Rekordram net die begin van Hatari Platinum Dormveiling se suksesvolle naweek

Hatari Veiling
Die Hatari-veilings op Content in Bainsvlei was ’n reusesukses.
Die Hatari Farming Platinum-veiling, wat op 19 September op die plaas Content in Bainsvlei plaasgevind het, het Hatari-geskiedenis gemaak. Op die veiling is die Dormer-ram ‘Tokkelos’ vir R520 000 verkoop – ’n rasrekord!
Die Dormer-ram was lot 3, DZ 23-0153, van 2 Steyns Boerdery, wat in Venterstad geleë is, en is deur Suzé Steyl van Trinity Dormer Stud gekoop.
Die Dormer-ooi met die hoogste prys, lot 76, HE 25-0108, van Eksteens Hatari Dormers-stoet, is vir R45 000 aan Duncan en Nathan Cairns van Yield Agri Investments verkoop.
Die ‘geraasveiling’ se sukses
By vanjaar se veiling het Hatari nuwe reëlings ingestel. Om mee te begin, is die veilings wat op Parys en by Bona Bona aangebied is, gekanselleer om die drie veilings op een plek te kombineer.
Steyn Steenekamp, teler van Graskaroo Dormers, wat deel van Hatari Dormers is, vertel: “As boere wat self elke dag in die praktyk staan, het ons besef dat dinge miskien ’n bietjie te duur begin raak het vir ons kommersiële kliënte. Ons visie met die Hatari-veiling was nog altyd om dit groter, beter en meer toeganklik te maak.”
Die veiling het goed verloop, met talle verkope wat hoë pryse behaal het. Altesaam 71 Dormer-ramme en 83 Dormer-ooie is op die gewone veiling verkoop. Die Dormer-ramme is teen ’n gemiddelde prys van R31 408 van die hand gesit en die Dormer-ooie teen ’n gemiddelde prys van R16 789.
In die kommersiële afdeling is 283 Dormer-ooie verkoop. Die hoogste prys was R7 000 en die gemiddelde prys R4 737.
Daar is ook 10 Suffolk-ramme en 17 Suffolk-ooie verkoop. Die hoogste prys vir ’n Suffolk-ram was R14 000, met ’n gemiddelde prys van R10 700. Suffolk-ooie is teen ’n gemiddelde prys van R11 765 verkoop, met die hoogste prys op R26 000.

Marisa Steenekamp, Steyn Steenekam, Duncan Cairns, Nathan Cairns, Henri Naude, Jovaan Cloete, Annette Steyn, Abraham Steyn, Marius Eksteen, Ané Eksteen, Helene-Mari Eksteen, Tjaart Steenekamp en Pieter Jordaan
’n Stilteveiling is toe ook ’n reusesukses
Kopers het tydens die geraasveiling op Switvee gerigestreer en begin bie vir die kommersiele diere. Na afloop van die geraasveiling was daar n breuk, en die top bod is gebruik as n beginprys om die veiling vir die kommersiele diere voort te sit.
Die stilteveiling was ook ’n reusesukses vir Hatari. Die hoogste prys vir ’n Dormer-ram was R11 000, teenoor ’n gemiddelde prys van R8 737. Die hoogste prys vir ’n Dormer-ooi was R24 500, teenoor ’n gemiddelde prys van R10 050. Altesaam 99 Dormer-ramme en 20 Dormer-ooie is op die stilteveiling verkoop.
Tokkelos sou altyd goed doen
Tokkelos is van die beplanningstadium af as die uitsonderlike ram van die veiling beskou. Steyn verduidelik dat kopers presies geweet het wat hulle met dié ram koop.
“Die gasverkopers is ’n hegte groep telers wat soos familie saamkom, met ’n jarelange geskiedenis en sterk vriendskapsbande,” sê hy.
Namens die Hatari Platinum-veilingsgroep wil hulle baie dankie sê aan al die kopers wat tot die sukses van die veiling bygedra het.
