2024 Stroperresies: Case IH wen twee tweedeplekke

Case IH Stroperresies 2024
Sewesyferbedrae en stropers is sinoniem – daarom is die aanskaf van een van hierdie kolosse nie ’n saak wat ligtelik benader word nie. Boere het nodig om die stropers in aksie te sien en ook om dié van verskillende vervaardigers met mekaar te vergelyk.
Die Grootpan-studiegroep se Stroperresies het ՚n paar jaar gelede as ’n gesellige boerebraai en -kuier ontstaan, en oor die jare heen tot ’n betekenisvolle geleentheid op die landboukalender ontwikkel. Case IH het vanjaar weer twee stropers vir die resies in die Klas 6- en Klas 8-afdeling ingeskryf. Case IH se 8250 het sy man gestaan in die Klas 8-afdeling en met tweede plek weggestap.
Case IH se gewilde 6150-stroper het in die Klas 6-afdeling deelgeneem en ook tweede plek behaal. Kobus Olwagen, produkbestuurder by Case, vertel: “In 1979 is die eerste Case-stropers op Suid-Afrikaanse grond verwelkom. Hierdie stropers is al ՚n hele paar jaar op die mark, en die gewildheid van Case-stropers het geweldig toegeneem. Hierdie stropers het die enigste enkel-aangedrewe rotorstelsel wat deur Case gepatenteer is.”
Kobus vertel meer oor die spesifikasies en unieke kenmerke van die Case IH se 6150 Axial Flow-stroper: “Case IH se welbekende 6150-stroper het ՚n 8,7-liter Iveco-enjin wat 246 kW lewer. Die stroper se standaardrotor is 76,2 cm (30 duim) breed en 274,32 cm (108 duim) lank. Hierdie stropers het verskillende konkawe wat omgeruil moet word om verskillende soorte graan te stroop.

Kobus Olwagen is met reg trots op Case IH se stropers waarop SuidAfrikaanse boere sedert 1979 reken.
“Hierdie stroper se siwwe se skeidingsarea is 5,4 vierkante meter. Dit is groot genoeg om hierdie 8-ry Geringhoff-plukkerkop te hanteer en moontlik groter plukkers ook sou jy wou,” voeg Kobus by.
Kobus sê: “Hierdie is ՚n baie eenvoudige masjien. Daar is nie onnodige bewegende dele nie. Van die sluk af, die wydte wat die materiaal van die sluk af inkom, beweeg die materiaal in die rotor in, wat deurgedors word, die pitte val op die sif en gaan van daar af na die graantenk.

Case IH se 8250-stroper stap met tweedeplek in die Klas 8-afdeling van die Stroperresies weg.
“Al die komponente van hierdie stroper word met dryfbande aangedryf. Wanneer jy na die binnekant kyk, sal jy sien die stroper het standaard kafstrooiers. Daar is ook kapmesse wat verstel kan word om die materiaal growwer of fyner te maak,” verduidelik Kobus.
Die stroper se graantenk hou 10 570 liter, wat ontlaai teen 113 liter per sekonde. Die oorlaaigeut se tuit kan skarnier om die graan eweredig in die tapkar te versprei. Die stroper se 832”-voorbande en 628”-agterbande sorg vir goeie aandrywing en stuur sonder om die land onnodig vas te trap. Hierdie stropers kan ook met dubbelwie le bestel word. “Die stroper is toegerus met ՚n skoonmaakarea by die verkoeler waar die rolsif is. Die onnodige materiaal en blare word hier uitgeblaas en op die grond gegooi,” voeg Kobus by.

Die manne van Case IH na afloop van die Stroperresies.
Hierdie stropers spog ook met nuwe tegnologie om die boer en operateur se lewe makliker te maak.
Kobus verduidelik: “Dit gee vir jou elke drie sekondes ՚n lesing van die verloop van die proses wat op die skerm binne die kajuit gesien kan word.” Die kajuit is ook ontwerp met die operateur wat lang ure moet stroop in gedagte gehou. “Die waarborg op alle Case-stropers is 3 jaar of 1 500 uur,” sluit Kobus af.