Suid-Afrikaanse mark bly van kritieke belang vir Deutz-Fahr

deutz
Deutz-Fahr se trekkers is gewild op plase regoor die land.
ʼn Bekende handelsnaam staan uit op enige plaas in Suid-Afrika, en Deutz-Fahr verstaan boere se behoefte om masjinerie te gebruik waarmee hulle vertroud is. By Smith Power Equipment se NAMPO Kaap-standplaas kon boere die volle Deutz-Fahr-reeks uittoets.
Dirk Meiring, verkoopsbestuurder by Smith Power Equipment Deutz-Fahr, sê: “Die mark het ons baie goed aanvaar, want ons bied ’n fabriekswaarborg van twee jaar of 2 000 uur. Dis ’n bekende handelsmerk; almal ken die groen!”
Vroeër vanjaar het Deutz-Fahr besluit om sy hele trekkerreeks aan Suid-Afrikaanse boere beskikbaar te stel. “Van die kleiner trekkers van 45 perdekrag tot die groter modelle van 340 perdekrag; almal is geskik vir boere se behoeftes. Ons kyk wat jy nodig het en gee vir jou die regte trekker vir die regte toepassing.”Dirk verduidelik dat die mark vir hoërperdekragtrekkers in Suid-Afrika ’n meer geleidelike groeitempo toon as in die verlede, hoewel daar steeds duidelike belangstelling in hierdie segment bestaan

Die maatskappy het nou sy volledige trekkerreeks na Suid-Afrika gebring.
Trekkers staan nie lank stil nie
Dirk sê ook dat die Suid-Afrikaanse mark uiteenlopend is. Trekkers soos die 5125, ’n middelklastrekker, vaar goed. Dié trekker lewer 126 perdekrag en het ’n gemaklike kajuit vir die bestuurder se gerief.
“Die boordtrekkers, soos ons 75 FK-reeks, is baie goed geprys en vaar veral goed hier in die Kaap. Hulle is klein genoeg en het ’n 15-by-15-transmissie vir vorentoe en agtertoe; dit is juis ideaal vir spuitwerk!” beklemtoon Dirk.
Hoewel die verkope van groter trekkers uitdagend kan wees, verduidelik hy dat ’n model soos die 6205, wat 205 perdekrag lewer, besonder gewild is onder boere wat ’n trekker vir uiteenlopende take soek.
“Hy is reeds met outomatiese stuur toegerus, sodat hy vanself in ’n reguit lyn op ’n boer se landery kan bly. Hy het ook ’n geslotesentrum-hidrouliese stelsel, kan planters trek en dan hidrouliese motors aandryf.”
Besoek www.smithpower.co.za om meer oor Deutz-Fahr se volledige trekkerreeks en die handelsmerk se uitmuntende produkte te leer.