Categories: Artikels, HulpbronbestuurPublished On: 5th April 2023

Halt haarwurm by kleinvee só

By 7 min read

haarwurm 1

Kleinveeboere kan sakke vol geld bespaar en hulle deel bydra om weerstandigheid by wurms aan bande te lê deur indiwiduele diere te doseer en te ent wanneer dit werklik nodig is. Baie kleinveeboere kla gereeld oor diere met sakke onder die keel, maar wat kriewel werklik binne jou diere?

Haarwurm (Haemonchus contortus) is ՚n bloedsuiende wurm wat bloed in ge­heel opneem, en nie net bloedplasma nie. Haarwurms is een van die parasiete wat van kleinvee se bloed lewe en wat dus bloedarmoede by kleinvee veroorsaak.

“Haarwurms kan met reg beskryf word as die stil sluipmoordenaar wat die parasitiese oorsaak is van die meeste skaapvrektes in Suid-Afrika,” verklaar dr Hanré Ferreira, veearts van Virbac Veemedisyne.

Dr Ferreira is ՚n veearts en kundige in die veld van parasiete, spesifiek haarwurm by kleinvee. Sy het haar meestersgraad in die navorsing en ontwikkeling van haarwurmentstowwe voltooi. Dr Ferreira het boere by ՚n onlangse boeredag oor die sluipmoorde­naar toegespreek.

Figuur 1: Die eiers wat saam met die mis uitgeskei word broei in gunstige omstandighede (vog en tempe-ratuur) uit (L1- en L2-stadium). Dit ontwikkel tot die besmetlike larwestadium (L3) wat teen die gras opklim en dan saam met die weiding deur die skape en bokke ingeneem word. Binne die dier ontwikkel dit na die L4- en daarna na volwasse stadium. Die volwasse wyfies lê eiers (tot 10 000 per wyfie per dag), wat weer in die mis uitgeskei word om die lewensiklus te voltooi. In gunstige omstandighede kan die siklus so kort as 21 dae wees. (Bron: Virbac)

 Agtergrond

“Eerstens moet ՚n mens die ongelooflike vinnige ontwikkeling van hierdie parasiet duidelik verstaan. Haarwurm is ’n bloedsuiende rondewurm. As dit warm genoeg is, broei die wurmeiers in die dier se mis uit. Larwes is op die weiding teenwoordig kort nadat die eerste goeie bui reën geval het. Dit is waarskynlik die inwendige parasiet wat in die somer­reënvalgebiede die grootste negatiewe uitwerking op skape en bokke het in terme van jaarlikse produksieverliese en vrektes,” verduidelik dr Ferreira.

՚n Skaap met ՚n kwakkeel.

Lewensiklus

Die wurmeiers het vogtigheid en hitte nodig om uit te broei. In optimale toestande duur dit vyf tot sewe dae vir die eiertjies om uit te broei en tot die besmetlike stadium te ontwikkel. Haarwurmbesmetting is dus veral ’n groot probleem in nat jare en op aangeplante, besproeide weidings waar groot veever­liese kan voorkom.

Dr Ferreira voeg by: “Die larwes word saam met gras ingeneem wanneer skape wei. Van daar af volg ՚n baie vin­nige ontwikkelingsfase in die skaap se melkpens waar die parasiete voed op die bloed van die maagwand. ’n Volwasse wyfie kan 5 000 tot 10 000 eiers per dag lê. Die haarwurmparasiet is bloedsuiend en 1 000 wurms kan 50 ml bloed per dag inneem!”

՚n Bok se oog word met die FAMACHA-metode ondersoek. Hierdie een is besmet en moet gedoseer word.

Simptome

Aangesien haarwurm bloedsuiend is kan dit ‘n groot negatiewe effek op die dier hê indien parasietgetalle drasties toe­neem. Die L4-stadium en volwassenes vestig hulle in die melkpens en die eerste gedeelte van die dunderm indien daar ‘n hoë besmetting is, en voed op bloed vanaf die maag- of dermwand.

Die slymvlies van ՚n gesonde skaap se ooglid behoort donkerrooi tot rooi van kleur te wees.

Die algemeenste simptome van haar­wurm by kleinvee is bloedarmoede, kwakkeel, lusteloosheid en dood in erge gevalle.

“Die skape raak bloedarmoedig, lusteloos en traag. Later kan diere so verswak dat hulle nie meer behoorlik kan wei nie, ontwikkel kwakkeel (nie alle gevalle nie) en vrek uiteindelik as gevolg van ՚n suurstoftekort aangesien daar te min rooibloedselle is wat suurstof dra,” verduidelik dr Ferreira.

Die vorming van sakke onder die keel, meer bekend as “kwakkeel”, kan verskeie oorsake hê. Die kwakkeel is as gevolg van die aansameling van vog. Dit is die direkte gevolg van bloedarmoede en verlies aan bloedproteïene wat deur groot getalle haarwurms veroorsaak word.

Een van die groot uitdagings wat boere in die oë staar, is ooie se melkproduksie wat daal. Dit veroorsaak dat lammers swakker groei. Die verswakte kondisie van diere kan tot verlaagde reproduksie lei.

In Engels staan haarwurm bekend as “barber’s pole worm” omdat die rooi streep om die lyf aan ՚n paal voor ՚n barbierwinkel herinner.

Hoe bepaal en moniteer jy besmetting?

FAMACHA

“Die FAMACHA-metode is baie nuttig vir die diagnosering van haarwurm by kleinvee. Die oogslymvlies word bekyk en geëvalueer volgens ՚n kleurkaart waarmee haarwurmbesmetting akkuraat gediagnoseer kan word. Skape en bokke wat gesond is en aangepas is om in har­monie met hulle bloedsuiende parasiete te leef, se slymvliese is rooi, en swaar besmette diere se slymvliese is wit.

“Die slymvlies van die ooglid behoort donkerrooi tot rooi van kleur te wees.

Sodra die kleur van die oogslymvlies onder ՚n sekere drempel daal (bleek word), moet daardie diere indiwidueel gemerk en behandel word,” sê dr Ferreira.

Haarwurms binne die pens. (Bron: Virbac)

Miseierontledings

“Die mees algemene metode, waarvoor ek baie ten gunste is, wat gebruik word om die teenwoordigheid en graad van besmetting te bepaal, is deur middel van ՚n miseiertelling. Gereelde miseierontledings kan as vroeë waarskuwing dien,” sê dr Ferreira.

Haarwurmbesmetting kan met ՚n nadoodse ondersoek bevestig word, mits dit binne 24 uur na dood gedoen word, daarna mag wurms nie meer sigbaar wees nie, en dan moet daar op miseier­tellings staatgemaak word om diagnose te bevestig. ՚n Besmette dier se melk­pens sal oortrek wees met haarwurms. Die haarwurms is ongeveer een tot drie sentimeter lange draadagtige wurms. In Engels is haarwurm bekend as “barbers pole worm” na aanleiding van die ken­merkende rooi spiraal om die lyf (sien foto’s).

Hoe word haarwurm behandel?

Met groot uitbrekings beveel dr Ferreira aan dat boere voor die voet moet doseer. In normale omstandighede wanneer vrektes voorkom moet boere doseer met ‘n doeltreffende doseermid­del; onder normale omstandighede kan net bleek skape gedoseer word. Dit is belangrik dat die doeltreffendheid van ‘n middel getoets word deur middel van miseiertellingreduksietoetse.

Dr Ferreira brei uit: “Veldbestuur speel ՚n belangrike rol om wurms te help bekamp. Wisselweiding moet toegepas word en ander diere soos beeste moet voor die skape in ՚n kamp gejaag word om die wurms op te tel. Dit is belangrik dat kampe lank genoeg moet rus om die wurmeiers en larwes genoegsaam te verminder voor die kamp weer bewei word. Die tydperk wat die kamp moet rus hang af van die temperatuur en humiditeit van die omgewing.

Vleie, lekkende trôe, damme waaruit water sypel en krale met gras daarin moet ten sterkste vermy word.

Wirevax, ՚n entstof wat boere help om haarwurmbesmetting in skape te beheer.

Wirevax, eerste entstof teen haarwurm in Suid-Afrika

Dr Ferreira was intensief betrokke om die haarwurm entstof in Suid-Afrika te toets.

Dr Ferreira verduidelik dat Wirevax die eerste entstof van sy soort in Suid-Afrika is wat geformuleer is om boere met haarwurmbesmettings te help. Sodra die dier ingeënt is, bou hulle teenliggaampies op om teen die haarwurmparasiet te veg, wat ook die voortplanting van die haarwurms voorkom.

Die entstof is gemaak van antigene afkomstig van die dermvoering van die parasiet. Sodra die dier ingeënt is, kry die die skaap ‘n immuunreaksie en ontwikkel teenliggaampies wat aan die dermvoering van die wurm bind en voorkom dat dit die bloed wat dit in­neem verteer en absorbeer. Die wurm vermaer dan en hou op eiers lê, later vrek dit ook.

Opsomming

Gebruik die FAMACHA-metode (weekliks in die piekwurmseisoen) om bloedarmoedige diere te identifiseer. Ge­durende die somer in die somerreënval­gebiede kan haarwurm ernstige gevolge hê. Gereelde ondersoeke van siek diere, nadoodse ondersoeke en misondersoeke stel die veearts in staat om op hoogte te bly met die voorkoms van parasiete en siektes in die streek en ook op indiwiduele plase, asook om die graad van besmetting te bepaal. Onthou, voorkoming bly altyd baie beter as genesing!

Vir meer inligting, kontak dr Hanré Ferreira by 083-695-6246.

Tags:

Deel hierdie artikel.

Leave A Comment