Geskatte mielie-oes 38% groter

mielies dekalb
Die grootte van die verwagte kommersiële mielie-oes is op 15,589 milj. ton gestel, wat 2,42% of 367 890 ton meer is as die vorige skatting van 15,222 milj. ton. Die skatting van die oppervlakte onder mielies is 2,611 milj. ha, terwyl die verwagte opbrengs 5,97 t/ha is.
Die geskatte mielie-oes is 38% groter as die 2019-oes. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, nl. die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes-provinsies, gaan na verwagting 84% van die 2020-oes produseer.
Die oppervlak onder witmielies is 1,616 milj. ha en vir geelmielies is die oppervlak 994 500 ha.
Die produksieskatting van witmielies is 9,075 milj. ton, 3,36% of 295 390 ton meer as die 8,779 milj. ton van die vorige skatting. Die opbrengs van witmielies is 5,61 t/ha. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 6,514 milj. ton, wat 1,13% of 72 500 ton meer is as die 6,442 milj. ton van die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 6,55 t/ha.
Die opbrengs-bepaling per ha vir die Vrystaat en Noordwes-provinsies is gebaseer op wetenskaplike en objektiewe resultate verstrek deur die LNR.
Sonneblomsaad: Die produksieskatting vir sonneblomsaad is verhoog met 4,75% of 34 750 ton na 765 960 ton. Die oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 500 300 ha, terwyl die verwagte opbrengs 1,53 t/ha is.
Ander gewasse: Die produksieskatting van sojabone is onveranderd gelaat op 1,291 milj. ton. Die geskatte oppervlakte beplant van sojabone is 705 000 ha en die verwagte opbrengs is 1,83 t/ha.
Die verwagte grondbone-oes is ook onveranderd gelaat op 62 470 ton. Vir grondbone is die oppervlakteskatting 37 500 ha, terwyl the verwagte opbrengs 1,67 t/ha is.
Die produksieskatting van sorghum is 135 685 ton, wat 2,30% of 3 200 ton minder is as die 138 885 ton van die vorige skatting. Die oppervlakteskatting vir sorghum is 42 500 ha, en die verwagte opbrengs is 3,19 t/ha.
In die geval van droëbone is die produksieskatting 71 050 ton wat 0,46% of 330 ton minder is as die vorige skatting. Die oppervlakte beplant met droëbone is 50 150 ha, en die verwagte opbrengs is 1,42 t/ha.
Nie-kommersiële mielies
Die voorlopige oppervlakte beplant met mielies in die nie-kommersiële landbousektor word geskat op 297 460 ha, wat ’n effense toename van 0,49 % verteenwoordig in vergelyking met die 296 000 ha van die vorige seisoen. Die verwagte mielie-oes van dié sektor is 543 545 ton, wat 1,03% minder is as die 549 180 ton van die vorige seisoen. Dit is belangrik om daarop te let dat ongeveer 40% van die mielies wat geproduseer word in die nie-kommersiële sektor, in die Oos-Kaap geplant word, gevolg deur KwaZulu-Natal met 27%.
Die vyfde produksieskatting vir somergewasse vir 2020 sal op 25 Junie 2020 vrygestel word.
Bron: Oesskattigskomitee