Grasse van Suid-Afrika deel 2: Veldbestuur, veldbrand, plantopvolging, soet- en suurveld en veldherwinning
Gras is goeie aanduiders van veldtoestand. Dit is vanselfsprekend dat gras ՚n belangrike rol in veldbestuur speel. Dit word ook gebruik om weidingskapasiteit en ekologiese status te bepaal, aangesien die weidingswaarde van verskillende grassoorte verskil.
Weidingskapasiteit is die aantal grasvreters wat op ՚n stuk veld kan wei sonder dat die veld agteruitgaan. Grasse word gegroepeer volgens hoe hulle op verskillende vlakke van beweiding reageer. Dit word ekologiese status genoem. Wanneer ՚n stuk grond bewei word, kan dit daartoe lei dat die hoeveelheid gras toeneem of afneem.
Hiervolgens kan grasse in vyf groepe ingedeel word:
- Afnemers: Dit is wanneer gras volop groei in ՚n goeie veld, maar afneem wanneer dit oorbewei word. Hierdie tipe gras lok gewoonlik grasvretende diere.
- Toenemer 1: In hierdie kategorie val grassoorte wat in onderbenutte veld voorkom. Die gras is sterk en onsmaaklik.
- Toenemer 2: Hierdie tipe gras kom voor in oorbeweide veld en neem toe wanneer oorbeweiding plaasvind.
- Toenemer 3: Gras wat in hierdie groep val, groei in oorbeweide veld. Dit is onsmaaklik en groei dig. Soos wat ander, smaakliker gras afneem met oorbeweiding, neem hierdie grasse oor.
- Indringers: Dít sluit in alle grasse wat nie inheems is aan die gebied waar dit groei nie.
Die vraag is dan nou hoe die toestand van ՚n veld bepaal moet word. Loop in die veld en identifiseer elke paar tree die gras. Om ՚n persentasie te bereken is dit die maklikste as jy die gras op 100 punte identifiseer. Werk dan uit hoeveel persent van die gras is in elk van die bogenoemde groepe. Dit word dan gebruik om te bepaal of die totale veld oorbewei, onderbewei of gesond is.
Veldbrande
Veldbrande kan báie goed of báie sleg wees. Dit kan gebruik word vir veldbestuur, maar as dit onverantwoordelik of verkeerd gebruik word, kan dit baie slegte nagevolge hê. Veldbrande is goed, selfs partykeer noodsaaklik, om ՚n veld gesond te hou. Dit is veral die geval in veld wat onderbewei is. Die brande word gebruik om van ou, opgehoopte organiese materiaal ontslae te raak en om seker te maak bosindringing vind nie plaas nie.
Die ideale tyd om jou veld te brand, is net na die eerste reën van die seisoen. As jy te vroeg brand, kan die wind al die waardevolle voedingstowwe, wat dan in die vorm van as is, wegwaai. Die gras sal verder verswak as dit te lank sonder water moet klaarkom. Moenie buite seisoen brand om groen weiding te kry nie. Moet ook nooit ՚n veld wat in ՚n swak toestand is of wat in ՚n laereënvalgebied is brand nie. As jy ՚n veldbrand stig om van oortollige organiese materiaal ontslae te raak, is dit die beste om dit op ՚n koel dag te doen. Dit verseker dat die vuur nie te warm is en te veel skade aan graspolle veroorsaak nie.
՚n Warm vuur is egter nodig as jy brand om van indringers ontslae te raak. Brand dan op ՚n warm dag met lae humiditeit. Baie warm vure op winderige dae is gevaarlik, aangesien die vuur gou buite beheer kan raak.
Ná ՚n veldbrand moet die gras rus totdat dit minstens 100 mm lank gegroei het. Wees versigtig vir oorbeweiding, aangesien die nuwe gras ekstra smaaklik vir grasvreters is.
Plantopvolging
Plantopvolging is die opeenvolging van plante in ՚n gebied, waar die plantegroei met elke geslag verbeter. Dit word gebruik om te poog om die hele veld met plantegroei te bedek. ՚n Nuwe plantgemeenskap wat beter aangepas is by die omgewing vorm wanneer daar iets soos ՚n veldbrand plaasvind. Hierdie vooruitgang vind plaas tot ՚n klimaksgemeenskap gevestig is. As daar op hierdie punt weer ՚n versteuring soos ՚n veldbrand plaasvind, keer die gras terug na die oorspronklike toestand (pionierstadium).
Daar is drie stadiums wat plaasvind tydens plantopvolging:
Die pionierstadium
Die pionierstadium is die stadium waar eenjarige plante gehard is en onder uiterste toestande kan groei. Dit is gewoonlik plante met goeie saadverspreidingsvermoë. Soos wat die eenjarige plante die groeitoestande van die veld verbeter, begin meerjarige grasse groei. Die meerjarige grasse is sterker en druk uiteindelik die eenjarige grasse uit.
Die subklimaksstadium
Ná die pionierstadium volg die subklimaksstadium. Plante wat in hierdie stadium groei is dig en beskerm die grond. Daar is meer vog beskikbaar en meer organiese materiaal op die grondoppervlak. Grasse wat in die subklimaksstadium groei leef gewoonlik twee tot vyf jaar. Soos dié groeistadium sy einde bereik, neem klimaksgrasse oor.
Die klimaksstadium
Tydens hierdie stadium groei meerjarige grasse. Dit is grasse wat sterk is en aangepas is by normale groeitoestande. Solank die toestande dieselfde bly, hou die grasse aan groei. Meerjarige grasse is so sterk dat dit selfs wind-, son- en verspoelingbestand is. Hoe lank ՚n groeistadium is, hang af van reënval, bogrondverlies, weidingsdruk, beweiding en brand.
Soet- en suurveld
Glo dit of nie, maar grasvreters kan ook lekkerbekke wees! Soet- en suurveld verwys na hoe smaaklik gras vir die vreter is. Soetgras verwys na smaaklike gras en suurgras na ՚n onsmaaklik veld.
Suurveld
Suurveld kom voor in gebiede met hoë reenval en koue winters. Die baie reën oor ՚n lang tydperk veroorsaak dat die grond arm is, ՚n lae pH het, ՚n tekort aan voedingstowwe het en dus onsmaaklik is. Tydens droë seisoene word voedingstowwe uit die plant se blare onttrek en in die wortels geberg. In wintertye is die gras dus nog armer aan voedingstowwe en ekstra onsmaaklik. Suurveld kom gewoonlik voor in hoogliggende gebiede met swaar ryp. Dit kan matige oorbeweiding verdra en grasbedekking is goed. Die herstel van smaaklike grasse is baie stadig.
Soetveld
Soetveld kom voor in gebiede met lae reënval en matige winters. Omdat die reënval laer is, verloor die grond nie soveel voedingswaarde nie en is meer vrugbaar. Die gras wat daar groei is dus vol voedingswaarde en smaaklik vir die vreters. Die gras is selfs deur die winter smaaklik, omdat die voedingswaarde nie onttrek word om in die wortels geberg te word nie. Lae gebiede met byna geen ryp nie is perfek vir soetveld. Omdat die klimaat droër is en grondbedekking yl is, is die gras sensitief vir oorbeweiding. Die weiding wat dit produseer is min, maar van baie goeie gehalte.
Gemengde veld
Gemengde veld kan voorkom en bevat kenmerke van sowel soet- as suurveld. In hierdie velde kom soetgras voor in gebiede wat meer beskut is en suurgras in die oop gebiede.
Veldherwinning
Veldherwinning gaan daaroor om verswakte veld te herwin deur die natuur by te staan. Om veldherwinning doeltreffend te maak, moet dit bygestaan word met verbeterde weidingspraktyke. Veldagteruitgang in Suid-Afrika sluit gewoonlik in kaal kolle, erosieslote en bosindringing.
Kaal kolle
Kaal kolle, ՚n verlies aan bogrond en ՚n harde grondkors is alles kenmerke van ՚n verswakte veld. Om hierdie probleem te oorkom, moet ‘n mens die harde kors van die grond breek, waterindrin-ging verhoog en so plantegroei verbeter. Dit kan op verskeie maniere gedoen word. Van die metodes wat gebruik kan word is om ՚n tandploeg te gebruik om die bogrond te breek, kontoerlyne van klippe te maak om die afloop van reënwater te vertraag, takke op kaal kolle te pak om saailinge te beskerm teen elemente, en diere met hoewe te gebruik om die grondkors te breek.
Erosieslote (dongas)
Erosie kan verminder word deur gebruik te maak van erosieslote. Om dit te doen, kan ՚n mens gebruik maak van klippe, klipmandjies, bande, stompe en beton. Die doel van erosieslote is om die water stadiger te laat vloei en om plantegroei in slote te bevorder.
Bosindringing
Bosindringing vind plaas as gevolg van oorbeweiding, te min veldbrande en te min blaarvreters. As gevolg van hierdie wantoestande oorleef meer jong bome en die hoeveelheid saad wat geproduseer word neem toe. Die beste manier om bosindringing te bekamp, is deur fisies plante te verwyder of deur chemikalieë. Grasse is besonder doeltreffend in veldherwinning. Dit help byvoorbeeld om die bogrond gou te stabiliseer. Dit verbeter ook die grond deur smaaklike grasse te vervang waar dit verlore gegaan het deur oorbeweiding. Strooi saad van grasse wat plaaslik voorkom en ՚n mengsel van grassade om die kans op langtermyn sukses te verbeter.
Bron: Van Oudtshoorn, F. (2012). Gids tot Grasse van suider-Afrika. (3de uitgawe). Briza Publikasies.
Frits van Oudtshoorn is ‘n weidingskonsultant en kan gekontak word by 078-228-0008 of frits@alut.co.za.