Categories: Artikels, NuusPublished On: 2nd November 2022

Nuus: Water skep twee wêrelde

By 7 min read
1307 words

Kammanassie

Die Kammanassiedam wat water uit die gelyknamige berge kry is een van twee landboubesproeiingsdamme in die Klein-Karoo. (Foto: Tisha Steyn)

deur Tisha Steyn

Die Klein-Karoo en Suid-Kaap beleef tans albei “twee wêrelde in een”. So sê Henry Meyer, suiwelen graanboer van Mosselbaai, en Laubscher Coetzee, volstruisboer van Oudtshoorn.

Suid-Kaap

“Saaiboere soos ek wat koring, kanola en hawer het wat ons wil platsny, stroop en baal, soek nou ՚n bietjie mooiweer, terwyl boere met weiding reën kort,” sê Henry.

Hy meen die afgelope ses, sewe jaar se droogte is nie gebreek nie, want die kleierige ondergrond seekant van die Outeniekwas bly droog. “Die wêreld is mooi groen want ons kry elke nou en dan so vyf tot tien millimeter en daar het selfs nou die dag 20 mm Knysna se kant toe uitgesak.

Dit sorg vir bietjie water in die bergstrome, maar die vog hou ook net ՚n week, dan is dit weer op.”

Die Stompdrifdam en Kammanassiedam vorm deel van die besproeiingskema wat boere langs die Olifantsrivier van water bedien- as daar water in die damme is! (Foto: Tisha Steyn)

Bergstrome

Elke bietjie reën wat nou val voed darem die bergstrome, waarvan boere van die Gouritsrivier by Albertinia tot by Plettenbergbaai afhanklik is. Water wat uit die bergstrome gepomp word, word regstreeks vir besproeiing gebruik of om damme vol te maak.

Weens die min winterreën is damme wat in die winter volgemaak word om voorsiening te maak vir somerbesproeiing, glad nie vol nie. “Ons het die damme vinnig leeg besproei, want ons moes van die wintergewasse wat tradisioneel winterreën kry, met die somer se besproeiingswater in die damme natmaak,” verduidelik hy.

Henry sê die droogte in die Klein-Karoo het ՚n invloed op die hoeveelheid water wat boere duskant die Outeniekwas tot hulle beskikking het. “Omdat dit nie in die Klein-Karoo reën nie, kry die reservoirs in die berge wat ons
strome voed, nie genoeg water nie. Dit is al sedert 2016 ՚n probleem.

“Toe dit verlede jaar goed in die Klein-Karoo gereën het, het ons ՚n groot verbetering in die afvloei uit die berg gehad. Ons oeste lyk vanjaar glad nie soos verlede jaar s’n nie; daar is beslis nie rekordoeste op die lande nie.”

Arbeid

Beurtkrag veroorsaak dat derduisende rande per maand aan diesel vir kragopwekkers bestee moet word om die melkery aan die gang te hou. (Foto: Henry Meyer)

Henry meen die hoë insetkoste gaan daartoe lei dat boere net-net gelyk breek of dalk sit met oorlaatskuld wat na volgende jaar oorgedra word.

“Insetkoste bly maar te hoog. Loonsverhoging is nie ՚n probleem nie, want ek sien wat dit kos om net te kan oorleef. Die groot probleem met arbeid is onproduktiwiteit, want mense bly van die werk af weg en stel nie regtig belang in wat hulle doen nie. Om op te daag vir werk raak ՚n spesiale vaardigheid.”

Hy vertel hy het vier jongmense in diens geneem met die doel om hulle op te lei om die Jerseykoeie te melk. “Hulle was ՚n jaar hier, maar al lei jy hulle op, kry jy hulle nie iets geleer nie – hulle stel net nie belang nie.

Tog wil hulle ՚n topsalaris hê soos ՚n werker met twintig jaar ondervinding. Een van die jongmanne meen selfs hy behoort eintlik baie meer te verdien omdat hy die ‘meeste sukkel op die plaas’.”

Henry voorsien swarigheid met die regulasie dat buitelandse werkers na Desember die pad moet vat. “Plaaslike werkers word deur die wet beskerm, maar bring nie hulle kant nie. Ons buitelandse werkers hou die boerderye aan die gang. Ek weet nie hoe dit sal gaan sonder ons staatmakers nie …”

Elektrisiteit

Kragtariewe wat opgaan geld nie net vir elektrisiteit wat verbruik word nie, maar ook vir die huur van kragpunte.

Suiwelbeeste wei op aangeplante weiding wat met reën of water uit bergstrome besproei word. (Foto: Henry Meyer)

“As die kragtariewe met 20% opgaan, betaal ek ook 20% meer vir elke kragpunt. As daar beurtkrag is en ons het nie elektrisiteit om te pomp of te besproei nie, word die gebrek aan die diens nie in berekening gebring nie – ons betaal steeds daarvoor.”

Dit raak veral erg wanneer ՚n stroom bietjie water kry en afkom. “Ons kan nie die water net laat wegloop nie, ons moet maar die kragopwekker gebruik om te pomp. Ons damme raak net al hoe leër.”

Beurtkragtye maak dit bitter moeilik om ՚n melkery te bedryf, veral wanneer onderbrekings van 06:00 tot 08:00 en weer vanaf 16:00 tot 18:00 plaasvind is. “Dit kos tussen R600 en R1 000 se diesel per dag om die kragopwekker te gebruik, want die melk in die tenks moet ook afgekoel word.”

Beurtkrag raak die hele waardeketting van die produkte. “Dit beïnvloed ook silo’s waarin graan, veral kanola, opgeberg word nadelig. Kanola moet heeltyd deurlug word, anders muf dit. Die silo’s moet ook met kragopwekkers aan die gang gehou word.

“Hoe ons oorleef, weet ek nie – ons raak regtig agter. Dit raak al hoe taaier om te boer. Gelukkig het ons ՚n goeie departement van landbou in die WesKaap, en Agri Wes-Kaap help ook waar hulle kan. Ek glo ons oorlewing berus daarop dat ՚n boer ՚n plan kan maak. Maar ՚n klomp mense gaan vou as hier nie gou iets kom nie – landbou is besig om dood te bloei …”

Maar die boere hou moed, sê hy. “Ons hoop dat dit sodra die oeste af is behoorlik gaan reën en dat dit ՚n goeie nat laat November en Desember sal wees, soos allerweë voorspel word. Ons gaan aan met goeie geloof.”

Klein-Karoo

Laubscher Coetzee (vierde geslag) wat saam met sy seun Jacques (vyfde geslag) op die plaas Kandrif buite Oudtshoorn met volstruise boer en van die beste volstruisvere in die distrik lewer, sê boere in die Klein-Karoo val ook in twee kampe wat die beskikbaarheid van water betref.

“Ons is as’t ware in twee wêrelde waarvan een baie beter af is as sowat twee, drie jaar terug. Boere hoër op in die Swart- en Kammanassieberge vaar goed, want die droogte by hulle is basies gebreek. Hulle lei al sedert verlede jaar water en gaan steeds voort. Ek hoor nou die dag van die boere by Schoemanshoek, het al water uit die kanaal afgekeer want hulle damme is vol.”

Die teendeel geld vir boere op die oewers van die Olifantsrivier op die sentrale en grootste landboudeel van die Klein-Karoo. “Hier is dit nog kritiek droog, want die takriviere loop nie sterk genoeg om tot onder in die Olifantsrivier uit te kom nie,” sê Laubscher.

Henry Meyer plant dekgewasse tussen die mielies om die verlies aan kosbare vog te bekamp. (Foto:Henry Meyer)

“Ons het nog baie reën in die berge nodig, want as dit nie meer as 100 mm reën nie, kom die water nie by die boere laer af langs die Olifants uit nie en kan die besproeiingsgronde op die oewers nie natgelei word nie. Ons moet maar net bly hoop en bid vir reën om ons deur hierdie moeilike tyd te dra.”

Die goeie nuus is dat die volstruisbedryf darem kop optel. “Die pryse is baie beter en ewenaar die pryse van voor die Covid-19-pandemie. Dit maak ons ՚n bietjie meer positief oor die situasie.”

Maar ook daar is ՚n kinkel: “Mielies en lusern vir voeding vir die volstruise het baie duur geraak. Die boere langs die Olifants het nie lusern nie, want daarvoor het ons water nodig. Dit plaas geweldige druk op die produksiekoste van volstruise.”

Dis nie al nie: Beurtkrag hou ook ekstra koste in. “Dit is broeityd en ons broeikaste moet loop. As Eskom nie krag kan lewer nie, en veral wanneer ons fase 6-onderbrekings ervaar, moet ons baie geld aan diesel spandeer om ՚n kragopwekker aan die gang te hou. ՚n Mens kan nie ՚n broeikas laat koud word nie!”

Kontakbesonderhede

Kontak Henry Meyer by 072-372-1277 of pleasantview@vodamail.co.za.

Kontak Laubscher Coetzee by 082-898-5941 of info@kandrift.co.za.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0