Rumax se betroubare blou wys weer by Kaap NAMPO

DSC_0299
Van peul tot pil: Verskeie van die Rumax-masjiene kan saam gebruik word om pille te maak. Die proses loop van regs waar die hamermeul materiaal in die konsentraatmenger gooi, tot links waar ՚n awegaar die mengsel in ՚n pilmasjien invoer.
Rumax se betroubare blou masjiene het weer op aandag gestaan by die Kaap NAMPO-terrein in Bredasdorp. Dit is nie Rumax se eerste NAMPO nie en beslis ook nie die laaste nie. Die vervaardiger van hamermeulens, voer- en konsentraatmengers, bankiesnyers en misstrooiers, kon weer na twee jaar van inperkings by die bekende skou uitstal.
Vir die Rumax-span bly hierdie skou ՚n belangrike geleentheid om met boere te gesels en blootstelling vir hulle wye reeks produkte te kry. “Ons is opgewonde om weer by Kaap NAMPO te wees. As jy nie hier is nie loop jy iets mis,” lag Jaco Pieters, eienaar van Rumax.
՚n Masjien vir elke taak
Hierdie jaar is daar verskeie masjiene met die hand uitgesoek. Eerste in die ry is die Rumax 7, die kleinste volvoermenger wat die maatskappy vervaardig. “Jy kan ՚n hele rondebaal daarin gooi,” vertel Jaco. “Die bak aan die agterkant tel die baal op en gooi dit in die masjien. Dit word gekerf en gemeng met die voer wat jy bygooi. Jy kan ՚n skaal op die voermenger monteer indien nodig.”

Die voermenger neem ongeveer 20 minute per mengsel.
“Hierdie voermenger se prys maak dit baie gewild onder skaapboere; dit is klein, doeltreffend en heel bekostigbaar,” verduidelik hy. “Die skaapboere vind hierdie voermenger aanloklik omdat dit so fyn kerf.”
Hierdie spesifieke model is ketting-aangedrewe waar die ander met ratte aangedryf word. Dit is ՚n 7 m3 voermenger, maar dan is daar ook nog die 9 en 15 m3 beskikbaar indien ՚n boer ՚n behoefte aan groter volumes voermengsels het.
Jaco het dit ook goedgedink om te wys hoe verskeie masjiene saamgevoeg kan word om ՚n hele aanleg te vorm. In die middel van die Rumax-stalletjie was ՚n hamermeul wat materiaal in die konsentraatmenger invoer. Vanuit die konsentraatmenger voed ՚n awegaar dan die pilmasjien. Die awegaar se spoed kan verstel word.
Rumax se hamermeulens is ook ten toon gestel. Die klein BD55 werk baie goed vir kleinskaalse bedrywighede en spesialistake soos speserye maal.
Daar is verskeie toepassings vir die hamermeul. “Daar is sommige mense wat dit gebruik om polistireen te maal of selfs ou spons, of steenkool wat vir diere gevoer word omdat die middel skadelike of giftige stowwe vasvang. Deur die hamermeul se spoed te verstel, kan dit fyner of growwer maal. Verskillende siwwe kan ook gebruik word.
Masjiene vir verskillende take

Rumax vervaardig nie net ՚n wye reeks werktuie nie, maar skep ook masjiene volgens die boer se behoefte. Dit is wat Jaco ook tydens NAMPO aan boere wou wys. Daarom het hy twee byna identiese konsentraatmengers saamgebring. “Ons het ՚n hele reeks van ՚n half-ton tot ՚n twee-ton. Hierdie is albei een-en-՚n-half ton-mengers. Die een is op wiele gemonteer en die ander een het ՚n vaste raamwerk.
“Baie mense besef nie dat ons konsentraatmengers ook met wiele beskikbaar is nie, daarom het ek juis hierdie masjien saamgebring,” sê Jaco.
Die mobiele masjien word aan die trekker se kragaftakker gekoppel.
Nuweling trek baie aandag
Dit is nie net vee- en wildboere wat deur Rumax gehelp word nie. Hulle bied ook meganisasie-oplossings aan druiwe- en vrugteboere. Die bankie-snyer is spesiaal ontwerp om aan ՚n trekker se drie-punt gehaak te word. Die trekker beweeg deur die wingerd en die lemme van die masjien sny skoon onder die stokke. Boere kan kies om met twee lemme gelyk aan weers-kante van die trekker te sny, of met een lem aan een kant.
“Vandat die bankiesnyer bekend-gestel is, is dit baie gewild. Daar is baie navrae en baie belangstelling,” voeg Jaco by. Ons kyk nou daaraan om ‘n groter model te ontwikkel vir vrugteboere. Hierdie een sal wyer kan sny, maar ons is nog nie klaar met daardie ontwerp nie.”
Kyk uit vir die nuweling by die volgende NAMPO.
Om meer uit te vind oor Rumax-werktuie en die voordele wat dit vir jou plaas inhou, gesels met Jaco Pieters by +27(0)-82-335-3970 of +27(0)-23-342-6070. Stuur gerus ook ՚n e-pos aan jaco@rumax.co.za of besoek die webtuiste op www.rumax.co.za.