Categories: VeilingsPublished On: 12th November 2026

Vlakte Bonsmara-groep kyk terug op ’n jaar vol hoogtepunte

By 3 min read
565 words

_DSC0722

Die Vlakte Bonsmara-groep se 17de bulveiling was ’n reusesukses.

Vir die Vlakte Bonsmara-groep was 2026 ’n besondere jaar. Ondanks voortdurende uitdagings weens bek-en-klouseer het die groep steeds nuwe rekords opgestel, mylpale behaal en hul 20ste produksieveiling aangebied.

Kobus du Toit, voorsitter van die groep, sê: “Ons as Vlaktegroep staan weer aan die einde van nog ’n jaar en, as ons terugkyk en reflekteer op die jaar, kan ons net met groot dankbaarheid sê dat ons ’n uitstekende jaar gehad het onder die omstandighede.”

Die studiegroep is in 2007 op die Springbokvlakte gestig deur ’n groep Bonsmara-telers met ’n gesamentlike visie, en sedertdien het die groep gegroei en staan hulle vandag steeds sterk met 20 lede.

Dieselfde doelwitte van 20 jaar gelede is steeds na aan die hart van die Vlakte Bonsmara-telers, naamlik hul toewyding tot uitnemende, topgehalte Bonsmara-genetika.

Drie van die topverkopers by Vlakte Bonsmara se 20ste produksieveiling vroër die jaar.

“Hierdie jaar het iets besonders beteken … want ons het nie net weereens ’n produksieveiling gehou nie, maar ons 20ste produksieveiling gevier!” vertel Kobus.

Die veiling, wat op 11 Junie plaasgevind het, was nie net ’n bewys van die hoë gehalte van hul diere nie, maar ook van die sukses van die pad wat die groep saam gestap het. Tydens die veiling het vier van die telers se topbulle vir R100 000 elk verkoop, terwyl die vroulike diere ver bo markverwagting presteer het. Hierdie resultate het weereens die vertroue bevestig wat kopers in die Vlakte-groep se diere en telingstandaarde het.

’n Nuwe rekord is by die Vlakte Bonsmara-studiegroep se 17de bulveiling opgestel toe ’n bul vir R1,1 miljoen verkoop is.

In Oktober was dit tyd vir hul tweede veiling van die jaar, die 17de Vlakte Bonsmara-bulveiling. Hier het die groep ook bewys dat goeie genetika en sterk vennootskappe tot groot sukses kan lei.

Tydens die veiling het die groep ’n nuwe rekord vir die Vlakte Bonsmara-geskiedenisboeke opgestel toe een van hul bulle vir R1,1 miljoen verkoop is. Hoewel dit reeds ’n hoogtepunt op die dag was, het die sukses voortgeduur toe die ander lotte pryse van onderskeidelik R500 000, R380 000 en R300 000 behaal het.

Hier het die vroulike diere ook presteer, en Kobus vertel: “By Vlakte Bonsmara is gehalte nie net ’n doel nie, dit is ’n belofte. Elke bul, elke koei, elke vers en elke dier is die resultaat van jare se ervaring, kennis en ’n onvermoeide strewe na genetiese uitnemendheid.”

Kobus du Toit, voorsitter van die Vlakte Bonsmara-studiegroep is trots op wat die groep bereik, ondanks moeilike omstandighede.

Kobus meen dat al het van die groep se diere by die veilings besonders goed gedoen, dit steeds lekker vir hulle as groep was om te sien dat die ander diere ook billike pryse behaal het, ondanks die moeilike omstandighede van die jaar.

“Ons glo dat elke koper tevrede sal wees en, soos in die verlede, dat ons kopers herhaalkopers sal word omrede hulle tevrede is met ons produk.”

Kobus en die hele Vlakte-groep wil vir almal baie dankie sê vir hul ondersteuning.

“En ons wil julle almal net ’n baie geseënde en voorspoedige feesviering toewens. Ons hoop ook dat die seisoen vir julle die regte reën op die regte tyd sal inhou.

“Ons ontvang julle graag weer in 2027 en ons verseker julle dat ons soos in die verlede weereens die standaarde sal probeer lig en sal seker maak dat almal wat deelneem aan ons veilings en van ons Vlakteproduk bekom, tevrede sal wees soos in die verlede.”

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0