Categories: Artikels, Meganisasie, TrekkersPublished On: 15th September 2026

Drie dekades se kennis spoor Valtrac steeds aan

By 2 min read
421 words

_DSC0207_edited

Valtrac vier hierdie jaar sy 30ste bestaansjaar.

Op Valtrac se NAMPO Kaap-standplaas vanjaar was ’n ou bekende rooi trekker, ’n Valmet 15. Die trekker, wat jare laas in die Kaap gesien is, is afgestof en uit sy stoorplek gestoot om een rede: 2026 is Valtrac se 30ste bestaansjaar.

Sowat 30 jaar gelede het Wynn Dedwith begin soek na beter trekkers as die Volvo-reeks wat hy toe reeds jare lank ingespan het op sy eie plaas. Wat begin het as ’n soektog na iets beter, het vinnig gegroei tot ’n goue geleentheid vir sy eie besigheid.

“Dit het eintlik maar gekom uit ’n behoefte wat ek gehad het, om my ou Volvo-trekkers te vervang … Omdat ek die ou trekkers geken het en ’n lang pad met hulle geloop het, het ek toe met die Valmets begin.

“Nie om ’n besigheid te begin nie, maar ja, vandag versprei ons landwyd trekkers,” sê oom Wynn, soos hy homself voorstel wanneer hy jou met ’n stewige handruk groet.

Hy verduidelik dat die trekkers en implemente wat hulle nou versprei, begin het as ’n behoefte wat sy bure gehad het. Saam met Valtra het hy aan verskillende internasionale skoue deelgeneem, en hier het hy die geleentheid gekry om te sien watter implemente en trekkers vir die behoeftes van omliggende boere geskik was.

By vanjaar se NAMPO-standplaas het ou en nuwe Valtrac-kliënte almal ‘n draai gemaak om die maatskappy geluk te wens met sy 30ste bestaansjaar. Meeste van die besoekers het vasgesteek by die ou Valmet 15, ’n 1953-model, om meer uit te vind oor die klein trekker en ook die eienskappe van meer moderne Valtra-trekkers.

Die Valtra-trekkerreeks bly steeds die voorkeurkeuse vir baie boere.

30 Jaar se ervaring in ʼn bedryf vol uitdagings

Oom Wynn onthou baie van die veranderinge wat hy al oor die afgelope 30 jaar in die bedryf ervaar het. Hy bevestig ook dat tegnologie hier is om te bly, met trekkers wat nou selfaangedrewe is met behulp van globale posisioneringstelsels (GPS’e).

Oor wat trekkertegnologie in die toekoms inhou, praat oom Wynn van kunsmatige intelligensie en hoe dit besig is om trekkerstelsels verander “Valtra, wat deel vorm van die AGCO-groep, doen baie navorsing om die trekkers se enjins en tegnologie te bevorder.

“So daar gaan definitief iets nuuts binnekort kom. Wat dit gaan wees, weet ek nog nie! Maar ja, verandering is op pad,” sê oom Wynn.

Vir meer inligting oor Valtrac se indrukwekkende reeks trekkers en implemente, kontak hulle by 056-817-7338 of 056-817-7308, of besoek valtrac.co.za om jou naaste handelaar op te spoor en met die betrokke verteenwoordiger te gesels.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0