Categories: Vee en Wild, VeilingsPublished On: 8th September 2025

Nasionale Dormerveiling 2025: Uitmuntende Dormer-genetika behaal toppryse in Bloemfontein

By 2 min read
364 words

WhatsApp Image 2025-09-07 at 13.10.26

Die Nasionale Dormerveiling, wat op Saterdag, 6 September 2025, by Be Human buite Bloemfontein plaasgevind het, was niks minder as ’n uitstaande sukses nie. Dormertelers van regoor die land  – van die verre Noorde tot die Suide het saamgetrek om van hulle beste genetika aan te bied, en die pryse wat behaal is, getuig van die ongelooflike gehalte en standaard van die Dormer-ras in Suid-Afrika.

“Dit was ’n besonderse goeie dag vir Dormertelers,” was die algemene gevoel onder verkopers en telers, en die veilingsresultate spreek boekdele.

Die veiling was in samewerking met die Dormergenootskap aangebied deur BKB en aanlyn gefasiliteer deur SwiftVee.

Hoogtepunte van die dag

Die veiling het van die staanspoor af ’n energieke en mededingende atmosfeer gehad, en kopers het nie geskroom om te bie vir die beste diere nie.

Duurste ram, Lot 2, van Hatari Farming verkoop vir R50 000 aan Solitaire Dormers van Bainsvlei.

Duurste ooi, Lot 54, van Hatari Farming verkoop vir R50 000 aan Solitaire Dormers, Bainsvlei.

Veilingsgemiddeldes

Die gemiddeldes bevestig weereens dat Dormers ’n uiters gesogte ras is:

  • 35 SP Dormerramme verkoop teen ‘n gemiddeld van R20 060.00
  • 59 SP Dormerooie verkoop teen ‘n gemiddeld van R18 085.00

Hierdie resultate dra by tot die vertroue in die Dormer-ras se markwaarde en toekomstige groei.

Erkenning en toekennings

Voor die veiling is daar ook besondere erkenning gegee aan telers wat die Dormer-ras met passie en uitnemendheid bevorder:

Jan en Marius Eksteen van Hatari Farming is bekroon met die toekennings vir sowel die beste string ramme as die beste string ooie.

Tjaart Steenekamp van 2 Broers Dormers is vereer as bemarkingspersoon van die jaar ’n bewys van sy toewyding en strategiese rol in die bemarking en bevordering van Dormers.

Tjaart Steenekamp, Steyn Steenekamp, Abraham Steyn, Jan Eksteen en Marius Eksteen.

Hierdie prestasies vorm deel van die groter prentjie van ’n ras wat nie net deur genetika en gehalte uitblink nie, maar ook deur die telers se passie en toewyding.

Die Nasionale Dormer Veiling 2025 het weer eens bewys dat die Dormer-ras in ’n klas van sy eie is. Met sterk pryse, uitstaande gehalte diere, en toegewyde telers, is die toekoms vir die Dormer genootskap blink en vol belofte. Maak seker jy merk die Nasionale Dormer Veiling 2026 op jou kalender vir volgende jaar!

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0