Van seleksie tot sukses: Buckridge Bonsmaras se benadering tot vroulike diere
Die seleksie van vroulike diere speel ’n kernrol in die voortsetting van genetiese uitnemendheid, vrugbaarheid en aanpasbaarheid – die boustene van ’n prestasie-gedrewe boerdery. By Buckridge Bonsmaras word vroulike diere met die grootste sorg en presisie gekies en gesorteer, aangesien hulle die fondament en kern vorm van ’n suksesvolle kudde.
Deur streng kriteria toe te pas, verseker Buckridge dat elke koei en verse nie net voldoen aan hoë standaarde nie, maar ook ’n positiewe impak maak op die volgende generasie. Hierdie proses is nie net belangrik vir die kudde se produktiwiteit nie, maar ook vir die volhoubaarheid van die hele bedryf.
Die teelbeleid en seleksieproses is daar gestel om funksioneel-doeltreffende diere met uitstekende konformasie en aanpasbaarheid te identifiseer en te verbeter.
Funksionele vroulike diere
Buckridge Bonsmaras is gebaseer in ‘n warm en droë sandwêreld, wat beteken dat goeie kloue en kloukonformasie van kardinale belang is. Diere moet goeie hoefdiepte hê, met korrekte en simmetriese kloue wat langdurige beweeglikheid verseker. Die hakke moet sterk wees om die diere gemaklik oor lang afstande te laat beweeg. Hierdie aspekte is noodsaaklik vir diere wat produktief en gesond moet bly in die uitdagende sandomgewing.
Vrugbaarheid is die hoeksteen van die seleksiebeleid. Die vroulike diere word geëvalueer op hul reproduktiewe prestasie, met ‘n spesifieke fokus op geslagsontwikkeling en vrugbaarheidseienskappe. Elke koei moet jaarliks ‘n speenkalf lewer; indien nie, word die dier strategies uitgeskuif. Vir Buckridge is goeie karkaskwaliteit, wigvormige lywe, fyn vroulike nekkies, en sterk toplyne is ook ononderhandelbare kriteria in die keuringsproses.
Die hoeksteen van Buckridge Bonsmara kudde
Frans Seevinck, eienaar en bestuurder van Buckridge vertel: “Ons is trots op die resultate wat ons teelbeleid oplewer. Buckridge se vroulike diere het in die afgelope vier produksieveilings bo-gemiddelde pryse behaal, selfs onder moeilike ekonomiese toestande. Kliënte waardeer die gehalte van ons diere, en die terugvoering bevestig dat hulle uitstekend presteer met ander kuddes.”
‘n Sleutel tot die Buckridge sukses is die volgehoue fokus op genetiese vordering. “Ons gebruik strategies nuwe genetika deur kunsmatige inseminasie (KI) en vaste-tyd inseminasietegnieke, wat ons bloedlyne versterk, sonder om die unieke kenmerke van ons eie genetika in te boet,” vertel hy.
Buckridge sorteer die vroulike diere tussen twaalf en agtien maande. Die boonste helfte van die kudde word as stoetdiere geklassifiseer, terwyl die res kommersieel gebruik word of na die slagmark verskuif word. Die evaluering sluit konformasie, funksionele-doeltreffendheid en Bonsmara-standaarde in. “Omgewingstoestande in die westelike dele van Suid-Afrika speel ook ‘n groot rol in ons bestuur. Ons toegepaste weidingsbestuurstelsel, wat langrusperiodes insluit, help ons om die veld te bewaar en ons kudde se gesondheid te ondersteun. Met moderne tegnologie soos die Bengu Farm-stelsel en ‘n mobiele toepassing, hou ons akkurate rekords van ons diere se prestasie en geskiedenis. Dit verseker dat ons ons kudde voortdurend kan verbeter en aanpas by veranderende omstandighede,” noem hy verder.
Buckridge Bonsmara bly daarop gefokus om jaarliks bo-gemiddelde en uitstekende kalwers te lewer. Die raad aan jong telers is om die Bonsmara-stelsel te vertrou en gebruik te maak van keurders om objektiwiteit in die seleksieproses te verseker.
Die uitdagings, soos die sanderige terrein wat druk op kloue plaas, maak die teelbeleid nog meer doelgerig.
“Ons streef daarna om voortreflike vroulike diere met uitstekende genetika te produseer, en ons volgehoue fokus op vrugbaarheid, funksionele-doeltreffendheid, en kloukwaliteit onderskei ons as telers van uitnemendheid.”