ProAgri SA 299
‘n Jaar van nuwe hoop
Ek twyfel of daar enigiemand onder ons is wat nie nuwe moed skep wanneer ՚n nuwe jaar sy lê onder ons kry nie. Al was die vorige jaar hoe swaar en uitdagend met terugslae, persoonlik en in die land, in die landboubedryf kyk ons op die eerste dag van die jaar op en boontoe en ons probeer weer.
Ek ry die anderdag op die plaas rond en dit is droog, die diere ly honger, die weiding is min, ons moet planne beraam om die moeilike tyd deur te sien, die buurman se veld brand. Na ՚n oproep laatmiddag van die buurman om te vra kan ons asseblief kom help om die vuur te blus waar ons kan, daag ons vasberade op, met ՚n paar donderwolke wat in die verte dreun. Na so ՚n uur se skarrel in die veld met die vuur, sak daar ewe skielik ՚n reënbui uit oor ons in die veld en blus die vuur vinniger as wat ons sou kon.
Hierdie gebeurtenis het my weer opnuut laat besef: maak nie saak hoe of in watter situasie jy jouself bevind nie, jou geloof moet altyd sterker wees as jou probleme. Waar ՚n nuwe jaar met 365 geleenthede daagliks voor ons lê, hoop ek dat een en elkeen van ons steeds begeestering uit die klein dinge sal kry (of jy nou nuwejaarsvoornemens het of nie).
Mense wat vir mekaar omgee, ՚n bietjie reën na ՚n lang droogte en ՚n vriendelike gesindheid teenoor ons medemens. Dit is tyd vir lief wees en omgee, want ons het mekaar nodig. Ten spyte van die gejaagde en dolle lewe, moet ons tyd maak vir mekaar, ons moet luister terwyl ons mekaar nog het.
Om ’n verskil te maak, hoef nie groot of buitengewoon te wees nie. ’n Sagte hand op die skouer van ’n kollega wat ’n familiekrisis moes hanteer, maak ’n verskil. Ook om iemand te leer dat dit vergeefbaar is om foute te maak. ’n Sagte bemoediging se impak trek veel verder as harde woorde of hardvogtigheid.
My wens vir jou: Mag 2025 vir jou ՚n jubeljaar wees, nie omdat alles perfek is nie, maar juis omdat jy kon oorwin toe die stryd op sy felste was. Mag die Here se genade op jou toesak soos milde reën tydens ՚n woedende veldbrand. Mag dit ՚n geseënde en vrugtevolle oesjaar wees.
Landbougroete!
Bianca Henning – bianca@proagri.co.za