Pekanboerdery is ’n harde neut om te kraak …Maar die beloning is groot

t0lKlx27 (3)
“Hoe langer ek in hierdie bedryf is, hoe meer verwonder ek my oor die wondere van neutproduksie,” sê Heinrich Weideman. Hy boer sedert die vroeë negentigerjare met pekanneute naby Perdeberg in die Noord-Kaap. Sy lowergroen pekanneutboorde staan trots oor die plat vlaktes van sy plaas. By die ingang van die plaas is die groot neutkraakaanleg wat onlangs opgerig is. Patrysvlei Pecans se naam pronk op die kant van die gebou.
Heinrich is een van die voorloperpekanneutboere in Suid-Afrika omdat hy met pekaneute begin boer het voordat daar volledige inligting beskikbaar was oor pekanneutverbouing in Suid-Afrika.
Voordat hy in permanente gewasse belê het, was hy ՚n groenteboer. “Ons was eers in die groentebedryf met aartappels en uie, katoen, saadsonneblom en al die graangewasse, maar sedert 1994 het ons na pekanneute begin skuif,” vertel hy. “Ons het begin kyk na alternatiewe markte omdat die varsproduktemark waarin ons was, veral die aartappel- en uiemarkte, baie arbeidsintensief is. Die kostes en risiko’s van daardie gewasse was ook geweldig hoog.”
Sedertdien het Heinrich-hulle al hulle aandag op pekanneute toegespits. Vandag, byna drie dekades later, is daar 220 hektaar pekanbome wat neute vir die uitvoermark lewer.
“Ons bemark en verkoop die neute in dollars en ons kan dit opberg,” noem hy die voordele van hierdie gewas. “Ons kan dit totaal meganiseer om so ook die arbeidsprobleme van die varsproduktemark te omseil,” brei hy uit.

Die pekanneute hang gewoonlik in bondeltjies aan die boom. Met die aanstap na die boord sien jy hoe die bome reeds oortrek is van die sade.
Weens die tekort aan inligting rondom verbouing toe Heinrich met pekanneute begin het, het hy heel eerste by prof Holtshauzen van die Landbounavorsingsraad (LNR) aangeklop. Prof Holtshauzen het Suid-Afrika gekarteer volgens geskiktheid vir pekanneutverbouing. Die gebiede is geklassifiseer as A, B en C. “Ons wou uitvind of ons gebied geskik was en ons was toe in ՚n A+-gebied. Die hele Namibië, Vrystaat en Noordkaap is geskik vir pekanneute,” vertel Heinrich
Om in ՚n A+-gebied te wees beteken die boom sal op sy gelukkigste wees, want die klimaat het alles wat dit tevrede stel: Die bome soek in die somer baie hoë hitte-eenhede en in die winter soek dit weer baie koueeenhede sodat dit in ՚n rusperiode kan ingaan. “Die Laeveld, waar hulle aanvanklik begin het met pekanneute, was die verkeerde gebied. Die boom gaan nooit in rus nie (omdat die winter so warm daar is) en die reënval is te hoog, wat beteken die wortels versuip en die nat omstandighede veroorsaak die perfekte omstandighede vir siektes om oor te neem.”
Vir verdere inligting het Heinrichhulle na Amerika gereis om by die wêreldleiers in pekanneutboerdery te leer. Daar boer hulle al vir geslagte met hierdie neute.
“Daardie mense doen dit anders,” vertel Heinrich. “Hulle jaag nie rekordoeste nie, want hulle het gesien hoe rekord-oeste gevolg word deur swak oeste.” Pekanbome dra gewoonlik elke tweede jaar ՚n goeie oes, so die mikpunt moet wees om sowel die “goeie jaar” as die “swak jaar” se opbrengste so na as moontlik aan mekaar te hou. Die Amerikaners verstaan dit; dit is geen wonder dat Amerika tans die grootste pekanneutprodusent is nie. Suid-Afrika staan darem stewig in die derde plek.
Tydens een van hulle besoeke aan die Verenigde State het hulle ook inligting ingesamel om die kultivars wat hulle moet plant asook die plantspasiëring te bepaal.

Die dun groen omhulsel is die buitenste laag van die pekanvrug. Die neut bestaan uit die dop en kern. Hier is dit nog besig om te vorm. Die ligte geel middel is die vlesige gedeelte wat later die harde bruin dop word. In die middel is die holtes die perfekte vorm van waar die kern sal vorm.
Die kultivars moet goed aard in die Noord-Kaap en die optimale venster vir kruisbestuiwing bied. “In Amerika het hulle weggetrek en elke 10 by 10 meter ՚n boom geplant en toe na jaar 10 elke tweede boom uitgehaal. Na twintig jaar het hulle dan weer elke tweede boom uitgehaal en dan eindig hulle met 25 bome per hektaar.
“Die rede hoekom hulle dit doen is om die sonlig te bestuur. Die bome groei alles toe en dan is daar minder sonlig wat op die blare beland.”
Hoe minder sonlig die boom kry, hoe swakker presteer dit en dan vrek die middelste takke.
Patrysvlei Pecans se bome is ook 10 meter uitmekaar geplant. Om die sonlig in die toekoms te bestuur sal hulle die weerbarstige takke terugsnoei.
Wat die kultivars betref, was dit ook nodig om in ag te neem waarvoor die neut gebruik sal word. Heinrich verduidelik: “Die verskillende kultivars het verskillende vorms. Die Choctaw is ՚n ronde neut met ՚n dun dop so hy kraak baie maklik. Hy vul nie so goed nie, maar die kern kom heel uit. Die Wichita, byvoorbeeld, vul baie mooi, maar dit is ՚n platter neut met ՚n dikker dop en kraak baie moeilik. Die Sjinese gee nie om nie, want hulle het baie hande-arbeid wat dit deur hulle kraakproses neem. Die neute word dan deur ՚n suikersous gesit en die behandelde neute word verpak en net so verkoop.

Heinrich-hulle het die bome op Patrysvlei 10 meter uitmekaar geplant.
Die kultivars wat Heinrich-hulle aanvanklik geplant het was Choctaw, Wichita, Western Schley, Pawnee, Mohawk, Ukalinga en Barton. Die koue het egter gewys dat daar weggebly moet word van die laaste twee en mettertyd het hulle beweeg na net Witchita en Western Schley.
Heinrich stap deur sy boord. Onder sy voete lê die fyn kleigrond, maar dit verander gou in ՚n nat pappery wanneer die besproeiingstelsel aangeskakel word. Al Patrysvlei Pecans se bome het besproeiing. Tans is die jonger boord onder mikro-besproeiing, maar net soos die ouer boord sal dit oorgeskakel word na makro-besproeiing soos die bome verouder en groter word.
Vir ՚n pekanneutboom benodig die boer ongeveer 1 200 liter water per seisoen. Die Amerikaanse boere het aanbeveel dat die stelsel 400 liter per boom per dag moet kan toedien, maar Heinrich se stelsel kan tot 1 300 liter per boom per dag toedien vir piekseisoenbesproeiing. Wanneer hy in maande van Desember tot middel Februarie besproei, trek die stelsel 270 tot 290 liter per uur per boom. In die winter benodig die bome selde water omdat dit dormant is.
Pekanbome is tweeslagtig. Dit beteken dat die manlike stuifmeel en die vroulike blomme onderskeidelik op die boom verskyn. Die tydperk van gereedheid vir elke kultivar se blomtydperk verskil ook, daarom is dit belangrik om kruisbestuiwing te hê.
Die bome begin bloeisels dra vanaf lente tot laatsomer. In Suid-Afrika beteken dit enige tyd vanaf Oktober. Na bestuiwing begin die vrug vorm. Dit is ՚n langwerpige, groen vrug wat gewoonlik in klossies aangetref word. Die dik, groen buitelaag van die vrug is die omhulsel vir die saad – die deel wat Jan Alleman as die neut ken wat natuurlik uit die dop en die smullekker kern bestaan. Neutset begin gedurende Desember.

Die Noord-Kaap se grondstruktuur is klei-agtig. Waar Heinrich se boorde staan, kom ՚n mens dit gou agter wanneer die besproeiing aangeskakel word.
Die neut is baie interessant. Die kern het ՚n baie hoë vetinhoud en vorm op ՚n wonderbaarlike manier. Gedurende die groeiproses vorm die dop binne in die omhulsel. Dit begin as ՚n sagte, vlesige gedeelte wat binne ruimte het vir die kern. Die kern vorm deur eers die holte met vog te vul. Dit is waar die olie geproduseer word. As jy dit oopbreek tydens hierdie proses, kan jy sien hoe die holte reeds ՚n volmaakte afdruk het waar die neut gaan ingroei in die ontwikkellingsfase. Die deursigtige pekanolie kan jy sommer in jou vel insmeer.
Wanneer die neut gereed is om geoes te word, bars die groen omhulsel oop om die kenmerkende bruin gestreepte dop te wys. Die saad word geoes en verwerk volgens elke mark se behoefte.
Al neem dit agt jaar vir pekanbome om volwassenheid te bereik, dra die boompies al vanaf ses jaar neute.
Patrysvlei Pecans voer hoofsaaklik uit na Sjina, die grootste invoerder van pekanneute ter wêreld.
“Die markte waarna ons aanvanklik gekyk het, was die Suid-Afrikaanse mark, maar sedert 2006 het die Sjinese ook die mark betree,” brei Heinrich uit. “Aanvanklik was dit die kern (die neut, ontdop) mark wat nog ontgin moes word, maar nadat die Sjinese die mark betree het, het dit ՚n wêreld oopgemaak omdat hulle die neute in dop aankoop.
Patrysvlei voer al hulle neute uit in samewerking met SA pecans.
Die sukses wat Patrysvlei Pecans behaal het, is ook te danke aan die sorteeraanleg wat hulle opgerig het. “Ons wou al in 1998 ՚n kraakaanleg oprig, maar na deeglike navorsing het ons gesien daar is nie genoeg volume wat geoes word nie,” verduidelik hy. “Om die kraakmark te betree, kos geweldig baie geld en jy moet die mark ontwikkel. Ons het toe besluit die neut moet net beter gradeer word, want dit is die belangrike deel van die verkoopsproses.”

Hierdie olie is baie goed vir jou vel. Die deursigtige olie is die basis van die eetbare neut.
Gradering behels dat elke neut volgens grootte gegradeer word. Die neut word op die sy gemeet en dan in ՚n klein, medium, groot, ekstragroot en oorgroot geklas. “Die belangrike ding met neute is om die dowwer neut (die neut wat swakker gevul is) tussen die ander uit te haal. Dit doen ons met verstelbare vakuum en dit is deurslaggewend belangrik, want die neut lyk dalk mooi buite, maar dit is swak gevul binne. Jou koper oorsee wil verseker wees van die gehalte wat hy koop.”
Die graderingsaanleg is daarop gerig om verwerkers te verseker van die gehalte wat hulle na Sjina uitvoer. Deesdae lewer Patrysvlei Pecans ook hierdie diens aan ander pekanboere wat gesien het hoe voordelig dit is.
“Ons ry saam na die boere toe, versamel die neute en doen die gradering. Verpakking en goedkeuring word gedoen deur PPECB (Perishable Products Export Control Board), die beheerliggaam, en dan sorg SA Pecans vir die finansiering wat die boere betaal,” brei hy uit. Daarna word die produk na Durban vervoer en verskeep na die Ooste.
Baie interresante artikel.
Ek het bitter goeie advies van Heinrich ontvang en het ook al werkswinkels wat hy aanbied bygewoon.
Baie proffesionele inslag.
Ek het al my bome by Heinrich gekoop en ñ boord net buite Bloemfontein ge vestig.
Lappies
Interessante artikel. Enige kontakinligting beskikbaar van Heinrich Weideman asseblief? Ek het meer inligting nodig oor die versorging van pekanbome.
Hi Linda!
Dankie vir jou navraag! Jy kan Partyvlei Pecans kontak by 083-441-4024, 072-271-2293 of info@patrysvleiproducts.co.za.
Vriendelike groete – Editorial