Case IH vat voor by Stroperresies 2026 met beproefde Axial-Flow-tegnologie

DSCF0360
Case IH se drie stropers staan reg vir die resies.
Case IH het by die Stroperresies 2026 weereens bewys dat jy nie die hele appelkar hoef om te gooi om te wen nie; as jy ’n bewese produk soos hul Axial-Flow-tegnologie het, kan jy net vorentoe gaan, en dalk met die Stroperresies-titel wegstap!
Dit is juis hierdie innoverende Axial-Flow-tegnologie wat gesorg het dat Case IH vanjaar die algehele Stroperresies-wenners is.
Case IH het die volgende stropers ingeskryf vir vanjaar se Stroperresies en só het hulle gevaar:

Die Case IH Axial-Flow 6150-stroper wat tweede geëindig het in die klas ses-afdeling.
Klas ses: Case IH Axial-Flow 6150
Case IH het hul Axial-Flow 6150-stroper vir die klas ses-resies ingeskryf en het tweede geëindig met ’n telling van 83,42 uit 100.
Bart van Damme, Case IH se internasionale produkspesialis en stroperkenner, het verduidelik dat die 6150-stroper Case IH ’n klassieke bouvorm het, en ook beskik oor die bekende Case IH Axial-Flow-tegnologie. Die stroper was toegerus met ’n Geringhoff-agtry-stropertafel vir die resies.
Die konkawe op hierdie stroper kan maklik uitgeruil word, sodat ’n boer die konkaaf kan kies wat vir hom die hoogste kapasiteit bied. Hierdie stroper het ook minder aandrywingslyne – iets wat reeds lank deel van Case IH se ontwerpfilosofie is. Dit is ’n uitstekende keuse vir boere wat ’n middelreeks-, eenvoudige klas 6-stroper soek.
Die stroper is eenvoudige ontwerp met ‘n geïntegreerde snyer direk agter die rotor, sodat die oorblywende materiaal teen ’n hoë spoed in kleiner dele fyngekap kan word. Hierdie fyner deeltjies beweeg dan deur die verspreiders wat dit eweredig agter die stroper versprei.
Die skoonmaak oppervlakte (cleaning shoe) van die klas 6 stroper is 5,5 m². Hierdie skoonmaak area se boonste en onderste siwwe kan maklik verstel word en is ook so ontwerp dat onderhoud op die komponente nie ‘n tydsame proses is nie.

Case IH se Axial Flow 6150 is kort op John Deere se hakke tydens die klas ses-resies.Die uitslae van die Case IH Axial-Flow 6150 was as volg:
- Spoed: 37,46 uit 50
- Gruis onder die sif: 7,35 uit 10
- Materiaal op die tafel: 10 uit 10
- Vermorsing agter die stroper: 19,09 uit 20
- Koppe gelos of geknip: 9,52 uit 10

Case IH se Axial Flow 8620 eindig tweede in die klas agt-resies.
Klas agt: Case IH Axial-Flow 8260
Vir die klas agt-resies het Case IH hul Axial-Flow 8260-stroper ingeskryf. Hierdie stroper beskik ook oor dieselfde betroubare Axial-Flow-tegnologie, en het ook eersteplek behaal met 88,20 uit 100 punte.
Die Axial-Flow 8260 was aan die voorkant toegerus met ’n Geringhoff-twaalfry-stropertafel. Die hidrouliese voorvlakverstelling op hierdie stroper is baie handig wanneer sojabone geoes word; jy verander bloot die hoek van die stropertafel om by die veldtoestande aan te pas.
Hierdie stroper beskik ook oor die Case IH enkelrotor- Axial-Flow-tegnologie en vervangbare konkawe. In die Case IH Axial-Flow 8260-stroper is hierdie konkawe maklik om te vervang. In ander stropers sal jy die hele voorwiel moet afhaal maar met die Axial-Flow 8260-stroper hoef slegs twee boute te verwyder om by die konkawe uit te kom.
Die kettingaandrywing wat gebruik word vir die voerkamer van die masjien verseker dat die graan maklik ingevoer word, deur die rotor beweeg en uiteindelik na die graantenk gevoer word. Die graantenk het ’n kapasiteit van sowat 14 400 liter en spog met ’n uitlaaispoed van 159 liter per sekonde.
Die skoonmaak area (cleaning shoe) op die 8260 is 6,5 m² lank en die boonste en onderste siwwe kan maklik vervang word. Die ontwerp beteken ook dat onderhoud op die komponente makliker en vinniger gedoen kan word.
Boonop beskik die stroper ook oor ’n sywaartse gelykmaakstelsel (side levelling system) wat help om die stroper en skoonmaakskudder op hellings gelyk te hou.
“As jy in ’n heuwelagtige landery stroop, bly die hele skoonmaakskudder van voor tot agter altyd gelyk. Dus oorlaai jy nie jou siwwe aan die een kant nie en verminder dit vermorsing. Sodoende kan jy selfs onder daardie toestande met ’n hoë kapasiteit aanhou stroop,” het Bart verduidelik.
Die oorblywende materiaal beweeg dan na die strooiers. Alles in die stroper word vanuit die kajuit beheer, dus is dit nie nodig vir die operateur om uit te klim nie.
Die uitslae van die Case IH Axial-Flow 8260 was as volg:
- Spoed: 41,24 uit 50
- Gruis onder die sif: 7,43 uit 10
- Materiaal op die tafel: 10 uit 10
- Vermorsing agter die stroper: 19,53 uit 20
- Koppe gelos of geknip: 10 uit 10

Case IH se groot bielie: die AF9 stroper.
Case IH se splinternuwe AF9-vlagskipstroper
Die hoogtepunt van die dag was toe Case IH hul nuwe AF9-stroper vir die klas 10-resies ingespan het. Hierdie oorwinning het vir hulle die algehele eerste plek verseker, met ’n allemintige 99,94 punte uit 100.
Bart het gesê AF9 staan vir Axial-Flow 9: “Die AF9 is die grootste masjien wat ons tans op die mark het.” Die stroper wat tot sewe ton kan lig was toegerus met ’n Geringhoff-sestienry-stropertafel.
Die AF9 het ’n wyer vervoerband van sowat 1,8 m, en hierdie breedte strek deur die volle lengte van die stroper, wat ’n groter werkingsarea bied in vergelyking met ander stropers.
Die AF9 is ook ’n enkelrotorstroper, maar met ’n aansienlik groter kapasiteit danksy ’n langer rotor. Die rotor is 86 cm langer as die huidige 260 reeks. Dit gee vir jou twee meer konkawe vir die skeidingsaksie. Binne die rotorhuis is daar ’n verhoging vanaf die skeidingsarea (separation area) tot by die einde, wat meer ruimte vir die graan skep.
Die AF9 beskik oor outomatiese kontroles, hierdie stelsel staan bekend as Harvest Command en outomatiseer die stroper se graan hantering deur gebruik te maak van insette wat op die pro 1200 skerm geplaas word met AI tegnologie, dus pas die stroper die komponente aan vir optimale prestasie.
Bo-op die stroper is die graantenk met ’n uitlaaispoed van 159 liter per sekonde en ’n kapasiteit van 20 000 liter. Die uitlaaipyp standaard vir SA is 50 ft (15 m), omdat sommige van die stropertafels lank is en voldoende spasie vir uitlaai benodig.
Die Case IH AF9 is ook die stroper met die minste dryfbande, die geheim van die vlagskipstropers is dat die masjien se graanhantering hidroulies aangedryf word. Die voordeel van die hidrouliese aangedrewe komponente is meer krag tot jou beskikking.
Die enjinspoed van die AF9 is verlaag van 2 000 opm na 1 900 opm om brandstofverbruik in die veld te verminder. “Sodra jy begin stroop, sal jy sien hoeveel laer ons brandstofverbruik is in vergelyking met die van ander stropers,” het Bart gesê.
Hierdie stroper kan toegerus word met band en rusperband opsies en is ook beskikbaar met 4×4-aandrywing.
Die strooiers is horisontaal gemonteer en toegerus met twee radars – een aan die linkerkant en een aan die regterkant. Die radars meet die breedte van die stropertafel, sodat die stelsel outomaties kan verstel hoe wyd die materiaal gestrooi moet word. Die strooi stelsel pas ook automaties aan teen winderige toestande om jou sprei patrone te handhaaf.
“In die Kaap het ons al tot 21 meter wyd gestrooi, en die stroper het die materiaal steeds eweredig oor die veld versprei,” het Bart vertel.
Die groot trekpleister van hierdie stroper is die enjin en die rotor. Vir die eerste keer is die enjin en rotor in lyn geplaas, wat ’n reguit aandrywing vanaf die enjin tot by die rotor moontlik maak. Vir die boer beteken dit laer brandstofverbruik en beter doeltreffendheid. Die direkte aandrywing vanaf die dryfas (prop shaft) na die ratkas verseker dat die materiaal gladweg vanaf die voerband deur die stroper beweeg.

Case IH se splinternuwe AF9-stroper wat die klas 10-afdeling gewen het.
Die uitslae van die AF9 was as volg:
- Spoed: 50 uit 50
- Gruis onder die sif: 10 uit 10
- Materiaal op die tafel: 10 uit 10
- Vermorsing agter die stroper: 19,94 uit 20
- Koppe gelos of geknip: 10 uit 10
Die indrukwekkende uitslae van die Axial-Flow 6150 en 8260, gerugsteun deur die skoonskipvertoning van die splinternuwe AF9, het weereens gewys waarom Case IH se tegnologie die toets van tyd deurstaan. Deur voort te bou op dekades se betroubare ingenieurswese en dit met moderne, doeltreffende outomatisasie te kombineer, bewys hulle dat sukses nie altyd beteken om van voor af te begin nie. Case IH het nie net die resies gewen nie; hulle het die standaard vir die toekoms van stropertegnologie herdefinieer.
Om meer oor Case IH se Axial-Flow tegnologie of enige van hul stropers te leer, besoek hul webtuiste by https://www.caseih.com/en-za/southafrica