Pioneer stel nuwe wit droëlandkultivar bekend

corn-6788227_1920
Prestasie en die strewe na voortdurende verbetering is deel van die mens se natuur. Jaarliks word atletiek- en swemrekords verbeter. Die Springbokke is twee keer agtereenvolgend as die wêreldkampioene aangewys, en Suid-Afrika swaai ook tans die septer as die wêreldkrieketkampioene in vyfdagtoernooie.
Ook op die gebied van wetenskap en tegnologie streef die mensdom voortdurend na vordering en innovasie, wat soms die vraag laat ontstaan: “Waar moet ons ons die streep trek? Waar eindig dit alles?”
Dit is hier waar Pioneer – met visie, innovasie, samewerking en etiek – nie net die eindstreep in sig het nie, maar volgehoue, doelgerigte genetiese ontwikkeling nastreef ter wille van voedselsekerheid – ’n dryfkrag wat die lewensgehalte van produsente, verbruikers en die ganse mensdom verbeter. Teen hierdie agtergrond wil ek graag ’n nuwe wit droëlandkultivar bekendstel. P28022WPW is ’n produk wat aan langtermyn-doelwitte voldoen wat betref volhoubaarheid, aanpasbaarheid, top-opbrengste en finansiële sukses.
Kultivarkeuse is ’n belangrike besluit wat berus op verskeie kultivareienskappe, waaronder:
•opbrengspotensiaal
•meerkoppigheid
•produktiewe spruite
•staanvermoë
•kophoogte en
•siekteverdraagsaamheid.
Aanpasbaarheid by wisselvallige temperatuur- en reënvaltoestande is van groot belang. Uitermatige grondverskille en selfs populasie-aanbevelings is noodsaaklike oorwegings wanneer ’n nuwe genetiese platform op die proef gestel word.
Meerjarige evaluasie van P28022WPW toon dat dié nuwe genetiese platform wel aan hierdie vereistes voldoen. Pioneer is opgewonde dat die produk, toegerus met PowerCore™-tegnologie, by die Pioneer West-witkultivarpakket gevoeg word. PowerCore™-tegnologie bied beskerming teen mieliestronkboorders en is ook geskik vir gebruik in ’n stelsel waar Roundup aangewend word.

Die swart lyn in Figuur 1 hierbo verteenwoordig P28022WPW, gelykgestel aan nul in terme van kg/ha-verskil relatief tot ander kultivars.
Stof kompetisie uit
Die meerjarige data in die westelike produksiegebied toon dat P28022WPW ’n nuwe produk is wat die opbrengsplafon verskuif. Dit oortref P2565WPW met ’n gemiddelde van 438 kg/ha oor 32 lokaliteite. P28022WPW oortref P2885WPW oortuigend met 898 kg/ha oor 52 lokaliteite. Hierdie prestasie is ’n bewys van die goeie genetiese vordering wat met die teelprogram vir wit kultivars in die westelike produksiegebied bereik is.
Die mate waarin P28022WPW gedugte mededingende kultivars uitstof, onderstreep hierdie feit. P28022WPW oortref Opposisie A en B onderskeidelik met 229 kg/ha (37 lokaliteite) en 287 kg/ha (38 lokaliteite). Om topverkoperprodukte C en D te oortref met onderskeidelik 871 kg/ha (56 lokaliteite) en 446 kg/ha (55 lokaliteite) is merkwaardig. Uitstekende graangehalte en goeie staanvermoë is eienskappe wat P28022WPW van ander wit droëlandkultivars onderskei.

P2565WPW, P2885WPW en P28022WPW is dus drie Pioneer-witkultivars wat as stalmaats in die westelike produksiegebied aangewend kan word. Dit verseker aanpasbaarheid, stabiliteit en risikoverspreiding in ’n pakket – wat noodsaaklik is in ’n reeds onvoorspelbare klimaatomgewing en wat gemoedsrus aan die produsent bied.
Die meerkoppigheidsindeks is 1,72. Die koppe is naastenby ewe groot en ontwikkel relatief gelyk. P28022WPW is ’n mielie wat nie regtig spruit nie, maar eerder genetika met ’n sterk uitdrukking van meerkoppigheid wat hoofsaaklik op die hoofstam gedra word.
Vroeë saailinggroei is sterk en vinnig. Die gevolg is ’n uniforme opkoms van saailinge wat die beste aanslag vir opbrengs as fondament verskaf. Plante is sowat 2,1 m lank, met koppe wat ongeveer 51% van die plantlengte gedra word. Met koppe wat op 1,09 m gedra word, is hierdie produk maklik stroopbaar.
Plantpopulasies van 25 000 tot 32 000 plante per hektaar, afhangend van die produksiepotensiaal en toestande, is geskikte aanbevelings. Die genetika presteer goed op alle grondtipes. Enige ry-konfigurasie (0,9, 1,5 en 0,76 m) is aanvaarbaar.
Dus is P28022WPW ’n kultivar wat antwoorde bied om risiko te beperk. Dit lewer uitstekende mededinging wat betref opbrengs en veral die stabiliteit, aanpasbaarheid en kompensasievermoë van dié genetiese platform maak dit ’n gunstige aanbeveling.
Gesien teen die agtergrond van uitstekende agronomiese eienskappe, behoort P28022WPW deel te vorm van enige witmielie-kultivarpakket wat in die westelike produksiegebied vir droëlandverbouing gebruik word.
Vir meer inligting of navrae kan boere Pioneer kontak deur ՚n e-pos te stuur na info.rsa@pioneer.com, of besoek hulle webwerf by www.pioneer.com/za.