Categories: NuusPublished On: 27th August 2026

Die geskatte mielie-oes is die grootste nog op rekord

By 4 min read
787 words

pioneer nathan-kelly-7X4GrhnmIyY-unsplash-1200×800

Somergewasse – 2026

Kommersiële mielies: Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 17,402 milj. ton gestel, wat 0,23% of 39 200 ton meer is as die vorige skatting van 17,363 milj. ton. Dit is die grootste mielie-oes op rekord. Die verwagte gemiddelde opbrengs is 6,39 t/ha.

Die geskatte mielie-oes is 4,05% of 676 840 ton meer as die 2025-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes provinsies, gaan na verwagting 82% van die 2026-oes produseer.

Die produksieskatting van witmielies is 9,488 milj. ton, wat 1,03% of 97 000 ton meer is as die 9,391 milj. ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir witmielies is 1,675 milj. ha en die verwagte gemiddelde opbrengs is 5,67 t/ha.

Die produksieskatting vir geelmielies is 7,914 milj. ton, wat 0,73% of 57 800 ton minder is as die 7,972 milj. ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting is 1,050 milj. ha, met ‘n verwagte gemiddelde opbrengs van 7,54 t/ha.
Die oppervlakteskatting vir totale mielies is effens verhoog na 2,724 milj. ha, wat 0,29% of 8 000 ha meer is as die 2,716 milj. ha wat in Februarie 2026 geskat is. Die aanpassing in die oppervlakte is gebaseer op bykomende inligting wat uit die ontleding van satellietbeelde beskikbaar geword het. Die satellietbeeldontleding vorm deel van die Nasionale Oesskattingskonsortium se projekuitsette, waarvan die resultate gedurende Julie/Augustus beskikbaar gestel word.

Ander somergewasse:

Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd gelaat op 874 805 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 570 100 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,53 t/ha is.

Ander gewasse: Die produksieskatting vir sojabone is 3,010 milj. ton, wat 1,11% of 33 650 ton minder is as die 3,044 milj. ton van die vorige skatting. Dit is die grootste sojaboonoes wat nog aangeteken is. Die beraamde oppervlakte onder sojabone is 1 212 700 ha, met ‘n verwagte gemiddelde opbrengs van 2,48 t/ha.

Die verwagte grondboon-oes is verhoog na 62 553 ton, wat ’n toename van 8,23% of 4 755 ton verteenwoordig teenoor die vorige skatting van 57 798 ton. Die oppervlakteskatting vir grondbone is 44 650 ha, met ‘n verwagte opbrengs van 1,40 t/ha.

Die produksieskatting van sorghum is 138 248 ton, wat 3,71% of 5 330 ton minder is as die vorige skatting van 143 578 ton. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 45 000 ha, en die verwagte opbrengs is 3,07 t/ha.

Die produksieskatting vir droëbone het effens afgeneem na 79 155 ton, wat 1,03% of 820 ton laer is as die vorige skatting van 79 975 ton. Die beraamde oppervlakte onder droëbone is 38 520 ha, met ‘n verwagte gemiddelde opbrengs van 2,05 t/ha.

Neem asseblief kennis dat die agtste produksieskatting vir somergewasse vir 2026, op 29 September 2026 vrygestel sal word.

NIE-KOMMERSIëLE MIELIES – OPPERVLAKTE- EN PRODUKSIESKATTING: 2026

Die voorlopige oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbou-sektor word geskat op 397 170 ha, wat ’n toename van 10,94% verteenwoordig in vergelyking met die 358 000 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 695 025 ton, wat 11,83% meer is as die 621 500 ton van die vorige seisoen.

Dit is belangrik om daarop te let dat ongeveer 36,96% van die mielies wat geproduseer word in die nie-kommersiële sektor, in die Oos-Kaap geplant word, gevolg deur Limpopo met 31,00% en dan KwaZulu-Natal met 21,90%.

Wintergewasse – 2026 produksie-seisoen

Koring: Die verwagte produksie vir koring is 1,762 milj. ton, wat 7,50 % of 142 980 ton minder is as die vorige seisoen se oes van 1,906 milj. ton, terwyl die verwagte opbrengs 3,68 t/ha is. Die verwagte produksie in die Wes-Kaap is 874 500 ton (50%), wat 105 600 ton minder is as die 980 100 ton geproduseer in die vorige seisoen. In die Noord-Kaap is die beraamde produksie 288 000 ton (16%) – 14 000 ton minder as die 302 000 ton geproduseer in die vorige seisoen. In die Vrystaat is die verwagte produksie 257 600 ton (15%), wat 13 150 ton minder is as die vorige seisoen se oes van 270 750 ton.

Die oppervlakteskatting vir koring is hersien na 479 500 ha, wat 5 600 ha meer is as die 473 900 ha van die vorige skatting. ’n Geskatte 330 000 ha of 69 % is in die Wes-Kaap aangeplant, 56 000 ha of 12 % in die Vrystaat en 40 000 ha of 8 % in die Noord-Kaap.

Die skatting van die oppervlakte beplant in die Wes-Kaap is hoofsaaklik gebaseer op inligting wat verkry is vanaf die Produsente Onafhanklike Oesskattingstelsel (“PICES”), soos deur die Nasionale Oesskattingskonsortium uitgevoer. Neem asseblief kennis dat die “PICES”-skatting van die oppervlakte beplant vir die Vrystaat eers in September 2026 beskikbaar sal wees.

Ander gewasse: Die produksieskatting vir gars is 414 640 ton, wat 20,19% of 69 640 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 345 000 ton. Die hersiene oppervlakte beplant word beraam op 105 320 ha, terwyl die verwagte opbrengs 3,94 t/ha beloop.

Die verwagte kanola-oes is 359 045 ton, wat 17,33% of 53 045 ton meer is as die vorige seisoen se oes van 306 000 ton. Dit is die grootste kanola-oes op rekord. Die hersiene oppervlakteskatting vir kanola is 194 390 ha, met ʼn verwagte opbrengs van 1,85 t/ha.

Die verwagte oes vir hawer vir die 2026-seisoen is 54 890 ton en die oppervlakteskatting is 40 400 ha. Die verwagte opbrengs is 1,36 t/ha. In die geval van soetlupine is die produksieskatting 18 000 ton.

Die oppervlakte beplant met soetlupine is 20 000 ha, en die verwagte opbrengs is 0,90 t/ha. Neem asseblief kennis dat die tweede produksieskatting vir wintergewasse vir 2026 op 29 September 2026 vrygestel sal word.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0