Categories: Artikels, SA294-vrouemaand, Vee en Wild, VroueboerPublished On: 2nd August 2024

“Nooit te oud om te leer!” Ontmoet Yolande Venter, Santa Gertudisrasbestuurder

By 4 min read
779 words

Picture8

՚n Mens is nooit te oud om te leer nie! Vir baie mense is hierdie woorde net ՚n gesegde, maar Yolande Venter neem dit ter harte en beoefen dit voortdurend. Yolande is die rasbestuurder vir die Santa Gertrudis-genootskap. Sy het na skool landbou studeer en na 38 jaar in die landboubedryf het sy op 50-jarige ouderdom haar meestersgraad behaal.

Yolande se pad met beesrasse

Yolande is in Swellendam gebore. Haar pa was ՚n landbouvoorligter en later assistent-hoofbestuurder van Sentraal-Suid Koöperasie in die dorp. Sy vertel sy vermoed dit is waar haar liefde vir landbou vandaan kom. Haar oupa en ouma het ook in die Wellingtonomgewing geboer. Na haar studie het sy op Grootfontein begin werk en sy was vir sowat sestien jaar betrokke by twee ander beestelergenootskappe waar sy as kantoor, tegniese- en rasbestuurder gewerk het was. Twee-en-‘n-half jaar gelede het sy as by die Santa Gertrudis-genootskap rasbestuurder aangesluit.

Wat maak die Santas spesiaal vir Yolande?

“Met elke ras was dit vir my ՚n geleentheid om my kennis terug te ploeg tot die bevordering van die ras en genootskap. Ek sien dit as ՚n geleentheid om te groei in myself en ՚n verskil te maak in rasbevordering,” vertel sy.

Vir Yolande is die vroulike diere van die Santa-ras van die mooiste diere, en hulle vroulikheid spreek vanself, Sy sê dit is veral die kersierooi kleur wat uitstaan tussen ander rasse. “Elke ras het ՚n plek in die bedryf. Jy boer met die ras waarvoor jy lief is en ons telers is lief vir hulle Santas,” vertel sy. Dit help egter nie dat jy net ՚n mooi bees het nie; hy moet geld in jou sak ook bring. Die voordele van die Santa vir kruisteling en in die voerkraal, maak hulle vir Yolande spesiaal.

“Die ras se telers is doelgerig en vol geesdrif. Hulle liefde vir hulle Santas is opvallend. Die Santa trek jou soos ՚n magneet, die ras kruip in jou hart.”

՚n Tipiese dag vir Yolande

Daar is nooit ՚n stil oomblik in Yolande se dag nie en hulle verloop selde soos wat sy dit beplan. Ondanks die magdom take, veeleisende kophou en lang ure is sy steeds geseënd om tussen die beeste te wees en betrokke te wees by die opleiding van belangstellendes asook die veilingskeurings en veilings. Sy geniet elke uitdaging wat saam met ՚n nuwe dag kom. Dit gee aan haar die geleentheid om haar kennis met telers te deel.

Hoewel dit soms uitdagend kan wees om met soveel verskillende mense te werk het Yolande geleer dat elke situasie en navraag uniek is. Deur konsekwent te wees en telers met respek te behandel verseker sy dat sy elke persoon kan ondersteun soos wat hulle nodig het. Om op hoogte te bly met die nuutste neigings hou sy haar oog op sosiale media, sy gesels ook graag, deel idees met telers en lees wetenskaplike artikels.

“Moet nooit ophou ingelig bly nie, soek altyd die uitdaging en streef dit na. Wees nederig en geduldig met telers sodat jy ՚n verskil kan maak en ՚n gelukkige teler het.”

Stamboek van die jaar-wenner

Yolande het onlangs die toekenning vir die beste jaarverslag by die SA Stamboek en Diereverbeteringsvereniging ontvang. Hierdie verslag was die wenverslag uit ongeveer 67 rasse.

Wat maak Yolande opgewonde oor die lewe?

Dit was nie vir Yolande maklik om te studeer vir haar meestersgraad, te werk en ՚n huishouding te hê nie, maar sy vertel dat sy nie een dag spyt is oor die kennis wat sy opgedoen het nie.

“Gryp elke geleentheid op jou pad met albei hande aan en skep jou geleenthede. Die lewe is ՚n uitdaging, dit hang van jou af wat jy daarmee maak.”

Jy kan alles hê wat jou hart begeer

Yolande het reeds 34 jaar ondervinding in die landboubedryf en vertel dat dit steeds sommige dae ՚n uitdaging is om in ՚n beroep te wees wat tradisioneel as ՚n mansberoep gesien word.

“Ek is bevoorreg om in ՚n posisie te wees met ՚n man wat my ten volle ondersteun, vertrou en motiveer. Die feit dat hy ook in die landbou werk beteken ons vul mekaar aan, gee idees en respekteer mekaar se werk.” Volgens haar hoort vroue in die landboubedryf omdat hulle soveel verskillende rolle kan vertolk.

“Landbou is die ruggraat van ekonomieë wêreldwyd. Dit verskaf lewensmiddele, indiensneming en ekonomiese stabiliteit. Hoewel dit tradisioneel beskou word as ‘n sektor wat deur mans oorheers word, word die rol van vroue in die landbou toenemend belangrik.

“Dit is vir my belangrik dat geslagsgelykheid bevorder word en in die genootskapwêreld moet daar genoeg opleiding en rasbewusmaking plaasvind.”

Yolande is ՚n voorbeeld vir elke jong boer ongeag hul geslag, die wat werk … wen.

1

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

1