ProAgri SA 308

Proagri_308_October_2025_Front Cover-V2
Beste ProAgri-leser,
Ons staan aan die begin van ’n nuwe seisoen – ’n tyd van hoop, van voorbereiding, en van harde werk. Vir baie boere is dit planttyd, ’n kritieke tyd waarin elke besluit, elke saadjie en elke pit in die grond asook elke reëndruppel, ’n verskil kan maak. In hierdie tyd dink ek regtig aan elke boer in die land, en ek bid dat dit ’n geseënde en gesonde seisoen vir elkeen sal wees.
Ek het onlangs die voorreg gehad om Leeuwheuvel Boerdery buite Vryburg te besoek… wat ’n vooruitstrewende familieboerdery! Wat my bybly, is nie net hulle vooruitstrewende denke in terme van boerdery en besluitneming en die manier waarop hulle die grond berook om aalwurm te bekamp nie, maar ook die hart en samehorigheid van die familie wat agter die boerdery staan. Lees meer op bladsy 4.
In hierdie uitgawe kyk ons ook na Valtrac se indrukwekkende Valtra S6-trekker en die splinternuwe Valtra Q-reeks. Hierdie trekkers word ontwerp en vervaardig om jou as boer te ondersteun, om jou werk makliker te maak en om te help dat jou boerdery die beste moontlike resultate kan lewer. Lees meer oor hierdie trekkers op bladsy 3.
Ons weet dat insetkoste toenemend styg, dat die uitdagings van die mark en die klimaat soms swaar voel, en dat elke besluit nou nog belangriker is as ooit tevore. Dus is dit noodsaaklik om toegerus te wees met kennis, om in te lig en te verstaan, en om wyse besluite te neem wat die toekoms van julle boerderye en families sal beskerm.
By ProAgri streef ons daarna om hierdie kennisbron vir julle te wees, om praktiese insigte, nuus en stories met julle te deel wat nie net interessant is nie, maar ook werklik waarde toevoeg. Ons waardeer elke boer en betrokke
persoon in die landboubedryf.
Julle werk, julle passie en julle volharding inspireer ons elke dag om beter te doen, om stories te vertel wat regtig saak maak en om ’n vennoot in julle landboureis te wees. Mag hierdie seisoen vir julle geseënd wees.
Landbou groete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za