Kies die regte planter: Plant met 'n plan
’n Goeie geenbewerkingplanter is swaar en stewig om doeltreffend in onbewerkte grond en deur plantreste te plant.
Ons mielieboere weet dat ’n goeie oes grootliks afhang van die manier waarop en die tydigheid wanneer die saad geplant word. ’n Goeie planter handhaaf die perfekte plantdiepte, spasiëring en kunsmisplasing wat elke pit die beste kans gee om tot ’n gesonde, produserende mielieplant te ontwikkel. En dit alles moet hy darem regkry voordat die gunstige planttoestande verstryk het.
Alle planters se basiese werking is dieselfde: maak ’n saadvoor oop, plaas kunsmis (hetsy vloeibaar of in korrelvorm), plaas pitte op eweredige, voorafbepaalde afstande van mekaar af en almal op presies die regte diepte in die saadvoor, maak die saadvoor toe en trap ferm vas. Hierby kan natuurlik spesiale dinge gevoeg word, soos die snykouters van geenbewerkingplanters wat deur plantreste sny om plek vir die saadvoor te maak, oopkrappers wat plantreste effens opsy skuif, gelykskrapers wat die bodem van die saadvoor gelykvee voordat die saad geplaas word en entstoftoedieners wat allerlei middels in die saadvoor kan toedien.
Die hart van ’n planter is sy uitmeeteenheid wat pitte een vir een met reëlmatige tussenposes na die plantvoor stuur om presies ewe ver van mekaar af geplant te word. Daar is verskillende soorte uitmeeteenhede beskikbaar en elke boer het sy eie oortuiging van watter een die beste is, maar elke uitmeeteenheid se verantwoordelikheid is dat daar geen dubbelpitte of haasbekplekke geplant word nie, want altwee hierdie euwels verminder jou oes.
Die oudste uitmeeteenheid, watvandag nog steeds in talle planters gebruik word, is die plaatmodel. Die mieliesaad lê in die planterbak bo-op ’n draaiende plaat met gate in. Die plaat pas knus bo-op ’n stilstaande plaat met net een gat, wat regoor die pyp na die saadvoor geplaas is. Soos die boonste plaat draai, beland daar ’n pit in elke gat en die pit draai saam totdat dit bo die gat in die onderste plaat kom, vanwaar ’n tikker dit tot in die saadafleibuis tik. ’n Afskraper sorg dat daar net een pit op ’n slag by die tikker uitkom.
Die boonste plate kan maklik vervang word en is beskikbaar met verskillende groottes gate vir verskillende groottes en soorte saad. Die grootste voordeel van ’n plaatplanter is dat dit so eenvoudig is en so maklik om mee te werk. As die plaatplanter eers gekalibreer en reg ingestel is en jy het die regte grootte en vorm pitte vir sy plate, kan jy hom maar in die land in stoot. Hy plant reg of glad nie, sê die boere, en dit beteken dat sy operateur nie onmoontlik hoë kwalifikasies hoef te hê om met hom te werk nie. Een van die nadele van die plaatplanter is sy gevoeligheid vir saadgrootte en -vorm, maar die saadmaatskappye sorteer deesdae hulle saad so sorgvuldig in soveel opsies dat die boer in oorleg met sy planterverskaffer en saadmaatskappy nommerpas die regte saad kan aanskaf vir perfekte plantwerk.
’n Verdere nadeel is dat die gewig van die saad in die bak bo-op die plaat, en die verkeerde speling tussen die boonste en onderste plate soms kan saamwerk om die saad eerder te maal as te plant, veral as die planter al oud en verslete is. Plantervervaardigers het hierdie probleem opgelos deur ‘n skotplaat onder in die saadbak wat net ’n klompie saad op ’n slag laat verbykom om op die planterplaat te rus, en ’n plaatplanter wat na elke seisoen versien word, sal die boer nie in die steek laat nie.
’n Verdere gewilde meganiese uitmeeteenheid is die vingereenheid, ook genoem die plaatlose planter, wat in die sewentigerjare van die vorige eeu verskyn het. Dit is ’n skyf met veerbelaaide vingers of lepeltjies wat vertikaal in die saadbak draai. Elke vinger voer een saadpit teen die rugplaat en afskrapers verwyder oortollige pitte voordat die vingers draai om die pitte een-een deur ’n opening in die rugplaat na ’n vervoerband agter die rugplaat val, vanwaar dit na die saadpyp vervoer word.
Die hele vingeruitmeeteenheid kan van die saadbak af gehaal word om dit vir versiening uitmekaar te haal. Die vingerplanter plant akkuraat en betroubaar, maar is nogal gevoelig vir pitgrootte en -vorm. Die boer moet ook waak teen slap of gebreekte vingerveertjies en sorg dat die eenheid nie roes terwyl dit buite seisoen gebêre word nie.
Daar is vandag steeds talle boere wat plaat- of vingerplanters gebruik, al is lugplanters reeds geruime tyd beskikbaar. Lugplanters kan in vakuumplanters en positiewelugdrukplanters verdeel word.
’n Vakuumplanter se vertikale plaat met gaatjies in suig die pitte teen die gaatjies vas en sluit die suigstroom af sodra die pit bo die plantpyp kom sodat dit na die plantvoor val. ’n Nadeel van vakuumplanters is dat al die saad aan die plaat uitgesmyt word sodra die vakuum te veel verminder. Dit kan gebeur sodra ’n trekker wat ’n kragaftakkeraangedrewe vakuumplanter sleep, se enjinomwentelinge daal, daarom moet die operateur die enjinomwentelinge hoog hou terwyl hy op die wenakker draai. ’n Oplossing vir die probleem is vakuumplanters met hidroulies-aangedrewe vakuumwaaiers, wat nie so regstreeks van enjinspoed afhanklik is nie.
Sommige plantervervaardigers glo dat positiewe lugdruk positiewer as suigkrag is. Waar ’n vakuumplanter se waaier suigkrag aan die agterkant van die plaat uitoefen om die pitte teen die plaat se gaatjies vas te suig, blaas die positiewelugdrukplanter die pitte van die voorkant af teen die plaat se gaatjies vas.
Sommige positiewelugdrukplanters blaas selfs die saad in die saadpyp af tot in die plantvoor, om die oneweredige spasiëring wat springende sade kan meebring, verder uit te skakel. Elke tipe planter het sy rol en plek in die graanbedryf, en die gevorderde moderne planters metsatellietbeheer en wisselbare toediening het nog nie die eenvoudige plaatplanters uit die mark gedruk nie. Veral veeboere wat ’n bietjie mielies vir kuilvoer of vir die graankomponent van hulle voerrantsoen wil produseer, verkies die plaatplanter omdat dit so eenvoudig is om mee te werk.