TLU SA se Jongboerkonferensie 2025: ‘n Baken vir die toekoms van Suid-Afrikaanse landbou

Clemens Senekal
Clemens Senekal, voorsitter van die TLU SA Jongboerkomitee, verwelkom konferensiegangers by TLU SA se Jongboerkonferensie 2025.
‘n Hoogtepunt vior jongboere van regoor die land was TLU SA se onlangse Jongboerkonferensie, wat onlangs by Future Africa aan die Universiteit van Pretoria plaasgevind het. Dit was ‘n wegspringpunt vir jongboere om nie net te leer van ervare sprekers nie, maar ook om strategiese en skeppende denke in die landboubedryf te verken.
Met die tema “Die denkwyse van die moderne boer” het die geleentheid gefokus op hoe jong boere hulleself en hulle boerderybedrywighede kan versterk te midde van ‘n vinnig veranderende landbouomgewing.
‘n Platform vir skeppende denke
Een van die belangrikste knelpunte by die konferensie was die fokus op die denke en ingesteldheid van die moderne boer. In ‘n bedryf waar ekonomiese uitdagings, klimaatverandering en beleidsvraagstukke ‘n daaglikse werklikheid is, is dit noodsaaklik dat jongboere ‘n proaktiewe en veerkragtige benadering tot hulle boerderye ontwikkel.
Verskeie sprekers het hulle kennis en ondervinding gedeel om jongboere aan te moedig om hulle perspektief te verbreed.

Wian Süllwald, TLU SA se Jongboer van die Jaar 2024, gesels met kongresgangers oor die denkwyse van vir sukses en waarom JY vanjaar aan TLU SA se Jongboer van die Jaar-kompetisie moet deelneem.
Wian Süllwald, TLU SA se Jongboer van die Jaar 2024, het sy persoonlike reis na sukses gedeel. Hy het jongboere gemotiveer om deel te neem aan die Jongboer van die Jaar-kompetisie en beklemtoon hoe belangrik dit is om jouself voortdurend te ontwikkel en nuwe praktyke uit te dink en aan te neem.
Jaco Cilliers van ProAgri het gefokus op die waarde van georganiseerde landbou en hoe betrokkenheid by instellings soos TLU SA jong boere in staat stel om sterker te staan teen uitdagings. Hy het die behoefte aan aktiewe deelname in forums, komitees en besluitnemingsprosesse beklemtoon.
Johann Pretorius, uitvoerende hoof van Farming Portal en Agri News Net, het die rol van vroue in landbou uitgelig. Hy het beklemtoon dat die stemme en bydraes van vroue noodsaaklik is vir die toekoms van die bedryf, aangesien diversiteit in denke tot meer volhoubare oplossings lei.
Phile van Zyl van ZZ2 het jong boere uitgedaag om hulle markstrategieë te heroorweeg en alternatiewe markte te verken. Hy het daarop gewys dat suksesvolle boerdery nie net afhang van produksie nie, maar ook van ‘n ‘entrepreneuriale ingesteldheid’ en markaanpassing.
Laurika du Bois van Agri Skills Transfer het die kritieke rol van vaardigheidsontwikkeling en volgehoue opleiding bespreek. Sy het onderstreep hoe jong boere hulleself voortdurend moet toerus met nuwe kennis en tegnologieë om mededingend te bly.

George Barnard deel die resep tot sukses met konferensiegangers met die boodskap oor ‘n nuwe denkwyse vir groei. “Streef daarna om elke dag net 1% beter te doen as die vorige dag. Jy sal sien dat jy toenemend groei teen die einde van die eerste jaar.”
George Barnard, ‘n ervare boer, het gepraat oor “Denkwyse vir groei”. Hy het die belangrikheid van karaktervorming, volharding en geloof beklemtoon en sy praatjie afgesluit met Spreuke 4:23: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorsprong van die lewe.”
Geleenthede vir jong boere
Benewens die insiggewende praatjies was daar ook ‘n sterk fokus op praktiese geleenthede vir jong boere om verder te groei en hulle voetspoor in die bedryf te vestig. Die Jongboer van die Jaar-kompetisie is as ‘n uitstekende platform voorgehou waar jong boere hulle kennis en vaardighede kan toets en erkenning vir hulle harde werk kan ontvang. Hierdie kompetisie bied nie net blootstelling nie, maar ook waardevolle netwerkgeleenthede.
Verder is daar ook uitgewys hoe jong boere by komende geleenthede soos TLU SA se jaarlikse kongres, Kragdag, en ander plaaslike inisiatiewe kan inskakel. Hierdie platforms help om jong boere te verbind met mentors, bedryfsleiers en mede-boere, sodat hulle saam kan groei en sukses behaal.
Die boodskap vir die toekoms
Die algehele boodskap van die konferensie was duidelik: die moderne boer moet nie net fokus op produksie nie, maar ook op aanpasbaarheid, skeppende denke en strategiese besluitneming. In ‘n onsekere ekonomiese en politieke landskap moet jong boere die leiding neem in nuutskepping, tegnologie en samewerking.
TLU SA se Jongboerkomitee het met hierdie konferensie ‘n platform geskep waar jongboere nie net bemoedig word nie, maar ook die gereedskap ontvang om hulleself en hulle boerderyondernemings na nuwe hoogtes te neem.
Deur deel te wees van georganiseerde landbou, geleenthede aan te gryp en voortdurend te leer, kan die volgende geslag boere ‘n toekoms bou wat volhoubaar en suksesvol is.
Hierdie konferensie het bewys dat jongboere die potensiaal het om die Suid-Afrikaanse landboubedryf vorentoe te dryf. Dit is nou in hulle hande om die geleenthede te benut en die uitdagings met moed en visie aan te pak.
Vir meer inligting oor hoe om betrokke te raak by TLU SA se inisiatiewe, besoek hulle webblad by www.tlu.co.za, of stuur ‘n e-pos na navrae@tlu.co.za, of skakel hulle by (+27) 12-804-8031.