Vroue wat dinge laat gebeur: Die dryfkrag agter Gundle API

Gundle API Groep foto
Die dinamiese dames van Gundle API.
In ‘n wêreld waar die landboubedryf steeds beskou word as ‘n terrein vir die sterk, taai en praktiese, bewys die vroue van Gundle API elke dag dat krag, vasberadenheid en kundigheid beslis nie aan geslag gekoppel is nie.
Hierdie span dinamiese dames vanuit Springs, Gauteng, is meer as net ratte in ‘n masjien, hulle is die hartklop, die werkende hande en die glimlagte agter Gundle API se sukses.
Tracy Collins – Groot passie vir leer en groei

Met 9 jaar agter haar naam by Gundle API, is Tracy Collins nie net ‘n interne verkoopskoördineerder nie, maar iemand met ‘n opregte passie vir leer en groei. Sy het nog altyd daarvan gedroom om haar eie plaas te hê, en die kennis wat sy by Gundle versamel het, sal haar beslis eendag daartoe help. “Ek glo daaraan om mense regverdig te behandel en altyd beide kante van ‘n saak te verstaan,” sê sy. Vir Tracy is vrouemaand ‘n herinnering dat elke vrou se stem waarde het – selfs in besluite waar haar insette dalk maklik afgemaak word.
Breggie van Breda – Met humor, eerlikheid en liefde vir ’n mooi rooi Massey Ferguson

Breggie, wat al ses jaar lank Gundle API se kliënte met toewyding bedien, glo dat eerlikheid en pligsgetrouheid haar rigtingwysers is. Haar pad in landbou was ‘n mengsel van grondpad en teerpad, soos sy dit stel, maar haar entoesiasme en klante-interaksie hou haar gemotiveerd. Haar raad? “Trou ’n ryk boer, werk hard en bly gefokus!” En ja, sy kan nie sonder haar Massey Ferguson nie.
Millandrie Roos – Die glimlag agter die ontvangs

Met net ses maande werksaam by Gundle, het Millandrie reeds ‘n unieke stempel afgedruk as ontvangsdame. Haar dryfkrag? Haar kinders. Sy glo daaraan om werk en huis duidelik te skei, en leef haar waardes van respek en ondersteuning uit – met ‘n stille vasberadenheid wat spreek van innerlike krag. “Ek het myself geleer swem…ek was dikwels in die diepkant ingegooi, en al hoe jy bo uitkom is om te bly swem,” deel sy.
Natassja Myburgh – Met deursettingsvermoë en ’n hart vir kennis

Vir Natassja was landbou nie net ‘n beroep nie – dis ‘n passie van kleins af. As debiteureklerk bring sy toewyding, empatie en vasberadenheid na haar werk. Haar ma het haar geleer dat kennis jou grootste bate is – en dis ‘n les wat sy lewendig hou. “Opgee is nie ‘n opsie nie,” sê sy met trots. Haar kind is haar dryfveer, en sy glo dat vroue hulle plek moet inneem, en sonder om deur manlike ego’s te geïntimideer te word.
Sonja Adlen – Die stem vir gelykheid

Na 12 jaar by Gundle API weet Sonja presies hoe dit voel om as vrou onderskat te word in ‘n tradisioneel manlike industrie. Maar dit keer haar nie. Met haar waardes van integriteit en eerlikheid werk sy elke dag met ‘n passie wat nie stilgesit kan word nie. Sy droom van ‘n industrie waar vroue nie net gelyke werk doen nie, maar ook gelyk behandel én betaal word.
Cheri Leipoldt – Met mense in haar hart en hoop in haar stem

In die HR-kantoor bring Cheri iets uniek – ‘n onwrikbare liefde vir mense en ‘n geloof in die positiewe verskil wat sy kan maak. “Ek wil elke dag ten minste een persoon laat lag,” sê sy. Al is sy nog relatief nuut in die landboubedryf, het sy reeds ‘n diep respek ontwikkel vir die mense en prosesse agter voedselproduksie. Haar wens vir die industrie? Meer ontwikkeling, meer geregtigheid – en meer vroue wat hulle stem laat hoor.
Fhulufelo Ngobeni – Vasberade, eerlik en trots op haar pad

Fhulufelo se antwoord op hoe sy in landbou beland het, laat mens glimlag: “BOOM – toe is ek hier!” Maar agter haar humor lê ‘n vrou met ‘n sterk sin vir regverdigheid, ‘n passie vir betroubaarheid en ‘n onwrikbare dryfkrag om erkenning te kry vir haar harde werk. Sy glo dat opleiding noodsaaklik is vir groei en dat vroue hulle plek moet opeis – sonder vrees.
Vroue in landbou – méér as net ’n bydrae
Hierdie dames is nie net administrateurs, klerke of koördineerders nie. Hulle is kennisdraers, netwerkers, innoveerders en bouers van brûe tussen fabriek en plaas, kliënt en produk, data en aksie. Hulle verstaan dat landbou nie net handewerk is nie…dit is hartewerk.
Gundle API se suksesverhaal word nie net geskryf deur produkte en prosesse nie – maar deur mense. En in Vrouemaand vier ons dié mense: vroue wat nie net hulle plek volstaan nie, maar hulle stempel afdruk.