Categories: Artikels, MeganisasiePublished On: 8th May 2024

TEGNUUS: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld

By 6 min read
1261 words

CNH

CNH brei netwerkverbinding uit met behulp van satelliete

CNH en Intelsat, operateur van een van die wêreld se gevestigde geïntegreerde satelliet- en aardkommunikasienetwerke, sluit ՚n samewerkingsooreenkoms wat boere onbeperkte toegang tot die internet sal bied via ՚n satellietkommunikasiediens (SATCOM). Dit volg kort nadat John Deere sy samewerking met Starlink aangekondig het. Dit lyk asof boere nog ՚n keuse sal hê om in ag te neem wanneer hulle toerusting kies. Gegrond op ՚n memorandum van verstandhouding, sal Intelsat multibaan internettoegang bied om CNHtoerusting wat op afgeleë plekke werk te bestuur. Intelsat se terminale is gehard en dien reeds kritieke nywerheidstoepassings, insluitend vir die weermag en lugdienste.

Case IH-, Steyr- en New Holland-klante sal ՚n terminaal gebruik wat maklik verbind en getoets is om uiterste weerstoestande en die vibrasie en skok wat deur boerderytoerusting en -bedrywighede veroorsaak word, te weerstaan. Hierdie aanbod sal die eerste keer in die tweede helfte van 2024 beskikbaar wees vir boere in Brasilië, waar ConectarAgro se landelike verbindings-aanwyser bevind het dat slegs 19% van die beskikbare gebied vir landbougebruik hoëspoed-internettoegang het.

Boere sal op hulle Case IH- en New Holland-handelaars kan staatmaak om Intelsat se hardeware- en dienspakkette te installeer en te ondersteun.

Die maatskappye beplan om hulle samewerking na die VSA, Australië en ander streke uit te brei. Marc Kermisch, hoof digitale en inligtingsbeampte by CNH, sê: “Satelliettegnologie help om komplekse verbindingsuitdagings vir moeilik bereikbare plase op te los, maar nie alle verskaffers is gelyk nie. Intelsat staan uit vir hulle diepte van ervaring sowel as die gehalte en betroubaarheid van hulle terminale. Hulle weet wat dit beteken om robuust te wees. Ons sien daarna uit om boere regoor die wêreld met hulle oplossing te bedien.” In 2016 het die maatskappy Intelsat 33e en Intelsat 36 suksesvol ontplooi. Hulle is ontwerp om die Intelsatverbindings in Afrika en die Indiese Oseaan-streke te bedien. (Bron: World-Agritech.com)

20-miljoen dollar vir Greeneye VSA

Greeneye Technology se gebruik van KI kan die gebruik van chemikalieë in boerdery verminder en slaag daarin om beleggers te lok.

Greeneye Technology, wat spesialiseer in AI-geaktiveerde presisiespuittegnologie, het ՚n befondsingsronde van $20-miljoen voltooi. Die geld sal gebruik word vir die uitbreiding van die maatskappy se bedrywighede in Amerika. Greeneye Technology verminder onkruiddodergebruik in boerdery met gemiddeld 88%. Die ronde word ondersteun deur bestaande beleggers, Syngenta Group Ventures, JVP, Orbia Ventures en Eyal Waldman, die stigter en voormalige uitvoerende hoof van Mellanox (nou deel van Nvidia), asook ander nuwe beleggers, waaronder Iron Nation en Amol Deshpande, die stigter en voormalige uitvoerende hoof van FBN.

Die belegging sal gebruik word om Greeneye se werking in Amerika te vergroot, om die ontledingsvermoëns van die tegnologie te bevorder en die gebruik daarvan uit te brei na nuwe insette en gewasse. In die volgende fase van uitbreiding sal nog tientalle stelsels vanjaar ontplooi word, met die teiken van 81-miljoen hektaar mielies, sojabone en katoen wat in die VSA verbou word.

“Die verkryging van hierdie kapitaal in vandag se uitdagende ekonomiese klimaat is ՚n verdere bekragtiging van Greeneye se doelwit om die hoofstroomaanvaarding van presisiespuittegnologie in die VSA en uiteindelik wêreldwyd te dryf,” sê Nadav Bocher, uitvoerende hoof van Greeneye Technology. Greeneye beoog om landbouchemikalieë wat jaarliks wêreldwyd op boere se landerye toegedien word, aansienlik te verminder. Die meerderheid van hierdie chemikalieë beland op kaal grond of gewasse. Hierdie oorbenutting van chemikalieë lei tot grond- en waterbesoedeling, veroorsaak dat onkruid weerstand teen onkruiddoders ontwikkel, dat chemiese vlakke in voedsel verhoog en skep ՚n groot geldelike las vir boere.

Greeneye se oplossing benut KI in kombinasie met hardeware om onkruid tussen gewasse met hoë akkuraatheid te identifiseer en chemikalieë slegs te spuit waar dit nodig is, direk op die onkruid. Dit is ontwerp om met enige handelsmerk, model of grootte van kommersiële spuit te integreer, wat boere in staat stel om presisiebespuiting te doen sonder om in ՚n duur nuwe spuit te belê. Daarbenewens kan die tenkkonfigurasie presisie- en breedwerpige bespuiting gelyktydig uitvoer, wat produktiwiteit en doeltreffendheid verhoog. (Bron: World-Agritech.com)

KI en hommels ingespan in die stryd teen alternaria in aartappelgewasse

Deur ultrahoë-resolusiebeelde wat deur hommeltuie vasgevang word met KI te kombineer, is ՚n nuwe metode ontwikkel vir die vroeë opsporing van alternaria – ՚n swampatogeen (vroeë roes) wat aansienlike skade aan aartappelgewasse kan veroorsaak deur die blare, stingels en soms selfs die knolle te besmet.

Hierdie deurbraak dui op ՚n beduidende vooruitgang in presisielandbou, wat boere in staat stel om meer presies en doeltreffend in te gryp, wat gesonder gewasse en ՚n meer volhoubare landboupraktyk tot gevolg het. “Met hierdie tegnologie kan ons die siekte opspoor voordat dit met die blote oog sigbaar is, wat die doeltreffendheid van beheermaatreëls aansienlik kan verhoog,” verduidelik die navorser, Jana Wieme van België.

Spesifieke vorm van KI

Die benadering gebruik ՚n spesifieke vorm van KI wat patrone kan herken, in hierdie geval klein kolle op infrarooi beelde deur te leer uit voorbeelde, net soos die menslike brein uit erva-rings leer. Dit stel die netwerk in staat om selfs die kleinste aanduidings van die siekte op te spoor voordat dit met die blote oog sigbaar is. Die span het hierdie model oor verskeie groeiseisoene getoets. “Wat ons navorsing uniek maak, is dat ons die proewe vir vier verskillende groeiseisoene herhaal het, en ons model werk ook op datastelle waarop dit nie opgelei is nie.

Ons model is dus reeds in staat om in die praktyk toegepas te word. Boonop bereik ons model ՚n akkuraatheid wat vergelykbaar is met huidige moderne modelle, maar dit is baie vinniger en doeltreffender om die beelde te verwerk,” beklemtoon Jana. Die nuwe metode bied die moontlikheid om die siekte vroeg en op kolle in die land op te spoor, wat ՚n meer doelgerigte en dus meer volhoubare gebruik van hulpbronne moontlik maak.

Jana verduidelik: “Hierdie tegnologie stel ons in staat om gedetailleerde ‘siektekaarte’ van die lande te skep. Boere kan hierdie inligting gebruik om slegs die dele van die land waar die siekte werklik voorkom, te behandel.”

Dit bespaar nie net koste nie, maar verminder ook die omgewingsimpak van landboupraktyke. Die navorsingspan is optimisties oor die toekomstige toepassings van hulle werk. “Alhoewel ons op alternaria in aartappellande gefokus het, is die metodologie breedweg van toepassing op die opsporing van verskeie siektes in verskillende gewasse,” sê Jana. “Dit maak nuwe deure oop vir doeltreffender en volhoubare landbou.” (Bron: FutureFarming.com)

Väderstad haal die pyn uit saadvolumesomme

Väderstad haal die pyn uit somme om die koers van saadtoediening uit te werk.

Väderstad het ՚n saadvolumesakrekenaar bekendgestel. Dit stel boere in staat om maklik hulle korrekte saadplasing te vind en tussen saadvolume en plantdigtheid om te skakel. Die sakrekenaar is op Vaderstad.com beskikbaar en kan vanaf ՚n rekenaar, sowel as vanaf ՚n slimfoon of iPad, gebruik word.

In die sakrekenaar kan die operateur óf die werklike saadmassa in kg/ ha (saadvolume) teiken, óf die aantal sade wat per vierkante meter geplant word (plantdigtheid).

Nadat die data met betrekking tot die soort sade en toestande ingevoer is, voer die operateur ook die duisendpitgewig en ontkiemingstempo vir die saad in, getalle wat normaalweg op die saadverpakking uitgebeeld word. Vul dan ՚n skatting van geprojekteerde veldverliese in persentasie in as gevolg van faktore soos weer, toestande in die veld en plae en uiteindelik die grootte van die land. Vir maksimum gebruiksgemak, as jy nie alle syfers met die hand wil invoer nie, kan jy ook kies tussen nege algemeen gebruikte gewasse waar standaardwaardes vir TKW en ontkiemingstempo reeds vooraf ingevul is. Wanneer al die data ingevoer is, kry jy ՚n berekende saadkoers om jou gekose teiken te bereik.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0