Topgenetika en gehardheid laat Senepol-nasionale veiling floreer

Senepol_NLS_Jul2026
Die Senepol-beesras het weereens sy staal gewys as een van die mees praktiese, winsgewende en aanpasbare vleisrasse in die Suid-Afrikaanse veebedryf. Talle voornemende en gevestigde boere het op 22 Augustus by Airborne (Emoya) in Bloemfontein byeengekom vir die jaarlikse Senepol- nasionale en aanteelveiling, waar uitsonderlike genetika ten toon gestel is.
Die geleentheid was ’n groot sukses en het ’n indrukwekkende totale omset van R2 237 000 behaal.
Kopers het beslis nie geskroom om te belê in diere van topgehalte nie, met veral die bulle wat uitstekende pryse behaal het. Die duurste stoetbul van die dag is vir ’n spoggerige R150 000 verkoop, terwyl die bulle ’n stewige gemiddelde prys van R82 000 gehandhaaf het.
Veilingsuitslae per kategorie
Stoetbulle: Hoogste prys R150 000 | Gemiddeld R82 000
3-in-1 Stoetkoeie: Hoogste prys R55 000 | Gemiddeld R52 000
Koei en Kalf: Hoogste prys R48 000 | Gemiddeld R39 000
Dragtige Stoetkoeie: Hoogste prys R35 000 | Gemiddeld R27 500
Dragtige Stoetverse: Hoogste prys R32 000 | Gemiddeld R28 500
Die volgehoue vraag na hierdie ras is geen verrassing nie. Die Senepol staan wyd bekend vir sy natuurlike poenskop-eienskap, vreedsame temperament en gladde haarkleed wat uitstekende hitte- en bosluisweerstand bied. Hul mediumraam-bouvorm, hoë vrugbaarheid en lae geboortegewig maak hulle die ideale keuse vir maklike kalfing.
Hierdie unieke eienskappe stel die diere in staat om selfs die mees uitdagende omgewings en hitte met gemak te trotseer.
Gevolglik is die Senepol nie net ’n uitblinkerras in pure stoetboerdery nie, maar vorm dit ook ’n kragtige en waardevolle komponent in kommersiële kruisteelprogramme. Boere wat streef na doeltreffende vleisproduksie en voortreflike vleisgehalte vind by die Senepol ’n betroubare vennoot.
Hierdie veiling het opnuut die ras se toenemende gewildheid én sy onmisbare impak op die moderne vleisbedryf bevestig.