Categories: Artikels, Gewasproduksie, SaadPublished On: 1st June 2026

Pioneer se 100 jaar agronomietoer trap nuwe spore in die Vrystaat en Hoëveld

By 8 min read
1576 words

Pioneer dag 3 en 4 (11)

Die volhoubare sukses van enige landboumaatskappy lê in die krag van sy vennootskappe. Vir Pioneer en Corteva Agriscience is hierdie waarheid al dekades lank die hoeksteen van hul bedrywighede, wêreldwyd sowel as op plaaslike bodem.

In Maart vanjaar het Pioneer ’n historiese mylpaal gevier: ’n eeu van innovasie, wetenskaplike deurbrake en ’n onwrikbare, boergesentreerde benadering. Alles wat die maatskappy aanpak – van gevorderde navorsing en ontwikkeling tot markbeleggings – plaas die boer reg in die middel van hul bedrywighede. Pioneer is die vlagskip handelsmerk van Corteva Agriscience en fokus onverpoos op gevorderde genetika en gewasbeskerming. Waar baie maatskappye slegs van seisoen tot seisoen beplan, kyk Pioneer reeds na 2035 en verder om voedselsekerheid te
verseker. Binne hierdie wêreldwye visie beklee Suid-Afrika ’n gesogte posisie as een van die top 10-markte wêreldwyd.

Dit is waarom die maatskappy swaar belê in plaaslike navorsing, proewe en tegnologie wat spesifiek aangepas is vir die unieke en dikwels uitdagende toestande wat Suid-Afrikaanse boere moet trotseer. Die toekoms van landbou word gedryf deur tegnologie en innovasie.

Deur genetiese vooruitgang en nuwe biotegnologie, soos geen-redigering (gene editing) en die ontwikkeling van weerstand teen veelvuldige siektes, skep Pioneer die boustene vir die volgende eeu. Die fokus is gerig op ses groot uitdagings wat boere se nagrus steel: insekte, onkruidbeheer, siektes, uiterste weerstoestande, voedselveiligheid en volhoubaarheid. Pioneer-genetika het reeds rekordopbrengste op plaaslike bodem behaal, maar die maatskappy glo die ware potensiaal is selfs groter. Jaarliks word honderde proewe en modelle in Suid-Afrika uitgevoer, waar kunsmatige intelligensie (KI) en voorspellende analise ingespan word om die beste kultivarkombinasies vir elke spesifieke streek te vind.

Tog is die pad vorentoe nie sonder struikelblokke nie. Boere steier tans onder hoë insetkoste, politieke skokke en streng druk. Om hierdie uitdagings aan te spreek, het Pioneer sy 100 jaar agronomietoer van stapel gestuur. Hierdie toer het die maatskappy die gulde geleentheid gegee om direk met Suid-Afrikaanse boere te gesels, vrae te beantwoord en eerstehands te leer wat op die grond benodig word.

Samekoms, strategie op Harrismith

Die derde dag van die agronomietoer het plaasgevind op die bekende plaas Bella Rosa in die Harrismith-distrik, die boerdery van ’n plaaslike sleutelboer. Hierdie perseel dien as ’n sentrale verwysingspunt waar boere van regoor
die streek kan saamkom om te sien hoe verskillende pakkette onder verskillende plantstande presteer. Des Cuff, Pioneer se areabestuurder in die Oos-Vrystaat, het die belangrikheid van die maatskappy se plaaslike betrokkenheid beklemtoon.

“As Pioneer is ons baie betrokke in hierdie area. Ons het ’n sterk betrokkenheid in al die boereverenigings. Ons plant verskeie proewe op verskeie persele by verskeie boere om sodoende vir die boere te kan wys wat werk en wat werk nie op hulle plase nie.”

Des het verduidelik dat die proewe op Bella Rosa al verskeie jare geplant word en krities is vir die streek sodat
kliënte presies kan sien watter totale pakket Pioneer kan bied. Vir Des is die rol van die verkoopspan baie meer as
net transaksioneel. Die agente streef daarna om ware vennote op die plaas te wees, gerugsteun deur die diepgaande kennis van landboukundiges.

“Vir ons is dit belangrik om te sien dat die boer die beste uit elke hektaar kry,” het hy gesê.

Sy wens vir die volgende eeu is duidelik: groei in tegnologie, sterker kliënteverhoudings en ’n suksesvolle land wat sy voedselsekerheidsdoelwitte haal. Die gesprek het daarna verskuif na die tegniese uitdagings van die omgewing. Gideon Knobel, wat al 20 jaar lank as Pioneer-agent in Bethlehem diens doen, het verduidelik dat die grootste kopseer in die Bethlehem-, Ficksburg- en Fouriesburg-area die enorme variasie in grondtipes is. Om die regte kultivar op die korrekte grond te plaas, is ’n kuns.  Pioneer span unieke digitale agronomiese proewe in om hierdie legkaart op te los. Gideon wys daarop dat die streek wissel van vlakker gronde tot dieper, hoëpotensiaal-gronde en ryk rooi gronde.

Volgens Gideon is daar tans drie topkultivars wat koning kraai in daardie area:

P18380 en P18380PW: ’n Splinternuwe, hoogs stabiele konvensionele geelmieliekultivar wat uitstekend vaar op
hoëpotensiaal-gronde. Die kultivar is beskibaar in die konvensionele en PowerCore™-weergawes.
P1975 en P1975PW: ’n Geelmieliekultivar wat reeds ’n hele klompie jare as ’n absolute staatmaker in die streek bekendstaan vanweë sy betroubaarheid.
P2362R en P2362PW: Nog ’n toppresteerder wat hom oor tyd in die area bewys het.

Gideon is blinkoog oor die toekoms: “Ek is nou al ’n hele tyd lank by Pioneer  en as ons net so kan aangaan … en met die opleiding wat ons kry en die navorsing wat nou vreeslik baie uitbrei, glo ek vir ons nageslag sal ons ’n baie lekker toekoms kan nalaat.”

Marchand van Rensburg, Pioneer-agent in die Harrismith- en Warden-area met 25 jaar se ondervinding, het die klimaatuitdagings van sy omgewing uitgelig. Die weer in Harrismith is wispelturig; koue en oormatige reën sorg vir ’n baie kort en strawwe plantvenster. As gevolg hiervan is kortgroeier-kultivars die beste keuse vir hierdie omgewing. Sedert die uitvoermark in Durban se hawe oopgemaak het, is daar ’n groot ekonomiese voordeel vir boere om dié kortgroeiers vroeg te plant.

Dit stel hulle in staat om vroeg te oes, direk op die plaas te laai en die mark te vang vanweë hul nabyheid aan die hawe. Marchand se wens vir die komende 100 jaar is eenvoudig maar kragtig: nog beter kortgroeiers met selfs hoër opbrengspotensiaal.

Stabiliteit, droogtetoleransie op Bethal

Die vierde dag van die toer het verskuif na Schurvekop, die plaas van Dewald de Water (Te Water Boerdery) in die Bethal-omgewing op die Mpumalanga Hoëveld. Hierdie streek is tradisioneel die land se mielie- en sojaboonwêreld, hoewel boere weens die laer mielieprys toenemend met alternatiewe gewasse soos sonneblom en kanola begin eksperimenteer.

Gerhard Marais, Pioneer se areabestuurder in Mpumalanga met 20 jaar se ondervinding, het opgemerk dat hoewel hierdie jaarlikse boeredag gewoonlik spoggerige opbrengste oplewer, die gewasse vanjaar op die mees kritieke tydstip deur ’n ekstreme droogte getref is. Dit het egter ’n unieke leerskool gebied.

“Wat ons hier vanjaar sien, is dat van die nuwe kultivars wat ook beter is teen blaarsiektes, ook baie goed is met stabiliteit. En dit is belangrik vir ons, want ons sit in die Hoëveld vanjaar met kolle wat daar baie opbrengste is, maar daar is ook baie kolle wat baie stremming ervaar het,” het Gerhard verduidelik.

Gerhard het bygevoeg dat hierdie lesse boere sal help om hul risiko te versprei deur hul kultivarkeuses doelbewus te rig na nuwer, siektebestande en agronomies stabiele platforms. Hy het die kritieke rol van die agent as die skakel op die grond herbevestig – iemand wat saam met die boer in die lande loop, siektes of tekorte identifiseer en op grond van plaaslike proewe die regte aanbevelings maak.

Gerhard het afgesluit met ’n reguit pleidooi aan die boeregemeenskap:

“Die nuwe genetika het boere nie altyd so goed verstaan nie, en dat daardie genetika ook stabiliteit het op hoë plantestande nie. So ek sal graag wil hê dat die integriteit van landboukundiges en handelaars ’n bietjie meer deur boere geag sal word … As jy dan nou nie voluit wil gaan met ’n nuwe produk of praktyk nie, beproef dit net.”

Pieter de Wet, ’n landboukundige vir Pioneer in die Oos-Vrystaat en gedeeltes van die Hoëveld, het aangesluit by die tema van uiterste grondvariasie.

Dit is algemeen om verskeie grondtipes op een enkele land te kry. Pioneer toets hul produkte juis oor hierdie wye reeks lokaliteite en bemestings- en bestuurspraktyke om te verseker dat die gewas steeds sy Landbou-ontwikkelingsdoelwitte (LGO)of hoër kan bereik, selfs in moeilike seisoene.

Die proefperseel op Bethal het geweldige stremming ervaar tydens die kritieke blom- en graanvulstadiums. Die proewe het gewissel van die P1517WR-platform (’n vinnige kortgroeier) tot die P2927WYR (’n volseisoen-witmieliekultivar wat die hele groeiseisoen benut vir maksimum opbrengs). Onder hierdie droë toestande het die medium- tot kortgroeiers steeds daarin geslaag om goeie koppe te maak, terwyl die volseisoen-kultivars baie swaar gekry het. Dit, sê Pieter, bewys dat ’n boer nooit op een enkele perd moet wed nie, maar ’n gebalanseerde kultivarpakket moet plant.

Pieter het veral sy opgewondenheid uitgespreek oor ’n nuwe uitblinker op die toer: P18011WPW. Dit is ’n splinternuwe, hoogs aanpasbare mielieplatform wat beskikbaar is in sowel ’n konvensionele weergawe as ’n PowerCore™-opsie.

Ten spyte van die strawwe droogtestremming op Bethal het hierdie kultivar baie goeie, stewige koppe gevorm. Wat hom uniek maak, is sy uiterste stabiliteit oor verskillende klimaatsareas en plantbevolkings heen. In die verre Oos-Vrystaat kan hy teen laer populasies van 25 000 tot 45 000 plante per hektaar geplant word, maar hy kan net so maklik Hoëveld toe gebring word waar hy teen digthede van 45 000 plante per hektaar en meer floreer. Dit maak hom een van die opwindendste nuwe produkte om dop te hou vir die komende seisoen.

Pieter glo die fondasie is stewig gelê met die huidige genetika, en dat die kombinasie van konvensionele teling en die opkomende Generasie 3 BT-tegnologie Pioneer in ’n onverbeterlike posisie plaas.

’n Volhoubare pad vorentoe

Die Pioneer 100 jaar agronomietoer van 2026 het weereens bewys dat sukses in die landbou nie per toeval gebeur nie; dit word in laboratoriums geteel, in plaaslike grond getoets en deur noue vennootskappe in die praktyk gevestig. Deur wetenskaplike stabiliteit te kombineer met die praktiese wysheid van agente en boere op die grond, wys Pioneer dat hulle gereed is vir die uitdagings van die volgende eeu.

Vir die Suid-Afrikaanse boer beteken hierdie voortdurende innovasie net een ding: die gemoedsrus dat daar selfs in die uitdagendste seisoene ’n vennoot saam met hulle in die lande stap.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1