Categories: PlantersPublished On: 25th July 2014

Jumil het 'n planter vir jou plaas

By 4 min read
728 words

Of jy net vier hektaar mielies vir die skapies wil plant, jou pitte deur slangbosreste in die grond wil sit of jou reuse saaiplaas wil omskakel na geenbewerking… Jumil het ’n planter vir jou behoefte.

Net so 15 km buite Parys op die Fochville-pad teen die Vaalrivier lê Peter en Lesley Faber se plaas van 65 ha, wat aangeskaf is vir hulle Arabierperde. Vandag is daar nie net ’n Arabierperdstoet op die plaas nie; daar word ook boerbokke, Ile de France-skape en Kolbroekvarke geteel en natuurlik is daar ’n klompie vryloophoenders soos op elke plaas hoort. En almal soek kos. “Ek het altyd sakke pilkos gekoop wat my derduisende rande gekos het en ons kon nie verstaan waarom die skape wat aan Karoo-bossies gewoond was, nie wou groei soos hulle moes nie,” vertel Peter.
JumilCrop-Tech het aan Peter Faber van Parys ’n twee-ry Jumil-planter beskikbaar gestel sodat hy genoeg voer vir al sy diere kon produseer.

Hy het toe uitgevind dat mense vreemde goed doen om volume aan die pille wat hulle verkoop, te gee, soos om saagsels met die lusern te meng. Die pille lyk mooi, maar beteken nie veel nie.

Peter het besluit om self sy rantsoen te meng, maar daarvoor moet daar geplant word. Vier hektaar op die klipperige plaas is met groot moeite skoongemaak, onder spilpuntbesproeiing gesit en voorberei vir plantwerk. “Ek het gekyk na die tweeryplanter van Jumil (JM 2090 MG), maar Crop-Tech het toe nie dadelik een in voorraad gehad nie. Ek kan egter net met groot lof praat van die vriendelike, hulpvaardige diens van Hennie du Toit en sy span. Hulle het ’n demonstrasiemodel tot my beskikking gestel en was heeltyd daar om te help,” sê Peter. Selfs toe daar ’n bout oor ’’n naweek gebreek het, het hulle moeite gedoen om dit te vervang.

Dit was Peter se eerste ervaring met ’n planter en Crop-Tech se mense het hom mooi gehelp om die planter reg in te stel. Daarna was dit maklik. Hy het 80 000 pitte per hektaar geplant en was baie beïndruk met die vinnige opkoms en uitstekende plantestand. “Na net vyf dae het die mielietjies uit die grond uit gestoot en hulle het deurgaans pragtig gegroei.”

Hy het uiteindelik 30 ton mieliekoppe (met die hand!) gepluk en gemaal, wat veel meer is as wat sy diere kan eet. Volgende seisoen gaan daar twee hektaar mielies en twee hektaar lusern in. Sy eie JM 2090 MG word in Augustus afgelaai.

Slangboswenner

Nog ’n veeboer wat van oor tot oor glimlag oor sy Jumil-planter (POP JM 2670-SH-Exacta), is Piet Human van Steynsrus in die Vrystaat. As erkende Beefmaster-stoetboer weet Piet presies wat hy wil hê en hy was opsoek na ’n planter wat nie skrik vir enige reste nie.

Piet Human en sy plantvoorman, Petrus Hlonghwane, is trots op hulle goeie mielie-oes wat by die JM 2670 se harde sny- en plantwerk begin het.

Piet plant sedert 1981 Oulandsgras vir sy beeste, maar mettertyd het peslike slangbos die weiding begin oorneem. Sy bestryding bestaan daaruit dat hy die slangbos in sekere lande met ’n stewige skotteleg uitdis en dan vir drie jaar graangewasse in die lande plant, voor hy weer terugkeer na weiding Hy sê sy Jumil 2670 werk uitstekend om deur die harde slangbosreste te sny en steeds uiters akkuraat te plant. Dit is ’n vakuumplanter en Piet sê jy kan hom maar in ’n presisiestelsel inbring, die pitte beland waar hulle moet en op die regte diepte. Daar is ook nie saadvermorsing nie. Daarby is dit ’n driepuntmodel wat goed werk op die lande waar daar kontoere is; dit verminder draaityd en kompakteer nie die grond soos ’n sleepmodel nie. Die plaas is ook in heelwat kampe verdeel met hekke en heinings wat stewig genoeg moet wees om selfs die ywerigste Beefmasterbul op sy plek te hou. Die JM 2670 glip glad deur die hekke.

Van 10 November tot 10 Februarie het die planter 250 ha mielies, 250 ha sonneblom, 100 ha voersorghum en 100 ha radyse geplant, en Piet sê die ander groot pluspunt is die uitstekende diens wat hy van Crop-Tech se mense gekry het.

“Hulle het self die kalibrering kom doen en as daar ’n probleempie was, was hulle blitsig hier om dit op te los.”

Om ’n planter te kry wat perfek by jou boerdery pas, praat met Hennie du Toit van Crop-Tech by 056-817-7210, 082-850-3744 of sales@croptech.co.za of besoek www.croptech.co.za.

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0