Puik pryse en uitstekende resultate by Soutpansberg Bonsmara se 2026-produksieveiling

486727928_2152295601881002_3720776908516053077_n
Soutpansberg Bonsmaras se genetika het weereens bewys dat dit van uitstekende gehalte is tydens hul jaarlikse produksieveiling, wat op 9 Oktober 2026 op die plaas De Ruigte in Vivo plaasgevind het. Die veiling is ook aanlyn in samewerking met SwiftVee aangebied.
Vanjaar se uitslae was ’n duidelike verbetering op die reeds suksesvolle 2025-veiling.
Hierdie veiling is jaarliks ’n hoogtepunt op die Bonsmara-kalender. Die Soutpansberg-groep is wyd bekend vir hul konsekwente fokus op gehardheid, vrugbaarheid en aanpasbaarheid, eienskappe waarna elke Bonsmara-teler soek.
Die groep het hom vanjaar weer oortref, en sterk koperbelangstelling het gesorg vir ’n besonder suksesvolle dag. Die top-stoetbul van die dag is vir R180 000 van die hand gewys, terwyl die duurste kommersiële koei met kalf vir R32 000 verkoop is.
Vanjaar se aanbod het 25 top-geselekteerde Bonsmarabulle en 250 vroulike diere ingesluit.
Die veilingsuitslae weerspieël die groep se hoë standaarde en toegewyde gehalte:
Stoetbulle: Hoogste R180 000 | Gemiddeld R74 800
Kommersiële dragtige koeie: Hoogste R25 000 | Gemiddeld R18 900
Kommersiële dragtige koeie en kalwers: Hoogste R26 000 | Gemiddeld R26 000
Kommersiële koeie en kalwers: Hoogste R32 000 | Gemiddeld R24 800
Kommersiële dragtige verse: Hoogste R25 000 | Gemiddeld R23 900
Kommersiële oop verse: Hoogste R22 000 | Gemiddeld R15 800
Speenkalwers: Hoogste R13 600 | Gemiddeld R11 100
Die veiling het aan kommersiële boere die ideale geleentheid gebied om doelgerig geselekteerde Bonsmara-genetika vir hul kuddes te bekom. Die Soutpansberg-groep bedank elke koper en onderbieër wat bygedra het tot hierdie wonderlike dag en die groot sukses van die veiling.
