Droogte in die Suid-Kaap, brande noop ramptoestand

akkerkloof dam
Die Akkerkloofdam wat Knysna in die Suid-Kaap van water voorsien het net 15% water. (Bron: Knysna-Plett Herald)
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning is van plan om die provinsiale kabinet te nader met die versoek om ‘n provinsiale ramp te verklaar gebaseer op die huidige droogte in die Suid-Kaap en die wydverspreide brande wat groot skade aangerig het.
Indien die Nasionale Rampbestuursentrum ‘n ramptoestand afkondig, sal dit die departement in staat stel om oor lynfunksies heen te fokus en vinniger geld tussen projekte te skuif indien en wanneer nodig.
Knysna droogtekrisis
Indien die Nasionale Rampbestuursentrum ‘n ramptoestand afkondig, sal dit die departement in staat stel om oor lynfunksies heen te fokus en vinniger geld tussen projekte te skuif indien en wanneer nodig.
Minister Bredell het die aankondiging verlede week tydens ‘n inligtingsessie deur die Knysna Gesamentlike Operasionele Komitee (GOK), medevoorsitter van die Departement van Plaaslike Regering en die Knysna Munisipaliteit gemaak.
Knysna se hoof waterbron, die Akkerkloof-dam, was verlede Dinsdag 13 Januarie) net 15% vol, en sonder aanvullings van reën of alternatiewe bronne, het die dorp net genoeg dae vir ‘n paar dae. .
Die Gesamentlike Operasionele Komitee fokus op korttermyn planne om bykomende water tot die voorsieningstelsel te voeg. Dit sluit die ontwikkeling van verskeie fonteine wat water van goeie gehalte verskaf, die skoonmaak van 17 bestaande boorgate wat met nuwe pompe toegerus moet word, die finalisering van ‘n ooreenkoms om 10 boorgate op privaat grond te gebruik, en ‘n ooreenkoms om toegang tot water van ‘n boorgat by ‘n moskee te kry.
Bredell sê alle rolspelers moet help om ‘n Dag Zero in Knysna te voorkom deur nie meer as 50 liter water per dag te gebruik nie. “Met die ontwikkeling van bykomende bronne sal ons saam hierdie moeilike tyd oorleef.”
Droogte in die Suid-Kaap
Die droogte in die Suid-Kaap kom al van vroeg verlede jaar af aan.
“Dis ‘n kopding:Na die goeie reëns die afgelope paar jaar het ons dalk gedink dit gaan nooit weer droog raak nie..,” se Henry Meyer, suiwel- en saaiboer van Mosselbaai in die Tuinroete waar 2025 se min winterreën die boere laat taaitrek.
Henry is Agri Wes-Kaap se verteenwoordiger in die streek wat van Albertinia tot by Plettenbergbaai in die Suid-Kaap strek. Graan, vleis, wol, melk, groente en vrugte word in die streek produseer.
“Ons het nog net 62% van ons gewone reën gekry – slegs 424 mm van die langtermyn gemiddeld van 680 mm.”
Maar ten spyte van die droogte het die boere goeie oeste afgehaal. “Dit wys jou net: As dit op die regte tye reën is ‘n goeie oes steeds haalbaar.”
Volgens hom het dit In April en Mei vanjaar gereën “April was amper te nat om te plant. Maar van1 Julie af tot einde September het dit net 18 mm gereën.”
Boonop was Oktober se gewoonlik matige dagtemperature hoër as 30 °Celsius. “Die oeste het ryp gebrand. By Riversdal het dit 60 mm en by Heidelberg 110 mm gereën, maar van Gourits tot by Plettenbergbaai amper niks. Die hitte het ons ondergrondse vog vinniger as normaalweg uitgedroog.
‘n Deurkomjaar
“Maar soos altyd plant ons in goeie geloof dat die saad sal opkom en dat ons nog goeie reën sal kry.”
Intussen trek al die boere swaar. “Min voer is gebaal – ek elf het niks gebaal nie want ek het die graan wat vir voer geplant is, op die lande laat opvreet. Maar ons almal het te veel vee op die plaas – dis al manier hoe ons kan oorleef.
“Soos ‘n jong boer onlangs opgemerk het: Vanjaar was net ‘n deurkomjaar – volgende jaar gaan taai wees. Min landboumasjinerie soos koringplanters gaan verkoop; saaiboere gaan taaitrek.
“Die boere het nie ekstra kapitaal nie en boonop ‘n klomp oorstaanskuld – hulle kan nie hulle koöperasierekening betaal nie.”
As verteenwoordiger van Agri Wes-Kaap het hy die laaste twee maande van verlede jaar al die boereverenigings in die streek besoek om hulle ook in te lig oor die protokol rondom bek-en-klouseer.
Volgens hom het hy lanklaas groot en klein boere so intens hoor kla.
“Almal zoem in op boere – hulle kry die skuld vir alles wat negatief is, maar hulle het nie ‘n sê in die pryse wat hulle vir hulle produkte ontvang of die pryse wat hulle vir insetkoste moet betaal nie. Die middelmanne en aankopers maak wins uit die boere se ellende.”
Henry lys ‘n klomp van die ellendes wat boere kwel:
- Graanboere kla dat goedkoop, substandaard koring wat ingevoer word met uitstekende Suid-Afrikaans koring gemeng word om die gehalte van die ingevoerde produk te verbeter. “En dan word dié koringmengsel van swak gehalte teen dieselfde prys as goeie koring verkoop.”
- Sedert die uitbreek van bek-en-klouseer is vleispryse af tot op die2017-vlak.
- Wolpryse is swak omdat bek-en-klouseer ekstra hittebehandeling vereis voordat die wol uitgevoer mag word.
- Die volstruisleer- en -verebedryf kry ook swaar. ”‘n Groot volstruisboer sê nou die dag vir my dié bedryf gaan net oorleef as die helfte van die volstruisboere ophou boer.”
- Melkpryse is onder druk omdat die insetkoste te hoog is, al het voerpryse met tussen 8% en 10% afgekom het. Mielies en soja se pryse het nog meer geval.
- Insetverskaffers skakel al meer om na groot maatskappye met aandeelhouers wat opbrengs op kapitaal soek. “Hulle skuif die pryse op al raak die standaard van dienslewering en produkte soms laer.”
- Kunsmismaatskappye raak ook al groter, wat die vryemarkstelsel uitkanselleer.
- Voorts kla die boere ook dat die prys van elektriese krag hulle doodmaak. “Ons is nou in die knyp met besproeiing, maar al het ‘n mens water, besproei jy minder net om krag te spaar.”
- Arbeid is nog ‘n uitdaging omdat die beskikbaarheid van arbeid daal. “Die skuld word op Sassa-toelae gepak, want die mense wil nie werk nie.” Dit maak boere afhanklik van buitelanders wat goeie werkers is, maar die regering wil hulle nie hier hê nie.”
Nuwe planne na Nuwejaar
“Nou gaan ons maar eers die groot dae van Kersfees en Nuwejaar vier, dan begin ons weer planne maak vir volgende jaar,” het hy in Desember gesê. “Maar ek dink partykeer dis juis die planne wat ons as boere beraam wat ‘n meulsteen om ons nekke is – maatskappye stoot hulle pryse op want hulle wéét ons sal planne maak.”