Duurste Savanna-ram ooit vir R2 050 000 verkoop

epic 4
Van links, Danie Strauss, Stiaan von Wieligh van Vleissentraal, Koenie en Marina Kotze van Nelmaans Stoet, Jumari en Andrew (voor) Roberts van Maize Valley, en Johan Botha van Oranjerivier Voere, saam met die Savanna-ram Epic.
Die duurste stuks kleinvee wat nog ooit op ‘n veiling verkoop is, is die afgelope naweek op die Black Tie Blue Blood-veiling by Die Eike-restaurant op Rawsonville in die Wes-Kaap vir R2, 050 000 verkoop.
Die Savanna-ram Epic (lot 88) is vir R2 050 000 deur Maize Valley Stoet van Hoopstad in die Vrystaat aan Koenie en Marina Kotze van Niekerkshoop in die Noord-Kaap verkoop.
Die vorige hoogste prys vir ‘n Savanna-ram was R425 000 wat Maize Valley Savanna aan Lennon Nkosi van Mbombela (Nelspruit) in Mpumalanga in 2025 vir verkoop is.
Hy meen die epiese prys van R2 050 000 wat Epic behaal het, is ‘n aanduiding van hoe gesond die boerbokbedryf is. “Dit is ‘n kwessie van vraag en aanbod. Stoettelers is besig om die boerbokrasse tot hoër hoogtes te neem.
“Epic is die duurste stuks kleinvee wat nog ooit vir meer as ‘n miljoen rand op ‘n veiling verkoop is, se Danie Strauss, een van die stigterslede van Black Tie Blood Blood-veilings en onafhanklike afslaer van Central Saleyard. “Boerbokke wat tevore vir meer as ‘n miljoen rand verkoop is, was plaasverkope direk van die verkoper aan die koper.”
Die boerbokke Formule Een (R1 050 000) en Next Level (R2,3 miljoen) wat Lukas Buger Stoet in onderskeidelik 2024 en 2025 aan VEA Stud Breeders verkoop is, was sulke plaasverkope.
‘n Belegging vir die toekoms
Volgens Koenie is Epic die seun van sy eie ram Deon, wie se pa, ook een van sy ramme, Nampo was. “Toe ek die foto van Epic sien het ek vir Marina gesê ons moet hom koop. Ek is nou op pad Philipstown toe om saad te laat vries, dan het ek darem iets van hom as hy sou vrek.” Hy beplan om goeie ooie te laat bevrug met Epic se saad en dan embriospoeling te doen. Die embrio’s word in ander goeie ooie ingeplant. Hy pas ook lynteling toe. “Jy kan dit met goeie genetika doen, dit vat die genetika vinniger vorentoe.”

Toppryse behaal
Die duurste Boerbokram is vir R300 000 deur Lukas Burger Boerbokke aan Lennon Nkosi verkoop.
Die duurste Boerbokooi is vir R200 000 is ook deur Lukas Burger Boerbokke aan Lennon Nkosi verkoop.
Die duurste Kalahari Red-ram is vir R240 000 deur Maize Valley Stoet aan Pieter Ernst van Bona Bona verkoop.
Die duurste Kalahari Red-ooi is vir R100 000 deur Maize Valley Stoet aan AH Meintjies verkoop.
Die duurste Savanna-ooi is vir R100 000 deur Maize Valley Stoet aan Hakuna Matata verkoop.

Johan Botha van Oranjerivier Voere, Stiaan von Wieligh, Lukas Botha, verkoper, en Danie Strauss by die duurste Kalahari Red-ram. Die koper, Pieter Ernst van Bona Bona, was nie teenwoordig nie.

Verkopers
Die verkopers het die boerbokstoettelers Lukas Burger, Karsten Boerdery, MIlamiek, Tekoa, Nico Botha, Karoo Livestock Exports, CNC, VEA Stud Breeders, Paardefonteint, Ruan Mans, Booysen Boerdery en Triangle Farms s ingesluit. Kalahari Reds is deur Maize Valley Kalahari Reds, CMLW Kalahari Reds, en Dhidejak Kalahari Reds. Die Savanna-stoettelers het Maize Valley en Hakuna Matata ingesluit.
“Min van die stoettelers het self gekoop,” sê Danie. “Koopkrag was van reg oor Suid-Afrika, met SwiftVee as aanlyn-platform is meer as R1,5miljoen se diere aanlyn verkoop. Stoettelers wat teenwoordig was, het wel hier en daar hul kuddes aangevul met aankope, maar grotendeels het dit vanaf ander stoettelers regoor Suid-Afrika gekom.”
Bek-en-klouseer
Die huidige bek-en-klouseer status van al die provinsies in die land het so byna die vanjaar se veiling gekelder. “Ons het in ‘n stadium oorweeg om die veiling slegs aanlyn te doen, maar Andries was vasbeslote dat die veiling soos gewoonlik ‘n glansgeleentheid moet wees en dat die diere teenwoordig moet wees.”
Volgens hom het Vleissentraal Port Elizabeth ingestem om die veiling lewendig aan te bied. Ons het ook uitstekende samewerking van staatsveeartse gekry. “Alle bewegingsprotokolle is nagekom, veeartse het gesondheidsertifikate aangebied, al die diere het op plase in kwarantyn gestaan, en al die diere is vir vrugbaarheid en dragtigheid getoets.”
Black Tie Blue Blood
Black Tie Blue Blood veiling het in 2021 ontstaan toe Danie Strauss, Mac Hendrik Jordaan en Andries Volgraaff, drie boere van die Wes-Kaap, besluit het om ‘n unieke veiling aan te bied waar slegs die boerbokke met die beste bewese genetika aangebied word.
“Ons het begin met boerbokke, drie jaar gelede Kalahari Reds en verlede jaar Savannas bygevoeg,” vertel Danie.
Danie, wat by Rouxville in die Vrystaat met Boerbokke boer,
Mac Hendrik, wat met Boerbokke by Porterville, het nie bokke aangebied nie. Andries van Tekoa Boerbokstoet in die Koue-Bokkeveld in die Wes-Kaap boer, het wel diere aangebied.

Danie Strauss, onafhanklike afslaer van Central Sale Yard, en medestigter van Black Tie Blue Blood veilings.
Kriteria vir deelname
Slegs bokke van uitstaande gehalte mag op die veiling aangebied word. Drie kriteriums geld:
- Slegs die top tien telers wat meeste punte op die Wêreldskou gekry het, word uitgenooi.
- Slegs die top vyf verkopers op gemiddeld van twee ooie en twee ramme se gemiddeld op Nasionale veiling, word genooi.
- Al die bokke wat aangebied word moet ‘n stamboom van vyf generasies hê.
In die eerste jaar was daar kopers uit die buiteland, naamlik Saudi-Arabië en Thailand. Weens probleme met uitvoere het die buitelandse kopers afgeneem. Volgens Danie is vanjaar net een bok teen R20 000 aanlyn aan ‘n buitelandse koper verkoop.
Dankbaar
“Ons is nederig dankbaar vir die goeie pryse en die sukses van die veiling,” sê Danie. Alle eer aan die Here.”
Hy het die borge Oranjerivier Voere van Prieska, Vleissentraal Port Elizabeth wat die veiling gereël het, SwiftVee Vriende, en die Die Eike-restaurant bedank.
Kontak Danie Strauss by dbstrauss777@gmail.com