VW Golf GTI TCR: Nr 7 se swanesang met witwarm TCR-model gevier

Volkswagen-Golf_GTI_TCR rear wheel
Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive
Die aankoms van VW se Golf 8 is om die draai, en Volkswagen het al laasjaar internasionaal die uitgaande model met ‘n baie spesiale TCR model gedenk wat slegs in beperkte hoeveelheid beskikbaar gestel was. In Suid-Afrika is die GTI modelle baie gewild en vertoon 33% van alle Golf modelle wat verkoop, ‘n GTI-embleem met ‘n aanhang wat omtrent kultusstatus geniet.
Die TCR het sy inspirasie gekry van die Volkswagen Golf renmotor wat twee maal die algehele wenner was van die internasionale TCR ren reeks. Suid-Afrika het 300 modelle ontvang en ek was bevoorrreg om nommer 299/300 (volgens die plaatjie op die voorpaneel) te kom toetsbestuur.
Die 2020 Golf GTI 7 TCR model is seker die enigste VW model, ten minste onder die Golf modelle, wat ten volle toegerus beskikbaar gestel is en geen opsionele ekstras aan kopers bied nie. Die enigste opsie is die keuse van kleur. Drie bakkleure is beskikbaar naamlik, Tornado Red, Pure White of Pure Grey. Ons het die Pure Grey model onder hande gehad.

Binne herinner die kajuit en veral sitplekbedekkings aan die eerste generasie GTI met rooi en grys gestreepte materiaaloorgetrekte sitplekke. Verder is dit hoë vlakke van gerief en moderne tegnologie wat die TCR binnekant spesiaal maak. ‘Virtual Cockpit” met ondermeer ten volle digitale instrumentasie, groot infotainment raakskerm en alcantara leerbedekte sportstuurwiel is maar enkeles om te meld. Wanneer jy die voordeure oopmaak gooi ’n spesiale liggie onder die kantspieël ‘n “TCR” halogrambeeld op die grond.
Buite word die TCR visueel onderskei deur ‘n spesiale swart lugsnoer voor onder, lugvloeiverdeler agter asook lugvinne agter wat langs die kant en om die hoeke agter strek om lugdruk na die grond te kanaliseer as jy die TCR oopketel deur die draaie wil looi. Daar is ook ‘n groter en meer prominente drukvin bo op die agterklap asook ‘n “TCR”-logo en bakplakker teen die agterdeure wat die TCR model uniek maak. Rooi remknypers vertoon sportief teen die spesiale blinkswart Riefnitz 19” allooiwiele, die eerste VW luikrug wat in Suid-Afrika met die swart allooiwiele getooi is. Touareg en Tiguan in R-Line gewaad is die ander modelle wat met swart allooiwiele kan spog. Die TCR klou aan die teer met behulp van 235/35/19 Continental rubbertekkies en ek kan getuig dat die warmbuks beïndruk het met uitstekende greep en remvermoë wanneer dit nodig was.

Die 2020 VW Golf 7 GTi TCR word aangedryf deur Volkswagen se beproefde 2.0 liter viersilinder turbo petrolenjin. Kraglewering is gelykstaande aan die vorige Golf R met aandrywing na die voorwiele deur ‘n seepgladde 6-spoed DSG dubbelkoppellaar ratkas met blitsvinnige oorskakelings veral in die Sport-modus. Die enjin geniet om die toere in die rooi te jaag en die uitlaatstelsel se knor, blaf en knalle wanneer met die ratte deur die toerestrek gespeel word, is simfonies verslawend vir ‘n petrolkop.
Op die pad het die TCR beïndruk met uitstekende verrigting,balans en dinamika, veral deur uitdagende draaie. Die model is dalk nie die vinnigste in sy klas in die reguitlyn van stilstaan to 100kpu nie, maar gaan ‘n paar frisser en meer geroemde blitsbukse die uitlaatpype wys deur die knap draaie en haarnaaldboë van byvoorbeeld Franschhoekpas.
Die Golf GTI TCR is bedoel om begeerlik te wees, en slaag gemaklik daarin.

Kernsyfers:
Prys: R669 000
Enjin: 4-silinder petrol turbo
Krag: 213kW @ 5900 – 6400 rpm
Wringkrag: 380Nm @ 1950 – 5300 rpm
0-100 kpu: 5.6 sekondes