Staalmeester bereik nuwe kerf
Eers was dit ’n enkelry, toe dubbelry en nou spog Staalmeester met ’n uitmuntende nuwe produk, ’n ry-onafhanklike kuilvoerkerwer wat ernstig wil kom naam maak in Suid-Afrika. Verby is die dae van instel en mooi mik om sekuur die enkel- of dubbelmielierye raak te vang. Nou kan boere met gemak drie rye van wisselende wydtes baasraak en die lastige walletjie of klip misry sonder om te vrees dat hy iets oorgeslaan het.
Gert Olivier van Greefflaagte wys hoe die lemme werk waarmee jy ’n kuilvoerland van enige kant af kan binnestorm.
Die JF 1600 AT-presisiekuilvoerkerwer uit Brasilië beplan om die insteltyd en frustrasie vir Suid-Afrikaanse kuilvoermakers uit die weg te ruim en daarmee saam heelwat nuwe voordele te bied.
Du Preez de Villiers het by Gert Olivier van die plaas, Greeff-laagte, buite Lichtenburg, gaan kuier om meer uit te vind oor sy boerdery se jongste aanwins. Dit was op sy plaas waar die Brasiliane die eerste prototipe voor Nampo getoets en verstel het om seker te maak dat Suid-Afrikaanse boere ook elkeen van die nuttige eienskappe van die masjien kon geniet. Gert se kerwer het net voor strooptyd in April sy opwagting op die plaas gemaak en kon ’n hele 1 000 ton kuilvoermielies in die beplande tyd kerf.
Voor, agter of langsaan
“Met my vorige kerwer moes ek baie arbeid en tyd inspan om die mielielande oop te maak sodat ek sonder verliese kon begin stroop. Nou haak ek net die JF 1600 AT agter die trekker en stoot hom agteruit die land in vir een keer se heen-en-weer en skielik het ek baie meer tyd en geld om elders te spandeer,” sê Gert.
Die JF 1600 se twee ronde lemme onder die tafel bied inderwaarheid ’n saagaksie wat nie skroom om fris en dik mieliestamme soos blits af te saag voordat die res van die plant verorber word nie.
JF se lemtegnologie het ook nie stilgestaan nie. Die 12 C-vormige lemme (‘C’ technology) in die kerwer het ’n handvol eienskappe wat nie te versmaai is nie. Buiten die versterkte blaasaksie, breek dit die pitte vir daardie ekstra en noodsaaklike verteerbaarheid en sny die materiaal in enigeen van 24 verskillende lengtes van 2 mm tot 36 mm. Die besondere eenvormigheid van die deeltjies is ook iets om oor opgewonde te raak.

Die JF 1600 AT sny soos mes deur die meeste kuilvoergewasse.
Die kerwer word doodeenvoudig van die kragaftakker met ratkaste aangedryf, sonder dryfbande of kettings, wat beteken dat minder trekkerkrag en minder onderhoud nodig is, en dat minder staantyd ondervind word terwyl hoër produksie en beter doeltreffendheid vir die boer wink. Gert se trekker van 90 kW is meer as mans genoeg vir die kerwer wat 50 ton per uur maklik hanteer. Met sy wye bek van 1,6 m draf die kerwer drie rye met ’n rywydte van 75 cm kaf en dan het hy nog 5 cm speling aan weerskante. As jy ’n vaste hand op die stuurwiel het en mooi kan mik, kan jy hom op sy maksimum van drie rye van 80 cm gebruik.
Die JF 1600 AT ry-onafhanklike presisiekuilvoerkerwer doen sy werk voor, agter of langs die trekker.
Die skarnier in die raam en twee ondersteuningswiele aan weerskante van die kerwer help om met gemak oor kontoere te werk of oor ’n geniepsige walletjie te ry.
Hoekom Staalmeester?
“Ek het gevind dat Staalmeester se toerusting die beste bied vir gemiddelde grootte boere soos ek. Die slytonderdele is hier by die koöperasie beskikbaar en die masjiene se werking is eenvoudig. Staalmeester het ’n twaalf maande waarborg en is redelik as dit kom by probleme wat na die tyd mag opduik. Oor die jare het ek agtergekom dat daar drie dinge is waaraan jy ’n verskaffer soos Staalmeester kan meet. Dit is die koste wat hy jou bespaar, die gehalte van sy diens en die gehalte van die eindproduk.
As jy ook voordeel uit Staalmeester se redelike pryse, skitterdiens en doeltreffende werktuie wil trek, kan jy vir vir Staalmeester skakel by 018-431-0300 of stuur ’n e-pos na, info@staalmeester.co.za.