Categories: Artikels, Nuus, Vee en WildPublished On: 17th November 2025

Noord-Kaap: Slenkdalkoors waarskuwing

By 5 min read
1023 words

slenkdal 5

‘n Besonder hoë voorkoms van die virus .. wat deur muskiete oorgedra word en wat Slenkdalkoors veroorsaak is in skape in die Kakamasdistrik gevind. (Bron: https://www.grainsa.co.za/upload/slenkdalkkoors04.jpg)

Die Departement van Landbou in die Noord-Kaap rig ’n dringende waarskuwing aan boere en plaaswerkers nadat Slenkdalkoors (Rift Valley Fever – RVF) in die Kakamas-omgewing naby Augrabies bevestig is.

Die waarskuwing volg nadat Onderstepoort Veeartsenykundige Navorsingslaboratorium na ontleding van die https://www.grainsa.co.za/upload/slenkdalkkoors01.jpgVolgens die Direktoraat van Veeartsenydienste is die situasie ernstig: “Ons het te make met ’n bevestigde uitbreking van Slenkdalkoors onder vee in die Kakamas-distrik. Dit is ’n gevaarlike soönotiese siekte wat diere en mense raak en boere word ernstig aangeraai om onmiddellik voorsorgmaatreëls toe te pas.”

’n Siekte wat dier én mens raak

Slenkdalkoors is nie nuut in Suid-Afrika nie. Die virus is in 1930 in Kenia identifiseer waar ’n ernstige uitbreking onder skape voorgekom het wat ook mense aangetas het. In Suid-Afrika het groot uitbrekings veral tussen die vyftig- en sewentigerjare voorgekom wat dikwels met nat seisoene en ‘n hoë voorkoms van muskiete gepaardgegaan het.

Omdat dit ‘n soönotiese siekte is wat aan mense oorgedra kan word, waarsku die Noord-Kaapse Departement dat besmetting by mense meestal deur direkte kontak met besmette diere of hulle liggaamsvloeistowwe wanneer siek of dooie diere, aborsie-oorskot hanteer of nadoodse ondersoeke gedoen word.

Menslike simptome kom ooreen met griepsimptome, soos koors, hoofpyn, spierpyne en algemene moegheid. In seldsame gevalle kan ernstige komplikasies volg, soos bloeding, lewerontsteking of oogprobleme wat tot blindheid kan lei.

Verspreiding van die virus

By diere word die virus meestal deur muskietbyte veral in warm, nat tydperke in die laat somer of herfs voor wanneer broeigebiede na goeie reëns volop is, oorgedra.

As die virus in ’n kudde voorkom kan dit ook direk versprei wanneer diere blootgestel word aan besmette fetusse, plasentas of ander liggaamsmateriaal na aborsies wat tipies tydens ‘n uitbreking voorkom.

Jong skaap- en boklammers is besonder kwesbaar. Hulle ontwikkel skielik hoë koors, raak lusteloos en vrek dikwels binne dae. In ernstige uitbrekings kan tot 95% van jong lammers vrek. Dragtige ooie aborteer maklik, en tot 60% van ’n kudde kan verliese toon. By beeste is die sterftesyfers laer, maar aborsies kom gereeld voor.

Wat boere nou moet doen

Die Departement van Landbou het duidelike riglyne uitgereik oor watter stappe onmiddellik gedoen moet word om die verspreiding van die siekte te beperk.

Persoonlike beskerming

Enigiemand wat met vee werk, hetsy boere, plaaswerkers, veeartse of abattoirpersoneel, moet beskermende klere dra, wat handskoene, maskers, gesigskerms en oorpakke insluit, veral wanneer met siek of dooie diere, aborsie-oorskotl of karkasse gewerk word.

Veilige wegdoening van  besmette materiaal

Aborsie-oorskot soos plasentas en karkasse moet volgens plaaslike regulasies diep begrawe of verbrand word. Onbehoorlike hantering kan die virus maklik na nuwe diere of mense versprei.

Immunisering, die sleutel tot beheer

Die Departement doen ’n dringende beroep dat alle boere hulle skape, bokke en beeste onmiddellik laat inent. Die Onderstepoort Biologiese Produkte-entstowwe – hetsy die lewende RVF-entstof vir nie-dragtige diere of dooie entstof vir dragtige diere, bied die beste beskerming.

Die nuwe Clone 13-entstof kan veilig in dragtige diere vanaf ses maande gebruik word, asook in jong diere ouer as twee maande, tensy hulle moeders reeds ingeënt is.

Omdat Slenkdalkoors in lang siklusse van tussen sewe tot tien jaar voorkom, is kuddes wat nie immuun is nie, uiters kwesbaar – wanneer  ’n uitbraak dan wel geskied, versprei die siekte vinnig.

Muskietbeheer

Muskietbeheer is ’n kritieke deel van die voorkomingstrategie. Boere word aangeraai om:

  • stilstaande water naby kampe verwyder;
  • vee weg te hou van panne, vleie en rivierlope waar muskiete voorkom; en
  • insekafweermiddels of roking te gebruik waar moontlik.

Meld aan

Die Departement beklemtoon dat vinnige aanmelding van enige verdagte simptome kan help om die omvang van die uitbreking te beperk. Kontak die naaste staatsveearts of dieregesondheidstegnikus wanneer die volgende tekens getoon word:

  • hoë koors by vee;
  • ’n skielike toename in aborsies;
  • onverklaarbare vrektes onder vee;
  • en veral groot getalle vrektes onder jong lammers of kalwers.

Diagnose en hantering bsn diere

Slegs ’n veearts mag nadoodse ondersoeke doen of monsters neem vir bevestiging van die virus. Produsente word dringend versoek om nie self karkasse oop te sny nie want dit vergroot die risiko.

Kliniese tekens, ‘n veearts se bevindings en ‘n geskiedenis van aborsies by vee help om die siekte vinnig te identifiseer. ’n Bevestigde diagnose is noodsaaklik om die regte beheermaatreëls in plek te kry.

Kan Slenkdalkoors voorkom word?

Hoewel muskietbeheer uitdagend is, is voorkomende maatreëls tog moontlik en noodsaaklik:

  • Immuunprogramaanbevelings moet streng gevolg word.
  • Alle melk moet gepasteuriseer word voor gebruik.
  • Persone wat met karkasse of aborsiemateriaal werk, moet volle beskermende toerusting dra.
  • Karkasse van besmette diere moet verbrand of diep begrawe word.
  • Diere moet sover moontlik van vleie, panne en rivierlope weggehou word wanneer muskiete volop is.

Slenkdalkoors in mense

Mense wat griepsimptome ontwikkel na kontak met siek of dooie diere moet  onmiddellik mediese hulp kry.

Hoewel dit teoreties moontlik is om deur muskietbyte besmet te raak, gebeur dit baie selde en in Suid-Afrika word mense hoofsaaklik besmet wanneer hulle direk aan die virus blootgestel word deur snye, skaafplekke of slymvliese. Daarom is veeartse, boere, plaaswerkers en abattoirpersoneel die grootste risikogroep.

Die inkubasietyd van die virus is drie tot sewe dae, waarna simptome skielik verskyn. Dit sluit gewoonlik die volgende in:

  • koors, kouekoors en kwaai hoofpyn;
  • spier- en gewrigspyn;
  • naarheid of braking;
  • ligsensitiwiteit;
  •  bloed in urine of stoelgang; en
  • moegheid en algemene ongesteldheid.

Die meeste mense herstel sonder komplikasies binne twee weke. In ’n klein persentasie gevalle kan ernstiger probleme soos veral lewer- of harsingontsteking voorkom. Bloeding en ooginfeksie kan blindheid veroorsaak, maar dit is raar.

Enigiemand wat onlangs met siek of dooie diere gewerk het en hierdie simptome toon, moet onmiddellik ’n dokter besoek.

Belangrike kontaknommers

Veeartsenydienste in Upington
Tel: 087-630-0304
Selfoon: 083-452-9850 of  078-486-9275

Vir menslike gesondheidskwessies:
Besoek jou naaste kliniek of hospitaal onmiddellik.

 Bronverwysings

Die ABC van Slenkdalkoors. https://www.grainsa.co.za/die-abc-van-slenkdalkoors

Northern Cape Agriculture issues urgent warning following Rift Valley Fever outbreak (2025) African Farming. https://www.africanfarming.com/2025/11/15/northern-cape-agriculture-issues-urgent-warning-following-rift-valley-fever-outbreak/

Sihlobo, W. (2025) What excessive rain means for South Africa’s livestock https://mg.co.za/thought-leader/opinion/2025-05-01-what-excessive-rain-means-for-south-africas-livestock/

Souris, M. (2025) Slenkdalkoors: Wat is dit, hoe versprei dit en hoe behandel jy dit? https://www.netwerk24.com/stemme/aktueel/slenkdalkoors-wat-is-dit-hoe-versprei-dit-en-hoe-behandel-jy-dit-20251107-0431

 

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0