,” vertel hy trots. Vir Ruan Grobler, ’n jong opkomende boer en ook lid van die Ermelo Oos Boerevereniging, lê die waarde van die Hooidag veral in die praktiese blootstelling wat dit bied. Hy meen die dag skep ’n unieke platform waar boere nie net toerusting kan sien nie, maar dit ook in werklike plaasomstandighede kan ervaar.

“Vir my as jong boer is hierdie dag ’n ongelooflike geleentheid om inligting in te win,” sê Ruan. “Jy kan die nuutste tegnologie en toerusting van nader sien, nuwe maniere leer hoe om bale te maak, en ook idees kry oor wat jy anders binne jou boerdery kan doen. Om dit fisiek in die veld te sien werk en met rolspelers te kan gesels oor jou spesifieke behoeftes, maak ’n groot verskil.”

Hy voeg by dat die vereniging met reg trots kan wees op wat hulle bereik het. “Ons as Ermelo Oos Boerevereniging is baie trots daarop om hierdie dag aan te bied. Die hooi is mooi, die trekkers is mooi, die balers is mooi, die harke is mooi, dit is regtig ’n ongelooflike mooi dag.”

Demonstrasies

Vanjaar se demonstrasies deur verskeie handelsmerke waaronder Rovic, Massey Ferguson, Case IH, Jupidex, Orbach Agri, Falcon, Agri Hawk en ander was werklik indrukwekkend. Die terugvoer wat die organiseerders ná afloop van die dag ontvang het, was oorweldigend positief, met boere wat veral die praktiese aard van die demonstrasies waardevol gevind het.

Volgens Gerhard het die demonstrasies boere blootgestel aan tegnologie wat nie noodwendig algemeen in die Hoëveld gebruik word nie, maar wat toenemend relevant raak.

“Iets wat baie interessant is, is dat ons hier in die Hoëveld hoofsaaklik droë bale maak. Nie baie mense maak nat hooi nie, en ons draai ook nie sommer ons bale toe nie. Vanjaar het ons egter die geleentheid gehad om te sien hoe baaltoedraaiers (wrappers) werk.”

Hy verduidelik dat ’n baaltoedraaier boere in staat stel om natter hooi te baal, wat help om kuilvoerhooi te verseker met ’n hoër voedingswaarde. “Op die ou end voer jy minder hooi om dieselfde voedingsbehoefte te dek, wat dit nie net ’n praktiese nie, maar ook ’n ekonomiese oplossing maak,” sê Gerhard.

Vernuwende tegnologie in aksie: Falcon demonstreer hul afstandbeheerde snyer aan boere.

Wat sê die uitstallers?

Verskeie uitstallers het vanjaar aan die Ermelo Hooidag deelgeneem en hul produkte en dienste aan boere in die omgewing ten toon gestel. Die terugvoer van uitstallers oor hul betrokkenheid by die dag was oorwegend positief, met baie wat die waarde van direkte interaksie met boere beklemtoon het.

Adriaan Groenewald, verkoops-verteenwoordiger van MCM Toerusting, beskryf hul deelname as ’n besondere voorreg. “Dit is vir ons ongelooflik lekker om deel van die dag te wees. Een van ons eie kliënte, Gerhard Grobler, het ons genooi om betrokke te raak, en hy gebruik ook een van MCM se masjiene op sy plaas vir hooibedrywighede,” vertel Adriaan. MCM bied ’n wye reeks toerusting aan, wat wissel van laaigrawe en TLB’s tot verskeie ander konstruksie-toepassings, wat ook ’n rol speel in plaasinfrastruktuur en instandhouding.

Gehard de Clerk van Precision Analytix vertel dat hulle reeds vóór die 2026-Hooidag betrokke geraak het by die voorbereiding van die demonstrasieperseel.

“Ons het saam met Gerhard op die plaas gewerk aan presisie-grondontledings om die stuk gras waar die demonstrasies plaasgevind het, reg te stel. Ons haal die menslike faktor uit grondontledings en doen alles met tegnologie, teen eweredige dieptes.”

Hy verduidelik dat Precision Analytics ’n onafhanklike benadering volg. “Ons is toegewy om die boer te help en saam met hom die pad te stap. Ons verkoop geen kunsmis, kalk of ander produkte nie. Ons stel bloot ’n verslag op en help die boer om ingeligte besluite te neem.”

Rand Agri was ook een van die uitstallers en beskryf hul betrokkenheid as besonders betekenisvol. Volgens GJ Swart is dit vir hulle ’n groot voorreg om deel van die Hooidag te wees. “Rand Agri is graanhandelaars, ons koop en verkoop graan en ons is baie betrokke by boere in hierdie omgewing. Ons koop gereeld graan van plaaslike produsente, en dit is net lekker om deel te wees van die dag, blootstelling te kry en met boere te kan gesels en netwerk.”

Gehard de Clerk van Precision Analytix was een van die uitstallers op die dag en hy was ook voor die dag betrokke om die grondontledings van die perseel te doen en reg te kry.

Van JR Lubricants sê Malcolm dat die dag ook ’n geleentheid bied om iets terug te gee. “Ons het takke in Standerton en Heidelberg, en so ’n dag gee vir ons die geleentheid om terug te gee aan die gemeenskap en aan ons boere,” sê hy.

Vooruitsigte

Uiteindelik het die Ermelo Hooidag weereens bewys dat dit veel meer is as net ’n demonstrasiedag. Dit is ’n ontmoetingsplek waar kennis, tegnologie en boere bymekaar kom en ook die geleentheid kry om ingeligte besluite te neem wat hul bedrywighede op lang termyn versterk. Met die oog op die toekoms is die Ermelo Oos Boerevereniging reeds besig om vooruit te beplan.

“Volgende jaar sal ons beslis weer hier wees, ons gaan nêrens heen nie. Hierdie Hooidag is ’n jaarlikse instelling,” sê Gerhard.

“Ons het reeds aanduidings van nuwe borge en uitstallers wat deel wil wees van die dag. Ons hoop en glo die Ermelo Hooidag sal net van krag tot krag groei en elke jaar groter en beter raak. Dit is ’n absolute leer-dag waar boere kan sien wat in die bedryf beskikbaar is, en watter hooimaaktoerusting by hul behoeftes en hul sak sal pas,” sê Gerhard.

Met sterk ondersteuning vanuit die bedryf, groeiende belangstelling van uitstallers en ’n boerderygemeenskap wat bereid is om saam te leer en te groei, het die Ermelo  Oos Boerevereniging ’n geleentheid gevestig wat duidelik ’n vaste plek in die Hoëveld se landboukalender inneem, een wat net van krag tot krag sal groei.

Kragtig en doeltreffend: New Holland demonstreer hul Roll Belt 150-baler saam met die T6070-trekker, wat boere wys hoe moderne kombinasies vinnig en perfek ronde bale kan lewer.

Die Ermelo Oos Boerevereniging se lede ná afloop van ’n suksesvolle Hooidag.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0