Trekkerverkope styg met 13% in Januarie 2026

DSC_0238
Foto: Ermelo Hooidag
Trekkerverkope van 517 eenhede in Januarie is 13% meer as die 457 eenhede wat verlede Januarie verkoop is. Vyf stropers is in Januarie verkoop, net soveel as wat verlede Januarie verkoop is.
Die huidige somergewasseisoen is gekenmerk deur ’n wisselvallige verspreiding en hoeveelheid reën wat geval het en aanplanttye vir gewasse. Oor die algemeen lyk somergewasse goed, maar boere sal eers weet hoeveel geproduseer is nadat hulle die gewasse geoes het. Kommoditeitspryse het ingekrimp na die onlangse hoër vlakke. Die algehele sentiment in die bedryf is nietemin oor die algemeen positief. Op die oomblik lyk dit asof verkope vanjaar in twee helftes verdeel sal wees. Verkope in die tweede helfte van die jaar sal grootliks afhang van somergewasproduksie en kommoditeitspryse.
Volgens ramings in die bedryf sal trekkerverkope vir die 2026-kalenderjaar soortgelyk of marginaal minder wees as verkope in 2025.
Bron: Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie