Veediefstal slaan boere swaarder as wat die syfers wys
Volgens die RPO se Nuusbrief moet die ekonomiese impak van veediefstal met sorg bestudeer word omdat die waarde van die gesteelde vee op verskillende maniere verreken kan word.
Dit is soms onduidelik of dieselfde prys per kop oor die tydperk in sulke berekeninge gebruik is en of dit volgens die onderskeie jare se markwaardes bepaal is. Faktore soos inflasie of veranderinge in die rooivleispryse oor tyd kan dus die waardes beïnvloed. Die getalle diere wat per jaar gesteel, teruggevind en verloor is, gee ‘n baie meer realistiese waarde.
Veediefstalsyfers vir 2016/17 wys dat die grootste getal skape in die Oos-Kaap (net onder 40 000) gesteel is. In die tweede plek is die Vrystaat (sowat 20 000) en dan Noord-Kaap (byna 7 500). Die syfers vir beeste lyk ietwat anders, met KwaZulu-Natal wat die hoogste diefstalsyfer toon (net meer as 14 000), gevolg deur die Vrystaat (net meer as 10 000) en Noordwes (net minder as 10 000). Die meeste bokke is in KwaZulu-Natal gesteel in 2016/17 (sowat 13 000) met die Oos-Kaap in die tweede plek (meer as 7 000) en Limpopo derde met meer as 4 000.
Dié syfers wys dat beesdiefstalle, met die uitsondering van die Oos-Kaap, in al die provinsies gedurende 2016/17 gestyg het. Skaapdiefstalle, volgens statistiek van die SAPS, het in die Oos-Kaap, Noordwes en Gauteng gestyg en in die Wes-Kaap, Noord-Kaap, Vrystaat en Mpumalanga afgeneem. Die syfers het redelik konstant gebly in Limpopo en KwaZulu-Natal. Die terugvindkoers (kyk na Tabel 1) volgens statistiek van die SAPS het die tempo waarteen beeste teruggevind is, tussen 2011/12 en 2016/17 verswak.
Die terugvindkoers van skape het meer variasie getoon oor die tydperk, maar het tussen 2015/16 en 2016/17 met 5% gedaal. In die geval van bokke het die terugvindkoers oor dié tydperk redelik konstant tussen 26% en 30% gebly.
So lyk veediefstalsyfers in SA:
| 2011/2012 | 2012/2013 | 2013/2014 | 2014/2015 | 2015/2016 | 2016/2017 | ||
| Totaal | Gesteel | R830 906 600 | R757 155 750 | R788 536 200 | R819 045 200 | R877 381 700 | R1 058 806 200 |
| Teruggevind | R344 271 900 | R282 034 950 | R277 475 800 | R301 452 200 | R309 211 200 | R324 285 400 | |
| Verlore | R486 634 700 | R475 120 800 | R511 060 400 | R517 593 000 | R568 170 500 | R734 520 800 | |
| Beeste | Gesteel | R621 099 000 | R557 820 000 | R598 017 000 | R610 467 000 | R653 148 000 | R796 328 000 |
| Teruggevind | R288 855 000 | R233 760 000 | R231 735 000 | R247 632 000 | R251 676 000 | R263 965 000 | |
| Verlore | R332 244 000 | R324 060 000 | R66 282 000 | R362 835 000 | R401 472 000 | R532 363 000 | |
| Skape | Gesteel | R141 675 000 | R138 105 000 | R127 540 800 | R143 541 200 | R153 183 700 | R180 086 000 |
| Teruggevind | R35 353 500 | R32 052 450 | R26 660 800 | R35 523 200 | R38 243 200 | R36 006 000 | |
| Verlore | R106 321 500 | R106 052 550 | R100 880 000 | R108 018 000 | R114 940 500 | R144 080 000 | |
| Bokke | Gesteel | R68 132 600 | R61 230 750 | R62 978 400 | R65 037 000 | R71 050 000 | R82 392 200 |
| Teruggevind | R20 063 400 | R16 222 500 | R19 080 000 | R18 297 000 | R19 292 000 | R24 314 400 | |
| Verlore | R48 069 200 | R45 008 250 | R43 898 400 | R46 740 000 | R51 758 000 | R58 077 800 |
Bron: Veediefstal Statistiek vir SA (2017)
Tabel 1: Landwye terugvindkoers vir gesteelde vee per jaar volgens SAPS data.

Die statistiek wys verder dat die aantal sake wat gerapporteer is ook ‘n afwaartse neiging toon terwyl die gemiddelde getal vee wat per gerapporteerde voorval gesteel is, geleidelik styg (soos getoon in die grafieke).
Daar is twee moontlike redes: óf veeboere rapporteer nie kleiner verliese (een of twee skape) aan die SAPS nie, maar wel groter voorvalle; of dit kan ‘n aanduiding wees dat veediefstalsindikate minder gereeld toeslaan, maar meer vee per voorval steel, en waarskynlik raak hulle meer bedrewe met die verkwansel van die vee voordat dit teruggevind kan word.

Bron: Veediefstal Statistiek vir SA (2017)

Bron: Veediefstal Statistiek vir SA (2017)
Uit ander bronne
Ondanks die SAPS se amptelike syfers, het Statistiek SA bevind dat die nie-rapporteringskoers vir veediefstalgevalle in 2015, sowat 67,7% was en versleg het tot 70,1% in 2016. Dit wil sê, meer as 70% van veediefstalsake is nie aan die SAPS gerapporteer nie.
‘n Studie deur die Departement Landbou-Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, toon dat die terugvindkoers van gesteelde beeste, skape en bokke in die Vrystaat, Oos-Kaap en Natal veel laer is as wat die SAPS-statistiek getoon het. Volgens dié studie is daar in al drie die provinsies meer skape per jaar verloor (diere wat nie teruggevind is nie) as wat SAPS-statistiek toon.
Die terugvindkoers van gesteelde vee in al drie die provinsies is ook laer as wat amptelike syfers wys (sien meegaande grafieke vir meer inligting).
Die grootste verlies aan skape is in die Vrystaat aangeteken waar byna 85 000 skape per jaar verloor word – sowat 1,82% van die Vrystaatse kommersiële skaapboere se skape. Die regstreekse koste alleen van veediefstal in die drie provinsies is bereken op sowat R477 miljoen per jaar en ‘n verdere R166 miljoen word deur produsente aan die voorkoming van veediefstal bestee.

Lombard et al. (2017)

Lombard et al. (2017)

Lombard et al. (2017)

Lombard et al. (2017)
Ten slotte
Navorsers het bevind dat werkloosheid en droogte (bestaanssaaiboere wat nie ‘n oes kry nie, ensovoorts) van die grootste oorsake van veediefstal is. Suid-Afrika het reeds een van die hoogste werkloosheidsyfers ter wêreld en ons het steeds nie oplossings daarvoor nie. Boonop gaan Suid-Afrika ook gebuk onder ‘n langdurige droogte. Dié faktore speel ‘n groot rol in die toename in veeverliese gedurende 2016/17.
Volgens ‘n onlangse droogtestudie deur die RPO, word daar geskat dat die nasionale beeskudde sowat 15% verklein het en die skaapkudde sowat 14%. Gedurende Desember 2017 is daar 30% minder vee as ‘n jaar vantevore geslag, wat aandui dat produsente weer hulle kudde begin opbou. Die afname in die aanbod van vee het veroorsaak dat die waarde van vee (ook gesteelde vee) verder styg. Dit is dus nou meer winsgewend om ‘n veedief te wees. Dit wil voorkom of ons al die elemente vir ‘n perfekte “veediefstalstorm” het.
Bron: RPO Nuusbrief