Categories: NuusPublished On: 6th March 2020

Minder reën voorspel vir Maartmaand

By 4 min read
808 words

reenval 2

Deur Johan van den Berg, Santam Landbou

Korttermynvooruitsigte (Maart 2020) is redelik negatief vir reën en gebrek aan reën kan verdere droogsteskade aan die mielie-oes veroorsaak in sekere gebiede in hoofsaaklik die Oos-Vrystaat en Mpumalanga.

Goeie opbrengste is steeds moontlik maar miskien nie rekordopbrengste orals nie. Versuipskades by mielies is redelik reggestel in die Noordwes-provinsie en potensiaal is baie goed.

Huidige toestande

Betekenisvolle reënval het oor groot gedeeltes van die droogtegeteisterde gebiede van die Noord-Kaap en Namibië voorgekom in die tweede gedeelte van Februarie maar min of geen reën het oor die sentrale tot oostelike dele van die land voorgekom nie met die uitsondering van KZN se kusgebiede waar ook goeie neerslae voorgekom het.

Alhoewel reën in die droogtegeteisterde gebiede van die Noord-Kaap voorgekom het, is die uitwerking van die droogte steeds oorheersend en sal dit baie tyd en reën vat om weidings weer te herstel. Die hoeveelhede reën wat wel voorgekom het, is steeds nie genoeg om grondwateraanvulling toe te laat sodat goeie wortelontwikkeling kan plaasvind nie. Dit lyk egter asof swaarder neerslae oor Namibië voorgekom het wat sal help om weidingstoestande daar te stabiliseer en te verbeter.

Die vlakke van opgaardamme in die Somerreënvalgebied is steeds tussen ongeveer 50% en 75% vol (Gariep 76,9%, Vanderkloof 60,9%, Vaaldam 57,2%, Bloemhof 82,5% and Pongolapoort 44%). Damme in Lesotho (<30%) en in die Oos-Kaap het steeds kritieke lae watervlakke. Damme in die Wes-Kaap soos Theewaterskloof (60,9%), Clanwilliamdam met 36,5% en Bergrivierdam met 80% se vlakke is laag tot redelik goed maar gegewe die tyd van die jaar met die reënseisoen wat binne 3 tot 4 maande behoort te begin, is die vlakke aanvaarbaar en is daar nie rede tot ernstige kommer tans nie.

El Nino en Indiese Oseaan

Die meerderheid van die Nino-gebiede is steeds binne die neutrale reeks of net bokant die neutrale reeks maar gemiddeld binne die neutrale reeks. Voorspellings dui dat die neutrale fase van temperature in die Nino-gebiede behoort voort te duur vir komende maande tot ten minste die winter. Alhoewel dit baie vroeg is om werklik voorspellings te maak, is daar aanduidings van Neutraal (40% kans) of La Nina (40% kans) toestande vir 2020/21 met slegs ‘n 20% kans vir El Nino.

Die Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) wat ‘n maatstaf is van die koppeling tussen die oppervlaktoestande in die Nino-gebiede en die oorliggende weersisteme is ook in die neutrale reeks.

Die Indiese Oseaan Dipool (IOD) Indeks is ook neutraal en voorspellings dui dat die IOD ook in die neutrale reeks behoort te bly vir die komende maande.

Verwagte reënval en temperatuur

Somerreënvalgebiede

Reënval

Kort- tot mediumtermyn reënvaltoestande (Maart) is nou oor die algemeen negatief oor die grootste deel van die land en Namibië alhoewel daar dalk ‘n verbetering kan kom in die tweede tot laaste deel van Maart. Slegs ligte neerslae word verwag oor die sentrale tot oostelike dele in Maart met die Atlantiese hoogdruk wat domineer vanuit die weste en droë toestande veroorsaak.

Temperatuur

Die huidige voorspelling dui op ‘n redelike lae waarskylikheid vir vroeë ryp (<10%) voor die middel van April met ‘n ongeveer 20-30% om voor die einde van April ryp te kry. Die mees waarskynlike ryp datum is in die eerste twee weke van Mei.

Daar is ‘n bekommernis oor die gebrek aan hitte-eenhede met laer temperature wat die afgelope paar weke van Februarie voorgekom het maar met droër toestand wat verwag word in Maart behoort hitte-eenhede weer toe te neem alhoewel nagtemperature koel kan bly.

Winterreënvalgebied

Baie min reën word verwag vir die Winterreënvalgebied vir Maart en die grootste deel van April alhoewel daar reën moontlik is in die tweede week van Maart oor die Suidkaap se kusgebiede.

Namibië

Na ‘n paar weke van goeie reën oor groot gedeeltes van Namibië is die verdere verwagting vir reën vir Maart redelik negatief met die uitsondering van die verre noordelike gedeeltes waar ligte neerslae moontlik is.

Opsomming en gevolgtrekking

  • Minder reën as wat verwag is het oor die Somergraangebied voorgekom in die tweede deel van Februarie met die meeste reën wat gekonsentreer was na die westelike dele van die land en Namibië.
  • Droogteskade het begin voorkom aan die mielie-oes in die Oos-Vrystaat, gedeeltes van Mpumalanga sowel as gedeeltes van die noordelike dele van die Noordwes provinsie. Verdere droogteskade op veral jonger mielies word verwag met min reën wat verwag word vir die grootste deel van Maart.
  • Byna al die voorspellingsindekse soos ENSO (Nino-gebiede), Suidelike Ossilasie Indeks (SOI) en Indiese Oseaan Dipool Indeks (IOD) is ‘n neutrale fases
  • Vooruitsigte vir die Winterreënvalgebied is ook minder gunstig tot ten minste die laaste week in April.

Vrywaring: Die inligting vervat in hierdie verslag word op eie risiko gebruik en die opsteller/Santam of enige ander persoon/instansie genoem in hierdie verslag neem geen verantwoordelikheid vir die akkuraatheid of toepaslikheid/interpretasie van inligting vervat in hierdie verslag nie.

0

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment

0