ProAgri vier vrouemaand! Die geskenk om ‘n vrou te kan wees
Wat ՚n voorreg is dit nie om ՚n vrou te wees nie! Die steunpilaar van ՚n gesin, vol onmeetbare liefde en diep emosie wat geen grens kan binnehou nie. Weerloos, maar ook sterk, ՚n totale kompakte krag wat mense inneem en koester wanneer die lewe onderstebo draai en niks meer sin maak nie. Dit vat ՚n spesiale aanraking van ՚n vrou om kleur in die wêreld te bring en die lewe ՚n nuwe asem te kan gee.
Die uniekheid van ՚n vrou is spesiaal haarself. Daar is niemand anders as sy nie en dit is deel van haar krag. Haar aksies los ՚n nalatenskap wat ander inspireer en sy gooi nie tou op wanneer dit moeilik raak nie. Haar hande dra die getuienis van harde werk wat uitgevoer word met grasie en skoonheid. Sy vind balans in elke dag, met vrede en vryheid op haar lewensavontuur. Wanneer ՚n vrou op haar kwesbaarste is, is sy ook op haar sterkste, want dan skop ՚n ongekende oorlewingsdrang in wat vir niks en niemand terugstaan nie. Dit is die eienskappe wat ՚n vrou se rol in die samelewing bepaal: wilskrag, deursettingsvermoë, skeppingskrag en empatie. Sy weet intuïtief as iemand nonsens praat, leë beloftes maak, of aan die ander kant, hulp en aanvaarding nodig het.
Sy kan ՚n plan maak en met durf en humor deurvoer. Vir ՚n vrou in landbou, in watter rol sy ook al staan, is al hierdie eienskappe noodsaaklik. As maatskappyverteenwoordiger of wetenskaplike moet sy kan leiding neem in die werksplek en haarself bewapen met kundigheid sodat sy enige vooroordele met goeie raad kan oorkom. As vroueboer moet sy haarself kan laat geld sonder om haar vrouwees in te boet. As boervrou is sy gewoonlik die een wat moet luister na werkers se persoonlike probleme en oordeel of ՚n sagte of harde woord nodig is. Sy moet van alles iets weet, veral wie om te bel as die stroper skielik gaan staan.
En as vrou moet sy verstaan dat ՚n boer wat altyd sterk moet wees, partykeer ook maar net ‘n oor nodig het wat sy hart kan hoor. Vroue het sekere eienskappe wat eenvoudig nie vervang kan word nie. Die vermoë om te vertroos, te versorg en ՚n tuiste te skep is in haar ingeweef. ‘n Magtige vrou pak die lewe met volle selfvertroue aan. Sy kan instap in ՚n vertrek vol negatiewe mense en die atmosfeer heeltemal verander! Vroue se omgee vir regverdigheid maak die wêreld ‘n beter plek. Die vrou lig op, moedig aan, verduur, is vol deernis-haar bestaan is liefde!
So, vir al die vrouens: leef aandagtig, proe die lewe, maar moenie dit te vinnig afsluk nie-jou lewe is kosbaar en boonop dit is daar altyd ՚n paar interessante stories om langs die pad te vertel! Hierdie boodskap is vir die sterk vrouens: mag ons hulle ken, mag ons hulle wees, mag ons hulle grootmaak.
Groete, ProAgri se damespan