Tegnuus: Die nuutste in landboutegnologie van regoor die wêreld

jade-gray-uBUn3cWUcDE-unsplash
Minder gas kan meer regte vleis en melk beteken
Beeste staan heel voor in die beskuldigdebank in die “skadelike”-vrystellingsverhoor. In plaas daarvan om die probleem op te los deur vleis en melk met kunsmatige produkte te vervang, vind navorsers maniere waarop beeste minder gas kan vrystel. In ‘n koei se grootpens help mikrobes om voedsel af te breek. Dit stel waterstof en koolstofdioksied vry. ‘n Ensiem kombineer hierdie gasse om metaan te vorm.
Bovaer® is ‘n voeraanvulling wat die ensiem onderdruk, sodat minder metaan geskep word. Net ‘n kwart teelepel in ‘n koei se daaglikse voer tree in so min as dertig minute in werking. Deur die werking word Bovaer® veilig afgebreek in verbindings wat reeds natuurlik in die grootpens voorkom. Dit verminder gasvrystellings van melkkoeie met gemiddeld 30% en vleisbeeste met 45%. Bovaer® (3-NOP) het pas die regulatoriese groen lig vir gebruik in lakterende melkbeeste in die VSA verkry.
Die produk is deur DSM-Firmenich ontwikkel en word deur die dieregesondheidsmaatskappy, Elanco, versprei. Dit is nou kommersieel beskikbaar in 64 lande met bykomende goedkeurings wat vanjaar verwag word. Die verskaffer werk nou hard daaraan dat Beaver-gebruikers voordeel trek uit koolstofkrediete en sê dit sal vergoed vir enige bykomende voerkoste. Elanco se adjunk-pesident vir veevolhoubaarheid, Katie Cook, sê Elanco het ‘n belangrike rol gespeel om ‘n aansporingstelsel te vestig, “wat ‘n selfonderhoudende koolstofinsetmark vir Amerikaanse landbou skep”.
Katie het met AgFunderNews gepraat nadat die FDA Bovaer® goedgekeur het, en gesê Elanco het ‘n stelsel ontwikkel wat help om metaanvrystellingsverminderings te kwantifiseer en koolstofkrediete te skep. “Uplook is ‘n aanlynhulpmiddel wat help om die vermindering van kweekhuisgasvrystellings te kwantifiseer. Dit maak gebruik van data op die plaas en bewese vergelykende wetenskap om ‘n operasie se koolstofvoetspoor te identifiseer, en volg dan die vordering van volhoubaarheidspogings soos die gebruik van Bovaer®.
“As jy vandag na die algehele waardepakket kyk, sal ‘n boer sowat $20 of meer per lakterende melkkoei kry om Bovaer® te voer.” (Bron: AgFunderNews)
“Was dit ‘n wind? Eet jou Bovaer®!” (Foto: Hans Prinsen)
Skoonenergielaboratorium vir AGCO Power
AGCO Power het sy skoonenergielaboratorium geopen. Die laboratorium is deel van ‘n belegging van 70-miljoen euro in die Linnavuori-aanleg in Nokia, Finland. Die laboratorium sal die ontwikkeling en toetsing van skeppende, volhoubare battery en aandrywingsoplossings vir plaasmasjinerie ondersteun. Die Linnavuori-span wetenskaplikes en ingenieurs ontwikkel volgende geslag enjins wat aangedryf word deur lae- of nulkoolstofelektrisiteit en alternatiewe brandstowwe, soos waterstof en metanol, wat sal help om globale landbouvrystellings te verminder.
Hoewel die aantal hibriede en elektriese voertuie in die wêreld in die 21ste eeu toenemend toegeneem het, het die aan-vaarding van alternatiewe krag vir veldry of plaasmasjinerie nie juis gevorder nie. Die kapasiteit van bestaande batterytegnologieë beperk die grootte van ten volle elektriese plaasmasjinerie, maar die AGCO Power-laboratorium werk daaraan om daardie paradigma te verander. “Ons belê baie in die navorsing en ontwikkeling van verskeie laerkoolstoftegnologieë, soos die elektrifisering van veldrymasjiene,” sê Kelvin Bennett, senior adjunk-president van Ingenieurswese van AGCO.
“Dit is opwindend om te weet dat daardie beleggings vanjaar tasbare resultate sal begin toon wanneer AGCO se eerste ten volle elektriese trekker, die Fendt e100 V Vario, in produksie kom.” Benewens die skoonenergielaboratorium, beskik die Linnavuori -aanleg oor nuwe produksiegeriewe vir silinderkoppe en kragoordragkomponente, uitbreidings aan die verfwinkel en toetsgeriewe vir hervervaardigde enjins, asook ‘n opleidings- en besoekersentrum. Altesaam beslaan die nuwe aanleg 11 000 vierkante meter met sommige fases van die projek wat vanjaar geopen is en ander wat in 2025 in werking sal wees. (bron: WorldAgritech. com)

Kelvin Bennett, AGCO se senior adjunk-president van Ingenieurswese, by een van die gevorderde enjins wat hulle toets.
100 000ste Fendt Vario gebou
Ondertussen het die 100 000ste Fendt 700 Vario onlangs die fabrieksvloer by Marktoberdorf in Duitsland verlaat. Die Vario-transmissie is die belangrikste kenmerk wat die AGCO-filiaal, Fendt, wêreldwyd gewild gemaak het en geneem het vanaf ‘n beskeie Duitse vervaardiger met verspreiding net in Europa tot ‘n wêreldrolspeler. Die 100 000ste Gen7 Fendt 700 Vario-trekker, wat die eerste keer in 1998 bekendgestel is, is in sy tuisstad Marktoberdorf in Duitsland gebou. Die sewende weergawe van die Fendt Vario 700 is tans op die mark.
“As ‘n veelsydige speler is die 700-reeks so te sê die VW Golf van die trekkermark,” sê Christoph Gröblinghoff, voorsitter van die Fendt-bestuursraad. “Die Vario het oor die jare ontwikkel om aan toenemende eise te voldoen: Meer krag, laer brandstofverbruik, meer beweeglik en selfs gemakliker. Om die trekker immer beter te maak, was en is die strewe van ons ontwikkelaars.”
Die spesiale 100 000ste trekker sal by die Fendt Forum-besoekersentrum in Marktoberdorf te sien wees. Verder sal die jubileumtrekker op toer gaan na skoue in Frankryk, Italië en ander lande. VineView, ‘n data-ontledingsmaatskappy wat inligtingsgedrewe oplossings bied om wingerde te optimaliseer, het onlangs sy PinPoint RTK-handtoestel bekendgestel. Die PinPoint RTK, wat op wingerdoperateurs gemik is, is spesifiek ontwerp vir presiese velddatainsameling, wat akkuraatheid bied deur Real-Time Kinematic (RTK) tegnologie. Met ‘n akkuraatheid van 2 tot 5 cm presteer dit beter as tradisionele GPS-ontvangers, wat gewoonlik ‘n akkuraatheid van 2 tot 4 meter het. Met sy robuuste ontwerp en programmeerbare knoppies is dit geskik vir enige tipe veldwerk waar ruimtelike data versamel word.

Gee jou druiwe ‘n goeie kans met PinPoint RTK.
Gekombineer met die VineView-mobiele toepassing, laat dit opsporingsinligting op individuele plantvlak toe. Die resultaat is akkurate velddatainsameling, wat wingerdoperateurs in staat stel om presiese kaarte te bou vir die mees ingeligte besluitneming en beplanning. Dit sluit in die volging van produksie, siektekartering, opbrengsskatting en bate-opsporing. Wingerdbestuurders kan hierdie kaarte as riglyne gebruik om te beplan hoeveel onderstokke om vir die volgende seisoen te koop, om siektes oor tyd op te spoor om te bepaal wanneer om ‘n wingerd te vervang, om werknemers na presiese plekke te stuur vir herplantings, en vele meer.
VineView se PinPoint RTK is ontwerp om ultradraagbaar en duursaam te wees en is waterbestand, wat betroubaarheid in veeleisende weerstoestande verseker. Dit het drie programmeerbare knoppies en gebruikers kan spesifiseer watter data hulle met die druk van ‘n knoppie wil versamel. Die PinPoint RTK verbind naatloos met die VineView-toepassing (beskikbaar op sowel Android as iOS), wat gebruikers in staat stel om tot 2 cm akkuraat te werk. Geen sein is ook geen probleem nie. Die PinPoint RTK werk as daar geen dataverbinding is nie om te verseker dat die operateur altyd kan werk. (Bron: FutureFarming)

Fendt 700 Vario Gen7: Nommer 100 000 is pas gebou.
