Categories: NuusPublished On: 26th August 2026

Toename in misdaadinsidente op plase in die Vrystaat wek kommer

By 3 min read
520 words

17347557-farm-gate-7201005_1280

Vrystaat Landbou (VL) is bekommerd oor ’n toename in misdaadinsidente op plase in verskeie dele van die Vrystaat wat die afgelope tyd opgemerk word.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheid risiko-analis van VL, wek die aard en omvang van die insidente kommer, omdat verskeie voorvalle op ’n soortgelyke modus operandi dui.

Buys wys uit dat ’n verdagte verlede week in die Excelsior-gebied in hegtenis geneem is nadat daar na bewering gepoog is om honde te vergiftig en ’n Toyota-bakkie te steel. In die Hobhouse-gebied is drie verdagtes, wat vermoedelik vanuit Lesotho opereer, in hegtenis geneem in verband met trekkerdiefstalle. Die verdagtes word deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) aangehou hangende verdere ondersoek.

Volgens Buys het twee soortgelyke insidente ook hierdie week (Maandagaand) gedurende die vroeë oggendure in die Tweespruit-gebied plaasgevind, waar daar na bewering gepoog is om honde te vergiftig, asook om ’n voertuig en trekker te steel.

“Volgens inligting dui die modus operandi daarop dat dieselfde sindikaat moontlik by verskeie van die insidente betrokke kan wees. Die voorvalle vind hoofsaaklik tussen ongeveer 23:00 en 02:30 plaas, met twee tot drie verdagtes wat tipies betrokke is.”

In die Bothaville-gebied is 26 ongedokumenteerde buitelanders ook in hegtenis geneem nadat hulle na bewering onwettige mynbedrywighede op ’n plaas bedryf het.

Breër misdaadpatroon

Buys sê dat die jongste voorvalle deel vorm van ’n breër tendens wat in verskeie gebiede van die Vrystaat waargeneem word. Dit sluit onder meer onwettige jag met honde, vee- en graandiefstal, asook die diefstal van koperkabels, transformators en sonkragpompe en -panele in.

Jakkals le Roux, voorsitter van VL Landelike Veiligheid-komitee, sê: “Vrystaat Landbou doen ’n beroep op boerderygemeenskappe om hul paraatheid te verhoog en enige verdagte aktiwiteite of misdaadinsidente onmiddellik aan die SAPD en hul plaaslike Landelike Veiligheidskoördineerder (LV-koördineerder) te rapporteer.

Boerderygemeenskappe word verder aangemoedig om:

•misdaadinsidente tydens maandelikse veiligheidsvergaderings aan te meld;
•plaaslike misdaadvoorkomingsaksies en operasies saam met die SAPD te versoek;
•aktief aan plaaslike veiligheids- en patrollie-aksies deel te neem; en

•alle misdaadinsidente ook aan Vrystaat Landbou se verteenwoordigers deur te gee, sodat dit met die betrokke distriks- en provinsiale strukture opgevolg kan word en die nodige operasies en hulpbronne gemobiliseer kan word.

“Die jongste insidente beklemtoon weereens die belangrikheid van samewerking, kommunikasie en gemeenskapsbetrokkenheid in die voorkoming en bekamping van plaasaanvalle en ander misdade op please”, sê le Roux.

“Boere en landelike gemeenskappe moet paraat wees, maar moet ook verseker dat alle insidente aangemeld word sodat tendense geïdentifiseer en geteikende misdaadvoorkomingsaksies ingestel kan word.”

Investering in landelike veiligheid

Teen hierdie agtergrond bly Vrystaat Landbou ook daartoe verbind om praktiese veiligheidsinisiatiewe in landelike gemeenskappe te ondersteun. Die organisasie se jaarlikse Gholfdag het ten doel om fondse in te samel vir veiligheidsopleiding en -inisiatiewe in landelike gemeenskappe. Die fondse help om gemeenskappe toe te rus met die nodige veiligheidskennis en vaardighede om meer paraat te wees, risiko’s te identifiseer en doeltreffend op veiligheidsbedreigings te reageer.

Die Gholfdag, wat op 18 September by die Ladybrand Sportklub plaasvind, bied dus nie slegs ’n geleentheid vir ondersteuning van landelike veiligheid nie, maar dra direk by tot Vrystaat Landbou se breër fokus op veiliger en meer weerbare boerderygemeenskappe.

Bron: Vrystaat Landbou

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0